'n Bundel waarin jy jou tande kan slaan: Jaekel Strauss se kortverhaaldebuut bied véél om te geniet en te bewonder

  • 0

Maal
Nicole Jaekel Strauss
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795800177
Prys: R175.00

 

 

I

Elke Kersseisoen val dit my op hoeveel aandag en moeite daar aan verpakking bestee word. Selfs die allergewoonste ding word byna onherkenbaar verfraai en vir ’n klein fortuin te koop aangebied. Die vere maak egter nie altyd die voël nie – soms is die inhoud maar effe teleurstellend. Dikwels moet jy bedroë toekyk hoe jou aanvanklike verwagtings saam met die blink papier en versierings in die vullisdrom verdwyn.

Ook boeke word – nie net tydens die Kersseisoen nie – op allerlei slim maniere “verpak”. Treffende voorblaaie, interessante verhaalopsommings en vleiwoorde deur medeskrywers word byvoorbeeld gebruik om die begeerbaarste “produk” moontlik daar te stel.     

Hoewel die bonkige lettergebruik op die voorblad van Nicole Jaekel Strauss se kortverhaaldebuut MAAL onmiddellik die oog trek, is dit veral die “lofuiting” deur die kortverhaalmeester Abraham H de Vries op die agterblad wat die aandag trek en gróót dinge beloof:

Wat my Nicole Jaekel Strauss se MAAL nie kon laat neersit het nie, is die skrywer se verrassende keuse van karakters en vertellers. Las nou nog daarby die aandag aan detail in elke verhaal, ’n vertelwyse wat herinner aan die pointillisme in die skilderkuns: uit die magdom klein besonderhede groei patrone wat – soos gewoonlik in die kortverhaal gebeur – aan die stories, byvoorbeeld oor ’n gewone huispartytjie, ’n onverwagse wending gee. MAAL is in die ontwikkeling van die kortverhaal ’n besonder belangrike debuutbundel – een van die bestes van die afgelope dekade.

Begin jy egter aan die dertiental kortverhale in dié bundel lees, besef jy baie gou dat daar in hierdie geval geen sprake van misleidende reklame of verraderlike verpakking is nie. Die verhale wat in MAAL opgeneem is, sou selfs sonder die omslag (én De Vries se vleiende woorde) beïndruk het.

II

In die verhaal “Bestemmings” merk een van die vier vertellers, ’n Venesiese gesellin met skrywersaspirasie, die volgende oor die skryf van stories op:

Partykeer voel dit vir my ek kan sien hoe die stories uit die stad self sypel – uit die stukkende dreingate, die dampe van vaporetto’s, die stink parfuum van opgetofte vroue aan die sagte hande van ryk mans, in die piskolle van honde, die knoffel in restaurante, die profiele van palazzo’s, die halfvrot kanale, die outomatiese glasdeure van hotelle – wat soms oopmaak en dan is daar niks aan die ander kant nie. Tussen die tamatie- en bessie- en perskehope op tafels, die skubbe en visreuke en bloederige vissersvingers van die merceria, uit skilderye se wawyd oop monde, die rook van kerse in katedrale, die suur sweet van toeriste, die gille van kinders, die ligte wat tussen toegemaakte hortjies deur skyn, waterdruppels teen vensters, die gekletter van messe en vurke. Tussen die pastalinte en in die halfmaanskulpe van spaghetti alla vongole, die geroep van meeue en gondeliers, die fyn haartjies van malvablare op vensterbanke waar die geluide van die binnekant van die huis kom sit, asof dit die ewe fyn haartjies van ’n oor is. (141-142)

Hierdie opmerking kan egter ook as tekenend beskou word van Jaekel Strauss se bundel as geheel: Die verhale “sypel” inderdaad uit verskillende Europese en Suider-Afrikaanse stede (byvoorbeeld Amsterdam, Gent, Wene, Parys, Barcelona, Praag, Harare, Johannesburg en Kaapstad); kos en maaltye staan in feitlik elke verhaal sentraal; en uit die fokus wat telkens op verrassende, selfs onverwagse, detail geplaas word (en hoe mooi is die saamdink van “die fyn haartjies van malvablare” met die “ewe fyn haartjies van ’n oor” nie in bostaande aanhaling nie?), groei daar weldra allerlei imposante patrone.          

III

Hoewel Jaekel Strauss se bundel kennelik ’n produk van die een-en-twintigste eeu is, het dit my baie sterk aan die kortverhale van sestigerskrywers soos André P Brink en Jan Rabie herinner. Die ontluisterde blik op die stadslewe, die beskrywing van soms surrealistiese gebeure en die afwisseling van ’n groot getal Europese verhaalruimtes met enkeles uit Afrika het my veral aan Jan Rabie se waterskeidingsbundel, Een-en-twintig,laat dink. Die pikkewynagtige kelner wat in “Die konsert” ’n swart skinkbordjie op sy gewebde vingers balanseer, roep byvoorbeeld die dun kelner op wat hom in Jan Rabie se “Drie kaalkoppe eet tesame” deur niks en niemand van stryk laat bring nie, terwyl die gebeure in “Bestemmings” duidelik ooreenstem met dié in Rabie se “Gondeldeuntjie”. Peter se gevoel dat hy in Het begin deur ’n man met ’n swart hoed en klere agtervolg word, terwyl dit in ’n sekere sin hý is wat die man opsoek, herinner weer aan Chris Barnard se kortverhaal “Bos”. Tog is daar geen sprake van skatpligtigheid of duplisering nie.    

Die verhale in MAAL belig, soos hul sestiger-eweknieë,die bestaansproblematiek van die moderne stedeling. Die leser word egter nie soos in Een-en-twintig in ’n groot mate van die karakters vervreem nie, maar word eerder direk by hul lotgevalle betrek, veral omdat hulle hier van bínne belig word. En hoewel die karakters hulle op wyduiteenlopende plekke en in (soms) vreemde omstandighede bevind, is daar iets herkenbaars, iets universeel-mensliks, aan hulle almal. In byna elke verhaal is daar iets waarmee die leser hom/haar sal kan vereenselwig.  

Soos in 30 nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden en Die sneeuslaper deur Marlene van Niekerk, word Europa én Afrika in MAAL vanuit ’n postkoloniale blikhoek betrag, met ander woorde uit die perspektief van die vreemdelinge, (im)migrante en verskroppelinge wat op allerlei wyses in dié ruimtes probeer oorleef en talle uitdagings die hoof moet bied, maar ook ’n eiesoortige energie daaraan verleen.

IV

Die bundeltitel (asook talle verhaaltitels) verwys na die belangrike rol wat maaltye in byna elkeen van die verhale speel. Soms is dit oordadige feesmale (al is die vleis soms bietjie droog en die groente papgekook) of sake-etes in indrukwekkende restaurante; ander kere besonder beskeie “padkossies”, soos die grond wat Alile Phiri in die aangrypende verhaal “Padkos” eet of die oorskietkos wat Mandisa in “Aangekla” in haar yskas bêre. In sekere gevalle word die voorbereiding van ’n ete, of kosmaak in die algemeen, ’n verset teen of ’n beswering van ’n traumatiese verlies (vergelyk in hierdie verband veral “Piekniek in die park”, “Proviand” en “Witbroodjie”). Meestal word ’n maal egter ’n “barometer” vir die interpersoonlike verhoudinge in die verhaal: In “Die konsert” ontwikkel die verteller byvoorbeeld ’n onverklaarbare obsessie met twee persone wat hy in ’n restaurant sien eet. In “Katinka kook” word die subtiele spanninge tussen die lede van die Cronjé-gesin tydens ’n Sondagmiddagmaal op die spits gedryf, terwyl die Sondagmiddagete wat David in “Dryf” byna teen sy sin bywoon, die algehele gebrek aan keuses asook die uitsig- en betekenisloosheid van sy bestaan bevestig (en hom met ’n gevoel van eksistensiële sooibrand laat). In “Die laai” kan Lucia se gunstelingrestaurantkos, steak en chips, nie kompenseer vir die ongemaklike verhouding wat daar tussen haar en haar ouers bestaan nie, terwyl Klaudia se romerige kapokaartappels in “Witbroodjie” nie haar pa en ma se aandag ’n oomblik lank van haar dwelmverslaafde broer kan wegdwing nie. In “Die fees van Gent” staan die keurige enkelmaaltyd wat Hilde vir haarself voorberei nie net in skrille kontras met die feestelikhede in die strate buite haar drieverdiepinghuis nie, maar ook met die chaotiese maaltye wat sy as jong ma saam met haar kinders moes trotseer. Die ironie is egter dat sy as ouer vrou dié maaltye bo haar eensaamheid en “grafstil” huis verkies!

Die verhale in die bundel word egter nie net tematies geskakel nie. Daar is ook allerlei ander eggo’s, soos karakters en verhaallyne wat herhaal, beelde wat by mekaar aansluit, ensomeer. Die ongeïdentifiseerde verteller in “Die konsert” maak byvoorbeeld allerlei “aandenkings” bymekaar, soos ’n tydskrif, serp, konsertprogram, stringetjie geel pêrels en selfs ’n sakdoek met spoeg in die laaitjie van ’n bedkassie, terwyl Hanna, die verteller in “Koppies in die kas”, die bontspul koppies wat sy vaslê, as herinneringe versamel:

Op die boonste rak staan ’n ry koppies. Een met klein blou blommetjies beverf. ’n Liggroene met pienk en wit rose. ’n Gele, ’n perse, een met tjoklitbruin patrone, maar sonder ’n oor.
Sy kan elke een se huis, elke een se mense, so duidelik soos gister onthou. (107)

Die sestienjarige Klaudia Kunz wat in “Witbroodjie” die hoogste lof in ’n klavierkompetisie behaal, is dieselfde Klaudia (nou ’n beroemde konsertpianis) na wie die verteller, Mathilde, Markus en Mutti met soveel bewondering in “Die konsert” luister. In “Piekniek in die park” en “Proviand” word die uiteenlopende perspektiewe van ’n egpaar wat ’n traumatiese verlies gely het (Bea in Parys en Pierre in Barcelona) verwoord, terwyl die vertelperspektiewe van ’n swanger roomysverkoper en ’n gay klavierspeler mekaar behendig aanvul in die laaste twee verhaaldele van “Bestemmings”. En soos Emile in “Katinka kook”, speel die klavierspeler in “Bestemmings” ’n Chopin-nokturne.

V

Veral indrukwekkend is Jaekel Strauss se fyn waarnemingsvermoë en aandag aan detail. ’n Mens sou inderdaad, soos De Vries, daarna kon verwys as ’n pointillistiese verteltegniek op grond waarvan groter patrone weldra uit die “magdom klein besonderhede” groei. Gaan kyk byvoorbeeld hoe behendig byna elke verwysing, elke oënskynlik onnoemenswaardige gebeurtenis, die ontstellende slottoneel in “Dryf” voorberei, of hoe die afwesigheid van die kind in “Piekniek in die park” en “Proviand” telkens deur woord en beeld teenwoordig gestel word, of hoe roetine-handelinge tydens ’n busrit vanaf Malawi tot in Kaapstad ’n hele geskiedenis en sosio-ekonomiese werklikheid onthul. In talle verhale is dit nie soseer die intrige self wat verrassend is nie, maar karakters se reaksies daarop. Die sogenaamde “onthulling” in “Katinka kook” is allesbehalwe onverwags, maar die wyse waarop Katinka en Frederick onderskeidelik daarop reageer, wel. In “Aangekla” is dit veral die wyse waarop Mandisa se ambivalente gevoel jeens haar eie familie (haar dogter, Zandile, en kleinseun, Lucas) kontrasteer met haar gevoelens vir die familie vir wie sy werk (Isabelle en die kind wat haar “Disi” noem) wat opval.

VI

Die verhale in MAAL gaan waarskynlik nie die leser se geloof in die wêreld herstel óf hom/haar van die inherente welwillendheid van moderne stedelinge oortuig nie. Die bundel bied geen onrealistiese hoop nie, maar konfronteer die leser eerder met allerlei ongemaklike, byna onverteerbare realiteite en uitdagings.

Jaekel Strauss se indrukwekkende debuutbundel dwing jou egter wél om met nuwe oë na jouself én na die mense rondom jou te kyk – en dit is waarskynlik een van die belangrikste rolle wat letterkunde in enige tydsgewrig kan speel! 

  • Thys Human is ’n dosent in Afrikaanse letterkunde en hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top