’n Gedenkwaardige resensie

  • 0

Hier waar ek woon, skuins anderkant Val-de-Grace, is daar nog baie ou wit mans. Van die soort wat “Nee” gestem het in die apartheidregime se laaste referendum. Mans wat hulself marginaliseer omdat hulle so pertinent terugverlang na die slegte ou dae, pre-FW.

Maar veralgemenings het die manier om jou sit-sit-so te belemmer. Ou mans is nie almal só nie, as ek Jeanne Goosen se insigte mag misbruik. Ek dink vandag aan twee van hulle.

André de Ruyter is miskien nie danig oud nie. Hy sal sekerlik nie stry dat sy Eskom-dae hom jarre laat ouer word het nie. Hy is die skrywer van die boek van die jaar, Truth to power: my three years inside Eskom. Die boek wat in besonderhede die aard van die Suid-Afrikaanse malaise beskryf. Naas Jacques Pauw se The President’s keepers (2017) die mees indringende poging om aan buitestanders te verduidelik hoe die helde van Mandela se reënboognasie opsygeskuif en deur skollies vervang is.

Die ander ou wit man is Johann Kriegler. Juris van faam, verteenwoordiger van die beroep waarop soveel Suid-Afrikaners hul hoop plaas dat hulle die land van die stropers sal red en Waar- en Waaragtigheid weer op alle terreine in ere sal herstel.

Johann Kriegler se resensie van Truth to power (Rapport Boeke) is sonder vrees van teenspraak die belangrikste boekresensie wat in baie jare in Suid-Afrika verskyn het, bestem om in die jare en dekades wat kom, in dieselfde asem as Eskom en De Ruyter genoem te word.

.........
Johann Kriegler se resensie van Truth to power (Rapport Boeke) is sonder vrees van teenspraak die belangrikste boekresensie wat in baie jare in Suid-Afrika verskyn het, bestem om in die jare en dekades wat kom, in dieselfde asem as Eskom en De Ruyter genoem te word.
..............

Ek het al in die verlede my agting vir Kriegler uitgespreek en gaan nie nou weer alles herhaal nie. Wat wel vermelding verdien, is die manier waarop hy sy resensie uitgevoer het as reaksie op sowel die boek as die skrywer daarvan binne ’n spesifieke konteks. Uit Pravin Gorhan se reaksie op die boek het mens gesien hoe maklik dit is om ’n ad hominem-verweer te gebruik. Kriegler ontmasker Gordhan – kon eintlik nie anders nie, want Kriegler se uitgangspunt is juis dat ’n boek soos De Ruyter s’n mens dwing om op slegs die feite te reageer.

Uit sy resensie-oeuvre weet ons dat Kriegler veral lief is om die samehang (intellektueel én informatief) van die boek onder bespreking as aanknopingspunt te gebruik. Wanneer jy sy resensies lees, is dit dikwels moontlik om te sien wat die relatiewe belangrikheid van die onderhawige geskilpunt is.

Hierdie keer (moontlik omdat hy ingesien het dat Eskom “’n mikrokosmos van ons land” is) word die raamwerk van die resensie nie deur die publikasie alleen bepaal nie, maar ook deur die land en sy mense in die tyd waarin die publikasie geskied het. Dit gaan oor die land, dit gaan oor die mense wat positief en negatief deur ’n publikasie soos hierdie geraak word – en dit gaan veral oor die invloed van die boek.

Natuurlik bespreek hy die boek. Hy is nie onbewus van gebreke nie, en noem hulle naas die oorweldigend goeie aspekte.

Maar wat hy briljant doen, is om ook die integriteit van die owerheid se reaksie op die boek te betrek. Hou mens in gedagte dat niemand in president Ramaphosa se kabinet, sy party of sy goegemeente nog enige foute in die boek met vers en kapittel kon uitwys nie, en dat die fifth estate met hul hordes botte hulself in oneer gedompel het met hul reaksie op die boek, is Kriegler se vernietigende kommentaar op diegene in die media en die politiek wat hul blind staar teen ’n veiligheidsverslag wat net in 10% van De Ruyter se relaas betrek word, van wesenlike belang wanneer mens nagaan hoe Kriegler sy argumentering rig.

Kriegler sê dit nie, maar vir my is die implikasie dat bitter min van die boek en De Ruyter se skerpste kritici Truth to power gelees het. Kriegler het. Daarom kon hy hierdie gedenkwaardige resensie skryf.

Van De Ruyter sê hy “hy is kennelik geloofwaardig”. Pravin Gordhan, Gwede Mantashe en die SAPD in Mpumalanga, onder andere, tree nie ongeskonde uit die boek óf Kriegler se bespreking nie.

Omdat sy resensie in wese ook ’n verslag is van ons omstandigheid, van die staat en sy meelopers se onvermoë om lesse uit ’n kritiese publikasie te leer , is dit ook ’n epogmakende skrywe wat tot in lengte van die dae belangrik sal bly vir enigiemand wat nodig het om te weet waar die gevrot was, en wie té lamsakkig of agterbaks was om die Eskom-dilemma aan te spreek.

André de Ruyter se boek is ’n historiese dokument; Johann Kriegler se bespreking daarvan staan daarnaas as baken van persoonlike en joernalistieke integriteit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top