Titel: Broers
Skrywer: Bart Moeyaert
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194413
Prys: R130.95
Klik hier om Broers te koop by Kalahari.com.
Die volledige titel van (Nederlandse titel Broere) deur Bart Moeyaert is Broers – Die Oudste, die Stilste, die Opregste, die Verste, die Liefste, die Vinnigste en ek". Die verhaalsketse handel oor hierdie sewe broers.
Elk van die 42 verhale word uit ’n eerstepersoonvertellerperspektief vertel – dié van die jongste broer. Nêrens word enige van die broerkarakters op hul voorname vermeld of aangespreek nie. Telkens word verwys na "ons", "my broer" of "my ander broers".
Broers, meervoud. Hoewel hul op die buiteblad een vir een uitgesonder word, kry nie een van hulle name nie. Meer nog as dit: dis onduidelik hoekom elkeen van hulle met ’n karaktertrek uitgesonder word. (Waarom sou een van hulle die stilste wees, byvoorbeeld? Wat het hierdie beskrywing veroorsaak? Geen een van die verhaaltjies bied ’n verklaring hiervoor nie.)
Voor in die boek is ’n foto van ’n groep seuns – sou dit Moeyaert en sy broers wees?
Die sketse se titels is op die oog af gekies sonder ’n gemene deler: "aangebore", "pyp", stadig", "straf", "selde", "soek dit gou op", "één broer met ’n lang naam", "die ondier", "die warm meisie".
Die openingsin van elke skets laat die leser raai oor wat kom:
Ek en my broer lê saam in een bed en probeer om die regte kant van ons lywe te kry. ("Aangebore")
My broer wys na sy fiets se wiele en sê vir my en my broers dat ons dringend iets betekenisvols moet doen. ("Uitvindings")
Die een oomblik het dit nog gegaan oor die klappe wat ons vir hulle gaan uitdeel. ("Swerm").
Die volgorde van die stories: Is hier ’n merkbare patroon? Op die oog af, nee. Ook nie ’n sisteem waar sekere karakters mekaar op sekere tye afwissel nie.
"Stadig" handel oor die broers wie se ma kla hul eet te vinnig, hul keer hul gedrag om en besef hul waardeer inderdaad die ete meer as hul kans kry om die smake te proe, maar ’n streep is hul getrek as hul dan hul lewer en spruite stadig moet eet.
"Niks, nêrens" is ’n verhaaltjie met die broers wat die kamer inkom terwyl een van hul uitgesluit voel oor ’n aktiwiteit wat hul verrig – hoekom so koud? Wat het hul gedoen, waar was hul? “Niks, nêrens” bly die ontglippende antwoord.
Sjarmante paragrawe, hoewel die ruimtelike inkleding soms vaag is (wat nie afbreuk doen aan die feit dat die leser ’n sterk visuele prentjie kan vorm nie – trouens, die betekenis word soms ewe veel verruim as daar nie in groot besonderhede beskryf word byvoorbeeld hóé die oes plaasvind, waar, en wie betrokke is nie – want dis duidelik dat dit afstuur op die jong seun se besef van sy afhanklikheid; hy het nie geld nie):
Hulle oes die magrietjies. Hulle draai tien op ’n slag in ’n ou koerant toe en 9verkoop dit van deur tot deur. Hulle sê dis vir die arm kinders, en dit is nie ’n leuen nie. Ons het nie ons eie geld nie.
Dikwels eindig ’n verhaal om die tafel, die plek van geborgenheid, soos in "één broer met ’n lang naam", waar dit handel oor Niklaasdag, as die broers as eenheid by die trap af tuimel om hul geskenke en marsepein in hul vader se studeerkamer te kom opraap, maar dié dag gaan ook verby – hier ten slotte: "Ons doen wat ons kan om die gevoel van die broer met die lang naam te bewaar, maar teen middagete met hutspot waarin worteltjies en rape is, sit ons al weer as sewe aparte broers aan tafel, met elkeen sy eie naam en sy eie arms en bene."
Daar is wat tematiek van die verhale betref, tóg ’n ooreenkoms: wat dit beteken om broers in ’n gesin te wees. Hieronder ressorteer, in geen spesifieke volgorde nie, pyn van grootword en die verlies van onskuld, humor, warm gesinsliefde, woede teenoor ouers, die behoefte om beskerm te word, dorpskinderstories, gesinsrituele rondom feesdae, vrees vir die dood.
Juis hierin – die vertel van die hele spektrum van menswees – lê die boek se sjarme, maar ook sy problematiek. Die leser wonder wie presies die verhale se teikenmark is: kinders of grootmense?
Op die agterblad staan boonop: ”Dit is ’n boek wat oud en jonk sal geniet: van tieners tot tagtigers."
Die simplistiese aanname om te maak is dat hierdie ’n soort kruis–ouderdomsgroep–boek is, "cross–over fiction", soos Harry Potter: amper ’n soort jeugboek wat raak–raak aan volwasse temas.
Die volwassene kan met ’n warm hart baie van die onderwerpe verstaan en die nuanses van die humor geniet. Maar soms word ’n verhaal vertel en die volwasse leser wonder waarheen dit gaan, soos met die verhaal van die Franse uitruilstudent wat tussen die broers kom bly:
Francoise kyk van die een na die ander en kyk dan om haar rond. Ek verstaan dadelik dat sy ’n woord soek. Toe sy dit kry, wys sy daarna.
“Boom,” sê sy, maar dit kan ook droom wees, of mooi, want só kom dit uit haar mond.
My broers word baie opgewonde. Hulle gaan knikkend langs ons Kersboom staan en wys na die bolle en die slingers en die spits, en hulle noem al die woorde op wat hulle te binne skiet, omdat hulle vir Francoise ons taal wil leer. Hoog en klok en ster en fees is skielik belangrike woorde vir hulle.
Die trant en toon van die verhale bly egter onskuldig. Geen "tema" word werklik ontgin nie, behalwe die goue draad wat deur al die vertellings loop: familie.
Dit sou nie heeltemal waarheidsgetrou wees om hierdie boek te tipeer as ’n jeugboek wat volwassenes ook sal kan geniet nie. Dalk is dit méér waar dat volwassenes hierdie boek sal geniet, eerder as tieners. Daar is nie baie vinnige aksie in die boek nie, daar is ’n ouwêreldse manier van na die lewe kyk, daar is iets byna naïefs aan die verhale, sonder om dit hoegenaamd af te maak of dit te beskou as lagwekkend.
Dit bly wel ’n boek wat nie graag in ’n spesifieke vakkie ingeprop wil word nie. En ek is onseker of dit ’n probleem is of nie. Telkens as die volwasse leser dink dat iets resoneer asof die boek té veel uit grootmensgesigspunt geskryf is, hou die skrywer egter ’n ferm hand op sy materiaal. Die boek bly gewoon onskuldig en eenvoudig genoeg om uit ’n kind se perspektief vertel te kon gewees het, en dan wonder die leser of sy haarself nie wysmaak dat die sosiale kommentaar uit volwasse perspektief geskied nie. Kan dit projeksie wees? wil die leser amper vra. Want Moeyaert is inderdaad bedrewe en behendig. Hierdie boek is in sy oorspronklike Nederlandse formaat met die Woutertje Pieterse Prijs bekroon.
Voetnoot: Die boek is uit die Nederlands vertaal deur Daniel Hugo. Hugo is bekend daarvoor om Nederlands te vertaal; hy doen dit baie goed en in keurige Afrikaans. Hy kwyt hom goed van sy taak as vertaler in dié opsig dat hy hom hou by die styl en klank van die oorspronklike teks. Hoewel ek nog nooit die Nederlands gelees het nie, val Broers op die oor soos ’n Nederlandse boek in Afrikaans.
Daar is frases wat eenvoudig nie Afrikaans voel nie: "hutspot met raap", "vlootsoldaat", "rolluik". Maar dan is dit dalk presies soos met die vraag oor die boek se teikenmark: Is hierdie woorde wat op hul eie opval, of is dit die konteks waarbinne hul gebruik word, die ander woorde en die sinskonstruksies wat hul so effe buitelands laat klink?
Die ding met konteks is, dis soos ’n Maandag – dit word altyd deur ’n storie voorafgegaan: die naweek. Dit staan nie op sy eie nie en het daarom bepaalde assosiasies. Net so is dit met hierdie boek – dit voel of dit nie heeltemal in isolasie gelees kan word nie. Hierdie teks, voel dit vir my, praat met ander Nederlandse tekste ook, met ’n Nederlandse gehoor, met mense wat sekere kosse eet en sekere ligkwaliteite en gepaardgaande winterdrag verstaan. Die tekstuur van die boek is Nederlands.
Vir my is die boek kreatief geskryf en sjarmant. Dit bekoor. Maar dis wel effe inspannend om al die sketse, op ’n ry, op een slag te lees.

