Die afgelope naweek was ons dorp se jaarlikse Plaasfees. Amper soos ‘n kerkbasaar by ‘n gemeente, maar net groter. Hamburgers, hotdogs, slap en stywe tjips, boereworsrolle, kerriekos en - afval, poedings, terte, pannekoek en speletjies vir die kinders. Uitstalgoeters en trekker en-ponieritte. Groot pampoengewigraai pryse, mooiste meisies; klein en groter, koeltebome, hooibale en kuiertente en –tafels. ‘n Fees soos ‘n fees moet wees. O ja, daar is darem wynverkope ook. Die jonges soek dalk ‘n koue germaanse bruisdrankie, maar dié van ons wat al slimmer is, weet dat wanneer jy meer ys as wyn in die glas sit, jy die koudste wingerdstoksappies denkbaar kan geniet.
Na ek my wandelinge deur die stalletjies en die gronde gemaak het en ‘n bekende of twee gegroet het, het ek my, in teenstelling met elke Plaasfees vantevore en by die gebrek aan enige ander verpligting, by ‘n viermantafeltjie onder die grootste akkerboom op die gelykste moontlike plekkie sitgemaak. Hiervandaan kon ek die arendsig op die Plaasfees begin geniet. En ja, na so ‘n rukkie se stilwees, kon ek ook die gedagtes met ‘n heerlike yswyntjie afwissel.
Mense met wie ek lanklaas en selfs nog nooit mee gesels het nie, het daar by my en my viermantafeltjie kom aansluit. Hulle wou gesels oor die kinders en die dag en die groot pampoene. 410kg se pampoen. Ons het indiepte die pampoenresepte en volumes probeer kwantifiseer, maar aan die einde van elke gesprekspoging moes ons tot die slotsom kom: nie een van ons sou so ‘n monsterpampoen wil hê nie; en indien ons die ding moes wen, ons dit beslis nie gaar sou kry nie. Want dit is tog menslik verstaanbaar dat geeneen van ons of selfs diegene wat ons ken, ‘n pot groot genoeg vir ‘n 410kg pampoen besit nie! Met die een eenstemmigheid afgehandel, kon ons nog ‘n yswyntjie skink en die gesprek na die Kerrie-afval laat oorskuif. ‘n Mater wat tussentyds kom aansluit het, vertel dat hy die afval sal laatstaan vir vandag, maar wel die lamsbredie sal probeer. Blykbaar eet hy net afval wanneer ek dit kook. Dit is eintlik vir my selwers ook waar. Ek koop en eet swaar aan ‘n ander man se afvalkookkos. Behalwe natuurlik as ek gehelp het om dit skoon te maak. Afvalkook is soos heelhoendertjie gaarmaak; beide moet silwerskoon wees voor dit pot, oond of rooster toe gaan en in beide gevalle, verkies ek om dit self te doen.
So tussen die sit en die sit-en-niksdoen, het daar stil gedagte oomblikke tussen die mense se gesels by my ingetrek. Dit is nogal iets wat ek al meer en meer gereeld regkry; die stille afsondering van my gedagtes ongeag van waar en saam met wie ek is. Soms het karwas en tuinnatspuit ‘n mediteringswaarde. Iedergeval, daar waar ek onder die boom ‘n arendsig op die meeste van die loopvlak van die Plaasfees het, kon ek my verkyk en verdink aan al die mense wat verbygaan. Sonder om die onbekende naastes te na te kom, is dit met redelike sekerheid dat ek die beperkte afleiding durf maak, dat baie van ons dorpenaars vir eens en moontlik vir altyd, hul min-eet-steurnis-siektes oorwin het.
Terwyl ek rustig my arms net-net oor my buikie vou, is dit vir my ‘n trotse oomblik wanneer ek besef dat ek inderdaad skraler is as sommige van ons mense. Natuurlik net nie mooier nie. Dit is dan ook gewis so dat sekere moeders se dogters beslis mooier as ander s’n is. Die ander meer opvallende waentjiestorie, is die klomp jonges wat swanger is. Onwillekeurig en hopelik onbepland, het ál wat ‘n swangerdame is voor my op die grondpad verby gestap. Party van die tannies se naeltjies staan so penorent, dit smaak vir my of die lang stofpad nou enige oomblik sy tol gaan eis. Ander weer, is die sierlike prag vanself. Behalwe vir die strategiese muskietbytknoppie in die laer-middellyf, sou mens die dametjies eerder by ‘n modevertoning as hier by ‘n fees verwag. My hart se beste wense vergesel hul elkeen; binnekort gaan geen Revlon-produk die sakkies van min slaap sondermeer wegtoor nie!
Toe ek teen die skuinste van die westeson aanstap kar-toe, het ek gesorg dat ek hierdie Plaasfees behoorlik sal onthou. Ek het vir my ‘n ekstra ongehoudte Chardonnay en yssakkie onder die blad gesit, om Sondagmiddag in die kalmte van ons gesinsete te gaan geniet; want iedergeval het ek nie vanaand lus vir nog wyn nie.
In hierdie dae, en in sommige gevalle dekade, van onsekerheid oor enige-iets en alles onder die son, is dit lekker om mense so te sien ontspan. Hier kon ons nou vandag net rondloop, of soos in my geval, rondsit en die fees geniet. Amper soos dit was toe die Kaapse Skou daar in Goodwood ‘n jaarlikse instelling was. Jy het nie jou beste sondagklere soontoe aangetrek nie, want die plek was stowwerig. Jy het ook nie sóveel omgegee of die hotdog-tannie se hande skoon was en of die rooiworsie waterbok, vark, lewer en long bevat het nie. Ons het dit net geniet. Van sewe-uur se kant af op die Saterdagaand van die skou, kon jy die “stockcars” en die “hotrods” hoor opwarm. My Pa het later jare gesê dat van die manne op hul knapste bestuur het wanneer hy so effens meer petrol as sy V8 gevat het. Die grootmense het altyd op die onderdak pawiljoen gesit en die ouer tieners op die oop hout pawiljoene. Hier kon hulle, deur die sparre van die hoenderstellasie, die vooraf gemengde brandewyn-en-coke skelmpies vir hul maters langs die ovaal stofbaan aangee. Daarna, het hulle met ‘n skuldige gesig by die kaartjiekantoor verbygegaan sitplek toe. Ek hou nie juis van brandewyn nie; selfs nie eens vandag nie.
Ons tieners het met glasogies na Februarie-maand begin uitsien, want dit was die amptelike kys-maand. Tussen ons vriende was daar ‘n ongemaklikheid oor die ou wat nie ‘n “girl” vir die skou gevra én gekry het nie, want hy was tog maar die “chopper” se derde wiel. Maar ongeag daarvan, het ons steeds niemand weggewys nie en kon ek ook daai Februarie in standerd nege meisieloos by die groep aansluit.
By vanjaar se fees was ek nie meisieloos nie en my eie tienerseuns (jongmanne) het die fees op hul gesonde manier geniet. Ek verlang lankal nie meer na die Kaapse Skou nie, maar ek sien wel uit na die volgende fees saam met my mense.
Groete.
Hennie Fritz

