’n Brief aan elke dramajuffrou en haar selfoon

  • 4

In Suid-Afrikaanse skole, op ’n skaal van 1 tot 10, is bendegeweld en puttoilette onderskeidelik ’n 10 en ’n 11. ’n  Dramajuffrou wat gedurende haar Graad 11’s se praktiese eksamen op WhatsApp kuier, score ’n 2.

Tot jy dit in sportterme plaas: ’n Skeidsregter is op sy foon doenig terwyl die eerste span hul laaste wedstryd van die seisoen speel. Hy is goed bekend met die sterk- en swakpunte van albei spanne, maar omdat hy op ’n kritieke oomblik in die laaste snikke van die spel afgekyk het, kan hy nie ’n regverdige puntetoekenning maak nie. Hy kan wel iets uit sy duim suig en hoop dat die ouers langs die veld ook na hul fone gekyk het.

Skielik kry die dramakwessie meer aandag, want almal verstaan nou beter. En die dramajuffrou se foonfiasko skuif op van ’n 2 na ’n 7.

In Suid-Afrikaanse skole, op ’n skaal van een tot 10, is ’n Wiskunde-onderwyser wat in die Graad 11’s se lestyd toelaat dat die leerders keer op keer bordspeletjies speel, ’n 8. ‘n Dramajuffrou wat die leerders keer op keer (op keer) improvisasies laat doen tydens hul praktiese periodes, is ’n 0.

“Is dit nie juis wat drama is nie? Speel hulle nie in elk geval nie? Dis mos toneelspel, nie waar nie?”

Tot jy dit in sportterme plaas: Die afrigter laat die eerste span tydens elke oefening slegs fiksheid doen. Die spelers kan sirkels om enige ander span en hul toerbus hardloop. Maar hulle oefen nooit tegniek of strategie nie. En niemand ken die reëls van die spel nie. En daarom sal die span nooit werklik hul potensiaal bereik nie.

Skielik word die dramakwessie in ’n heel ander lig gesien. Nou score die dramajuffrou ook ’n 8.

“Ons het nooit besef drama is soos sport nie … Bid jou dit aan: daar is tegniek betrokke!”

Ja, inderdaad. Om nie van dissipline te praat nie.

Vanaand, na die ekstra-Wiskundeles en ’n strawwe krieketgame, wanneer die mense om ’n pizzaboks saamdrom en besluit watter fliek hulle op BoxOffice gaan kyk, is almal dit eens dat Bradley Cooper wraggies ’n goeie akteur is. Die man is fiks en kan sirkels hardloop om Tom Cruise en die stomme Van Damme.

Maar eintlik is hy ’n goeie akteur omdat sy dramajuffrou hom ’n ding of twee geleer het oor speltegniek. En omdat haar foon in haar handsak was terwyl hy sy monoloog vir haar gedoen het.

  • 4

Kommentaar

  • Raak gesê. Baie dankie! Om 'n drama-onderwyser te wees is baie harde werk! Ongelukkig word dit maklik heeltemal onderskat! Ek het buite met die leerders geoefen, omdat die klas net te klein was vir almal om te beweeg. Ander personeel het gedink dis "heeltyd speeltyd". Ek was selfs aangespreek, omdat die " beeld van die skool" daaronder kon ly.

  • Louis du Preez

    Dikwels sukkel dramastudente tydens tersiêre opleiding. Is dit omdat hulle nie eintlik geleer het hoe om die bal te vang en aan te gee nie?
    Dis basiese vaardighede wat help om 'n wedstryd te wen.

  • "Dikwels" beteken gelukkig nie "altyd" nie 🙂 Ek het al dikwels komplimente gekry oor van my oudleerlinge wat baie goed vaar. Ek het ook al gesien en ervaar hoe hulle in die werklike lewe die spel goed speel. Dit is ongelukkig so dat daar die is wat sukkel en selfs handdoek ingooi. Daar is altyd leerders wat net wil hê. Hulle wil gevoer word en kan nie self werk nie. Dan is daar ook die selfsugtiges waar alles net oor hulle gaan. Hulle kan ook nie spansport ordentlik speel nie. Die druk op skool is so groot om te presteer. Daarom vergeet onderwysers dikwels van die proses en fokus ons te veel op die produk: die onderskeidings, die A's en die wen. As elke onderwyser net kan onthou ons is net deel van 'n groter prentjie waar ons mense voorberei vir die lewe. Die vaardighede wat ons hulle leer moet belangriker wees as die enkele prestasies!

  • Louis du Preez

    Die kunste suig so aan die agterspeen.
    Stem so met jou saam. Die kunsvakke word onderskat en die ekstra tyd wat die onderwyser insit word nie raakgesien nie.
    Die enigste troos is dat drama-onderrig die leerders se persoonlikhede help ontwikkel en hulle selfvertroue gee om die lewe in te gaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top