’n Blom op ’n kindergraf

  • 4

“Ek kom om ’n kransie van rou te breng,                   
op kindergraffies ’n traan te pleng.                                              
Maar kyk, dis ’n fees wat my oog gewaar                                              
van blommetjies, blommetjies aanmekaar,                               
op ranke stingel oor graffie en steen –                         
soos graan op die lande aaneen, aaneen;”

’n Uitreksel uit die gedig “Blomme” van Jan FE Celliers (Irene, 1911, al die grafte toegegroei met kosmosblomme)                        

Dis Erfenisdag 2019 en ek staan in Irene se gedenktuin met my emosies toetentaal besig om te ontrafel. Ek is besig om diep in die geskiedenis in terug te “lewe” na die tyd van die Anglo-Boereoorlog (ABO) toe.

Foto: Canva.com

Daai tydperk in die lewe van die “Boerevolk” toe ons vrouens en kinders in “konsentrasiekampe” die hoogste offer gebring het vir volk en vaderland. Hulle was “gehok” in haglike toestande en dit in hul eie land. Het ek die reg om so te voel? Wat maak die amperse “volksmoord” anders as al die soortgelyke “uitwissings” en “ander” erge vergrype die afgelope 119 jaar van regoor die wêreld? Gee enigiets my die reg om wraak te koester teen Queen Victoria en die “empaaier” vir al die vrouens en kinders wat weens siektes, blootstelling, swak voorsiening van lewensmiddele en onvoldoende mediese sorg die hoogste tol betaal het. Die ergste van alles is dat dit gedoen was om die “Boer” te probeer knak en hom sy reg van bestaan in die land te ontneem. 

Kan ’n oorlog die verlies van agt en ’n half persent van die Boere-bevolking regverdig, en dis feitlik net vrouens en kinders waarna hierbo verwys word. Hoe vergelyk die lewensverlies van die ABO met ander soortgelyke gebeurtenisse soos volksmoorde en wêreldoorloë die wêreld oor?

Ek is in ’n diep worsteling met myself dat ons in ’n baie geweldadige samelewing woon en daar sedert die begin van die vorige eeu so baie vergrype in ’n betreklik kort tydjie plaasgevind het. Het ek enige reg om ’n traan te “pleng” oor ’n “minor atrocity”, gepleeg deur ’n “empaaier”?

Dis nou in ’n land waar ek volgens ander geen bestaansreg het nie en moet terugskoert na waar my voorvaders vandaan kom. Ek is ’n Afrikaner van die “Mzungo Boere Tribe” en so “eg” as kan kom en gaan nêrens heen nie. Wat my met nog meer afgryse laat is dat vyftig persent van die Boerevolk se kinders tydens daardie oorlog gesterf het en grens dit mos aan ’n volksuitwissing.

Net so “min” as wat die Franse van die Engelse hou, is my “min” liefde vir die “Souties”, seker ook maar te danke aan my sterk Franse gene. Het ek enige reg om so te voel? Ek sal graag wil sê dit is oor ek ’n Afrikaner is, maar somtyds weet ekself nie wat Afrikanerskap beteken nie. Is ek nie dalk meer Boer as Afrikaner nie? Is dit in my gene soos die van my Hugenote voorvaders dat ek van nature ’n rebel is en nie daarvan hou om voorgesê te word nie?

My emosies loop hoog en kom ek stadig, maar seker tot die besef dat dit die onreg wat teenoor vrouens en kinders, veral die kinders gepleeg word, juis dit is wat indruis teen alles waarvoor ek staan. Dis waarskynlik hoekom ek so sterk voel oor die “empaaier” en haar onderdane, want ek sien hulle as groot boelies.

Hier volg ’n uitreksel uit die boek, Dankie, Generaal deur Nico Moolman:

“Een aand na middernag in die Bethulie-konsentrasiekamp het ’n jong ma in ’n tent gesterf terwyl sy haar kind in die lewe gebring het. Dit was Mei 1901 en bitter koud, met ’n snerpende suide wind wat deur murg en been gesny het. In die kamp, soos in die meeste ander, was die noodlot die dirigent en duisende vrouens en kinders die lydenskoor.   

In die tent was daar ’n veertienjarige meisie – ’n weeskind wat nie verwant was aan die vrou nie. Sy bedek die gestorwe vrou se oë met twee oulap se punte. Wat nou van die pasgebore baba? Sy begin weemoedig te snik wanneer die ander vroue in die tent vir haar sê sy moet hom laat sterf, want daar is geen kos vir die babaseuntjie nie. Hy sal nie oorleef nie.  

Al kry sy self swaar, stu daar ’n diep oorlewingskrag van iewers diep binne haar wese na bo. Van toe af begin sy elke vieruur, dag en nag moedersmelk bedel by al die voedende vroue in die kamp. By meerderheid tente word sy weggewys, maar hier en daar kry sy ’n paar druppels melk. Bietjie vir bietjie voer sy die baba.        

Saans draai sy hom toe in haar ekstra klere om hom warm te hou. Sy versorg hom met al die liefde wat sy kan gee, al gaan dit swaar. Sy sagte blou ogies glinster wanneer sy daarin kyk.”

’n Kind vat verantwoordelikheid vir ’n kind in ’n grootmens se oorlog. Ons ou volkie kan so hard probeer as wat ons wil om apartheid te verdedig, maar ongelukkig sal ons dit nooit kan regverdig nie. Ons was ook aandadig aan ernstige vergrype tydens die “apartheidsjare” en maak nie saak wie die aggressor in watter situasie ookal was nie, dit was ’n vergryp gewees.

Ondanks die reg of verkeerd van die verlede ontneem dit ons nie van mede-eienaarskap van die wonderlike land nie. Die uiteinde is dat daar net een regmatige “erfgenaam” kan wees en dis die kinders van die land. “Ons” kinders en “ons” kinders se kinders. As jy met dit neuk gaan jy dit opdonner en kan ons baie van die blaam op die Zuma’s, Malema’s en ander “verraaiers” uit lang “geleë” plaas, maar dit gaan nie die probleem oplos nie.

Ons kan rondhol en sê; ja, die ander wil nie saamwerk nie, maar wat van ons? Ons het ’n geskiedenis as ’n klomp dwarstrekkers en wou betreklik onlangs nog alles in die rëenboogland net vir onsself toeëien. Nou probeer ons wegkruip agter hoë mure en dink ons gaan ons kinders kan beskerm teen die aanslae van die bose daarbuite. Dit alles is besig om te gebeur terwyl ons nalatenskap in vlamme opgaan, want dis nie ons probleem nie.

Wees baie bedag daarop dat die dag al hoe nader kom waar ek en jy, man en vrou letterlik in “ruimteskip aarde op pad na nêrens gaan wees, een waar ons gaan voel soos weeskinders in ’n eeu met geen môre nie”.

Hoe verduidelik jy dan aan jou kind wat ’n aasvoël is en hoekom hulle, die “skoonmakers” nie meer daar is nie? Die natuur se “skoonmakers” is weg omdat die aarde se vyand “nommer een”, dis nou ons, hulle vergiftig het. Gewoonlik is die “skoonmakers” eerste by die “karkasse” en maak “number one” hulle dood omdat hulle teenwoordigheid in die lug die “vrederegters” vinniger na die misdaad toneel gaan bring. Dit is nou ’n misdaadtoneel wat in die eerste plek deur “number one” geskep is sodat aan sy behoeftes bevrediging gegee kan word.

Nou word hulle deur vergiftiging uit die samelewing verwyder en deur hulle “stemme” stil te maak word die lugstrome “gesuiwer” en neem dit die “vrederegters” langer om op te daag en kom die skuldiges dus met moord weg.

Dis hoekom daar op plekke in Botswana geen aasvoëls meer is nie en is daar ’n duidelike wanbalans, met die natuur se ewewig vir altyd versteur. Is dit ons nalatenskap? Word wakker, want die volgende uitwissing kom nie nog nie, dis reeds besig om te gebeur en vra ek die vraag of wat ek hierbo oor geskryf het nie, maar net ’n presiese weerspieëling is van ons as mens nie. Leef ons nie alreeds in die eeu van die vierde en dalk finale uitwissing nie? Ek vra maar net.

Wat aanvanklik as ’n diep persoonlike reis begin het, begin te ontaard in ’n soektog na die betekenis van woorde en dade. Ek haal graag aan uit Die Burger van Saterdag 21 Augustus 1937 en wat baie opvallend vir my is, is dat die denkrigting van vandag geensins verskil van die een van meer as twee en tagtig jaar gelede nie.  

“Hoe ouer ’n mens word, hoe meer hy die waarheid leer besef dat die mens gewoonlik te haastig is om te praat, te vinnig om toornig te word en te stadig om te hoor… Woorde dien vir opwekking tot die daad, die daad self wat daarop volg, sal ander aanspoor tot wat die woord alleen voldoende ag. Met die daad sal ons nie net onsself gelukkiger maak nie, maar ander ook. Met verwaarlosing van die woord wat ’n aansporing was, sal ons onsself bedrieg en ander ook.”

Baie lang myle lê tussen doen en sê, en soos daar die afgelope 119 jaar groot onregte regoor die wêreld gepleeg is, nie net in ons rëenboogland nie, vra ek die vraag: Wat gaan ek en jy doen om die wêreld ’n beter plek vir ons kinders te maak? Wat gaan ons doen om hulle erfenis te bewaar? Gaan sit ’n slag ’n blom op ’n kindergraf en dink aan wat daai kind op uitmis in die “kosmos”.

Ten laaste haal ek weer uit Die Burger van 21 Augustus 1937 aan:

“Gaan wees ’n dader, want onthou die aantal vergeetagtige hoorders is groot, baie groter as die daders van die woord.”

“If you ask me what I came to do in this world, I, an artist, will answer you: I am here to live out loud.” – Emile Zola

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Daar was verskeie epidemies hier in SA. Ek loop in begraafplase as ek idee van die lewe in geskiedenis in dorp wil kry.
    Na ABO was witseer - keel epidemie, waaraan veral jong kinders dood is. Die 1919 Spaanse griep pandemie het verwoestyning gesaai onder jonk en oud. Masels en pampoentjies het kinders gedood by die honderde in SA.
    Ek was saam met iemand wat blomme op haar ma se graf wou sit in Boksburg ou begraafplaas. Ek stap toe 'n draai deur die ou deel en verbaas my aan die rye grafte van kinders wat dood is in sekere jaartalle agv epidemies van kindersiektes, waarvoor babas nou ingeënt moet word. Honderde in dieselfde tyd in spesifieke jare.
    Daar is geskiedenis in begraafplase, wat stille insig gee in die wel en wee en stryd van voorgeslagte. Ek sukkel net met die ou grafstene se kopskrifte in swaar ou Nederlands.

  • Dis sleg om met 'n bittel pil in jou binnekant van gister vdag of môre in jou hart saam te lewe. Vergewe mekaar en begin nuut elke oggend want ja ons en ons kinders wil erf en moet weet hul het 'n ryk Pa in die Hemel en 'n ryk erfenis wat op ons wag. Kies om te vergewe en los om heeldag te debater wie was reg en wie was/is verkeerd. Daar is geen einde daaraan.... Lewe jou droom.. Lewe jou "Wie jy is"...en, "om te wees". Begin mekaar (almal) bedien en breek deur harde doppe van onvergifnis (elke dag) want ons Oorwinning en Blydskap en totale erfenis is daarin opgesluit. Ja en Amen op Doen/Wees/ Blom waar jy geplant is 💐😇🙌🤗🌟

  • Avatar
    Hans Richardt

    Wel, Shepstone, Rhodes en Milner het verskeie rassegregasie wette ingestel.
    Die brief gaan nie hoofsaaklik oor apartheid nie, maar oor kindergrafte.

  • Hans, jou kommentaar van 22 deser lyk of dit kommentaar op my kommentaar op Jacques le Roux se brief was. Ek sien my kommentaar het nou verdwyn.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top