Die Redakteur
LitNet
Waarde Kameraad
Ek word aangekla van haat teenoor die ANC, dat ek die party gedurig aanval en sy leierskap verkleineer.
Niks kan verder van die waarheid wees nie.
Ek is dolverlief op die African National Congress en almal wat daarin dien.
Ek luister na elke uiting. Ek volg elke ingewikkelde maneuver. Ek bestudeer die daaglikse verklarings. Hulle is in my hart 24/7.
In die verlede moes my werk die daaglikse aksies van 'n rasbehepte samelewing weerspieël.
Wie sou gedink het dat ek in vandag se demokrasie my begrip van satire kon herskep, danksy briljante politieke teksskrywers in ons regerende kaderskap?
Die ANC druk deur al die grense van verwagtings met manjifieke sukses.
Ek kan die resultate van hulle beleidsformulering nie self uitdink nie. Daarom is my jaarlikse betalings aan SARS meer tantieme as belastings.
Ek hoop die ANC sal my getroue inspirasie vir 'n lang tyd bly. Miskien sal Jesus Christus sy terugkoms keer totdat Luthuli Huis hom die groen lig gee?
Viva ANC Viva!
Pieter-Dirk Uys
Kommentaar
Wil jy nou meer? Ek het nooit geweet Pieter-Dirk Uys het 'n redakteur nie.
Gelukkig word jou draaiboek vir jou elke dag "opgevoer" of uigeleef. Soos die Ingelse sal sê, die manne "just change feet" uit hul monde. Die moeilikheid is ons kan almal oor die stront wat aangevang word lag, maar wanneer is dit nie meer snaaks nie? Ek is allermins 'n suurknol of aardspessimis, maar ek haal graag grafitti aan wat op 'n muur naby die ou SAUK (1992/93) geverf was. Die ou het met rooi spuitverf die volgende of iets in dier voege op die muur geverf. "Hezekiël 15 vers 12. God weet so kan dit nie aangaan nie". Ek dink jy is bekommerd dat die manne gaan ophou aanjaag, dan het jy nie meer werk nie.