’n Ballade vir Nkunzi: gedonner, gedrink en gedempte hoop

  • 0

’n Ballade vir Nkunzi
Ben Viljoen
LAPA
ISBN: 9780799399219

Die Welmans van Simmer Deep is nie arm nie. Hulle is moer-arm. Die pa suip en slaan en verneuk, die kinders en die ma koes en verhonger en vergaan. Bernard Welman, ’n trokdrywer wat als met sy vuiste en met sy lyf vol drank probeer regdonner, kry dit reg om keer op keer sy familie in kakstraat te dompel. Soms verdwyn hy vir weke aanmekaar en laat hy sy vrou Drien en sewe kinders oor aan die barmhartigheid van een of twee vriende of familielede wat skaars oor hulle welstand omgee. Hulle trek van die een klein dorpie na die volgende verlepte gehuggie, en net soos jy dink dinge gaan in die guns van die Welmans draai, maak Bernard weer grootskaals droog. ’n Ballade vir Nkunzi, wat strek vanaf 1960 tot 1983, is die coming of age-verhaal van Bennie (die oudste Welman-kind en die verteller van die verhaal) wat van meet af aan die odds moet trotseer en moet vasklou aan droë krummels genadebrood sodat hy hopelik heelhuids aan die anderkant kan uitkom. En om tog nét nie ’n ou beesbul (Nkunzi) soos sy pa te word nie. Die verhouding tussen pa en seun is sentraal tot die verhaal en is deurlopend kompleks:

Op dae soos vandag staan een [droom] bo al die ander drome in my kop uit. Dat ek eendag groot genoeg, sterk genoeg en dapper genoeg sal wees om vir Ma te kan opstaan wanneer Pa haar so verniel. [En] om dan my staalharde vuiste te lig en te slaan en te slaan en te fokken slaan tot daardie massiewe liggaam in ’n hortende, bebloede bondel by my voete lê. (24)

Wanneer dit kom by musiek en hulle albei se allesomvatende liefde daarvoor, vervaag die grense tussen haat en bewondering egter:

Pa speel so roerend dat verbygangers in die straat vassteek en luister. Ek wil hom vra om nie op te hou nie. Maar ek weet van beter. (121)

Verstaan mooi, ek wil nie hê my pa moet terugkom na ons toe nie, ek mis maar net iets van hom, dis al. En ja, goed, ek mis dit nogal baie. (192)

Benewens Bennie en Bernard se verhouding is radelose armlastigheid, wat al verskeie male suksesvol in Afrikaans gestalte gekry het (dink Ampie, Triomf, Siener in die Suburbs en van Jeanne Goosen se boeke), die mank poliobeen waarop hierdie vuis-in-die-ingewande-verhaal voortstoei. Die desperaatheid lek deur die bladsye … mens wil jou amper verbeel jy ruik die angssweet van die span verslete kinders wat wegkruip van Bernard Welman se verwoestende vuishoue.

In Simmer Deep trek ’n gil nie veel aandag nie, sou ons spoedig ontdek. As daar nie ’n naam voor of agter die uitroep is nie, het niemand reageer nie. Hier en daar sou iemand tersluiks opkyk, wonder wie moer nou weer vir wie en aangaan met hulle lewe. (34)

Híérdie tipe onvergenoegdheid met jou buurman of boetie se lot is aanduidend van ’n baie spesifieke moed opgee en handdoek ingooi. Wanneer die lewe niks meer het om te bied as skraps maaltye, vuil beddegoed en koerantpapier wat moet instaan vir toiletpapier nie, dan is ’n ander man se mismoedigheid of bloeiende bo-lip nie hoog op jou eie lys van probleme nie. Maslow se hiërargie van behoeftes plaas immers die drang om te oorleef héél onder. Kos, water en ’n warm plekkie om te slaap is die mees basiese van behoeftes. As dit nie daar is nie, is jy by rockbottom. En rockbottom is nie ’n plek waar enigiemand wil wees nie. Tog, selfs diegene wat lepellê met wanhoop, gee hulself soms oor aan wensdenkery. ’n Beter lewe is altyd nét om die draai, of so kan jy jouself dit verbeel:

“Weet jy wat is die heel beste van flat rockbottom wees? As jy eers dáár is, kan alles en enigiets jou droom wees.” (190) So troos Drien vir Bennie, na weke sonder kos in ’n huis met geen warm water nie. En wat wemel van rotte.

Hierdie klein silwer randjie klou regdeur die roman hardnekkig vas aan die donker wolk van ellende wat voortdurend dreig om die Welmans se lewe te verspoel. Bennie se vriendskap met Cor, sy liefde vir musiek en sy duiwe, sy verhouding met die mooie Karlien en sy ma se lewenslange onbaatsugtigheid is van die belangrikste reddingsboeie wat keer dat hy nooit, soos Bernard, in radeloosheid verdrink nie. Dis bakens van gedempte lig wat help dat hy nooit ophou droom nie. Wat keer dat hy nie ’n Nkunzi word soos sy sad ou alkoholis-pa nie, en wat uiteindelik, nét helder genoeg, die rigting na ’n beter lewe help wys.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top