'n Fontein voor ons deur deur Marita van der Vyver

  • 0

Title: 'n Fontein Voor Ons Deur
Author: Marita van der Vyver
Publisher: NB Uitgewers
ISBN: 9780624064305

 

Koop 'n Fontein Voor Ons Deur by Kalahari.com.

 

Provence – sedert Peter Mayle in 1989 sy A year in Provence gepubliseer het, en dit later ook in ‘n televisiereeks verwerk is, het dié Franse landstreek – wat vir die meeste Afrikaanse lesers “eksoties ver en verleidelik klink” (10) – begin om buitelanders te lok. En gelukkig vir ons as Afrikaanse lesers woon Marita van der Vyver ook daar en deel sy haar wedervaringe van die lewe in Frankryk op onderhoudende en selfspottende wyse.

Nes Mayle in die tagtigerjare uitgelewer was aan die burokrate en die eiesinnige werksmanne, net so tref ons hulle bykans 20 jaar later steeds aan, maar hierdie keer in Marita van der Vyver se versameling essays oor haar en haar Franse man se besluit om hul huis te verkoop en ‘n nuwe te restoureer. Plus ça change, plus c'est la même chose.

Ten spyte daarvan dat sy indertyd met ‘n jong seun moes verhuis na die vreemde en by die nuwe kultuur en lewenstyl moes aanpas, was hierdie huiskopery vir haar ‘n heel nuwe vorm van beproewing:

Maar net toe ek dog nou gaan niks in hierdie vreemde land my ooit weer laat uitmekaarval van moedeloosheid nie, toe besluit ons om ons huis te verkoop. En nou val ek van nuuts af uitmekaar. Aanmekaar. (12)

Deurgaans kry die leser ‘n blik op Van der Vyver se aanpassing in “hierdie vreemde land”, waar haar skoengrootte die Franse afskrik, sy moes leer wie om wanneer op watter wang te soen, dat die Franse die meeste aan ipekonders ly in Europa, en dat om kaalvoet op straat te loop gelykstaande is aan die ergste graad van selfontbloting. Selfironiserend is sy bly dat sy in Provence “’n holte vir [haar] hart kon vind” (46), maar dat sy nie voorbereid was op die ergste sneeustorms en hoe om daagliks in die sneeu te moet leef of bestuur nie. Dis egter ook in Provence dat sy in Franse kookkuns begin belangstel het, en dit het gelei tot ‘n kookboek (saam met haar man) en ‘n televisiereeks oor Franse kookkuns.

Soos ‘n goue draad loop die kwessie van aanpassing, aanvaarding en kulturele wisselwerking deur die tekste in hierdie bundel. Die resep daarvoor is, volgens haar, “verdraagsaamheid en aanpasbaarheid … Bo en behalwe die reeds genoemde humor en hare op jou tande” (96).

As Afrikaanssprekende buitestander en skrywer in Afrikaans kan Van der Vyver goedig spot met haar bure en die inwoners van Kerkstraat – ja, lyk my elke dorp het sy Kerkstraat. Ook skaar sy haar by die buitestanders in Frankryk – die Marokkane, die Nederlanders en die Britte.

Kenmerkend spot sy goedig met hierdie toestand van kulturele verwardheid:

Moi , ek is ‘n Boeremeisie met net genoeg flair om die Franse te kul om my te aanvaar. Maar ek vóél nie Frans nie. Het nog nooit nie, sal seker nooit nie. (126)

Aangesien sy jaarliks heenreis na Suid-Afrika, behou sy die skakel met haar wortels en kan sy vir die leser kontraste tussen die twee lande se kulture uitwys, soos onder meer dat die Franse nie ons Angel-Saksiese tradisie van matriekafskeide najaag nie. Ewe intrigerend is die tradisie van die ouer Franse vroue wat hulle deur op Nuwejaar net vir ‘n viriele jongeling oopgooi om sodoende nog ‘n jaar, gevul met sy energie, binne te gaan.

Terug by Mayle. Lees mens van die probleme waarmee hy en Van der Vyver gekonfronteer word wanneer hulle huis opsit (elektriese bedrading wat nie werk nie, mure te dik vir telefoonkabels, rotteplae en wie die lyke moet verwyder, ens), dan wonder mens: Is dit regtig so? Is alles nie maar net die versinsels van ‘n kreatiewe gees onder die blou lug van Provence nie? In die openingsessay besin Marita van der Vyver self hieroor:

Dit gaan oor my en my gesin (wat regtig bestaan) se lewe op ‘n Franse dorpie (wat regtig bestaan) en dat alles waaroor ek skryf, regtig met ons gebeur het. (Glo dit of nie.)

Wel, natuurlik het alles nie altyd presies gebeur soos ek dit beskryf nie. Enige skrywer weet tog ‘n bietjie oordrywing kan ‘n sappige storie net sappiger maak.

… basies is hierdie boek nie ‘n “opgemaakte” storie nie. Basies beskou ek dit as niefiksie. (8)

Hierdie storie van die gesin op die Franse dorpie sal Van der Vyver se aanhangers behaag, nes sy voorganger, Die hart van ons huis (2004), wat ook in Engels beskikbaar is. Maar die leser word ook gewaarsku om nie onnodige pelgrimstogte na haar te onderneem nie (134). En vir diegene wat nie hou van haar skryfstyl of haar deernisvolle gespot met haar eie lyf, haar gesin, haar dorpenaars of haar ontluistering van die “Provensaalse legende van laventel en pastis” (11) nie, het sy ook die volgende raad:

Lesers wat nie van my boeke hou nie, sal dit nie nodig ag om my persoonlik aan te val nie; hulle sal bloot ‘n ander skrywer se boeke lees. (86)

As leser wat wel van haar boeke hou, sien ek uit na haar verdere vertellinge oor haar en haar man se doen en late in Frankryk, veral noudat die leë-nes-sindroom gaan inskop.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top