'n Arm man se vreugde

  • 0

“Mag julle kinders ryk ouers hê.” Hoeveel kere hoor mens dit nie as huwelikswens aan ‘n blink-oog paartjie op hul groot dag nie? Miskien sommer net ‘n geykte cliché by gebrek aan meer geskikte woorde, maar tog raak dit die kern van baie se huwelikslewe - om ‘n ryk op te bou. Alles moet van die beste wees. Niks per se daarmee verkeerd nie, mits mens dit kan bekostig. Gewoonlik kan meeste dit juis nie bekostig nie, maar daar is altyd ‘n plan te maak net om in die tel te bly by die vriende.

Banke maak dit ook nie juis moeilik nie, trouens, min finansiële instellings gee ‘n duit om vir die mens agter die handtekening. Papiertjies in die pos en selfoon boodskappe nooi jou op weeklikse basis om skuld te maak.

Geld genereer geld; skuld genereer skuld. Die kat het lankal die nagemaakte leer bank wat moet deurgaan as egte leer, stukkendgekrap voordat dit betaal is. Die dubbelkajuit 4 x 4 proe sand en see nog voor sy eerste behoorlike was.

Vanaand se uithangbraai vir twintig, kompleet met eksotiese voorgeregte en klokke-whisky kos twee maal duurder as die reeds astronomiese bedrag op die kasregisterstrokie wat met plastiek aangekoop is. Die dag van môre lê mos ver. Eendag is ‘n abstrakte woord.

Die finansiële depressie – dis lankal nie meer ‘n resessie nie, want daar is geen substansiële teken dat dit ooit sal verbygaan nie – is op almal se lippe. Oral waar mens kom, is dit die onderwerp van bespreking: elektrisiteit, kos, klere, al wat verbruikerskommoditeit is, het onbetaalbaar duur geraak. Tog koop mense steeds tamaties wat in twee weke se tyd met R17-00 per kilogram duurder geraak het. Maar kom ons praat nie daaroor nie. Kom ons maak asof dit nie regtig ‘n kwessie is nie. Toe-oë met plastiek betaal.

Almal weet tog dat die rykste man die een is sonder skuld. Die term “ryk” is vandag egter sinoniem met kredietwaardigheid en daarvoor moet jy skuld hê wat jy gereeld kan delg. Met die klem op die laaste greep, is dit net mooi daar waar die meeste skuldenaars verarm omdat hulle nie noukeurig boekhou van hulle “rykdom” nie.

Om dan in vandag se omstandighede te kan sê “ek is arm” in die konteks dat jy sonder skuld is, is ‘n statussimbool. As jy dan nie meer as ryk gereken word nie, wees dan trots daarop om as arm deur te gaan. Verander die stigma in trots. Hou jou op met mede armes wat dieselfde taal as jy praat.

Arm is lekker! Arm sorg vir ‘n geruste nag, al beteken dit daar is net elke tweede week tamaties in jou yskas. Arm leer mens om planne te maak, innoverend te dink, kompromieë met jouself aan te gaan. Sit die geyser net vir ‘n uur of twee per dag aan; tap minder badwater in; hou ‘n koekie Sunlight seep in die badkamer en was jou dag se klere in die badwater uit – met ‘n kouwater spoel natuurlik; hou die wasmasjien vir werklik vuil klere.

Maak jou eie hoender schnitzel en hamburger patties; eet minder rooivleis en meer droë bone en lensies, wat ook ‘n goeie bron van proteïen is en baie goedkoper; maak meer kos op ‘n oop vuur as met die stoof; voer die kinders mieliepap; voer die baba maizena-pap kompleet met kaneel – my kleinseun het na sy eerste bakkie vir die eerste nag deurgeslaap en raak sommer opgewonde as hy nou die reuk van kaneel kry.

Brand kerse wanneer jy nie die sterk lig van elektrisiteit nodig het om iets te doen nie; lees meer; kyk minder tv. Met ‘n vonkelwyntjie, die beste Saterdagaand ooit wanneer mens regtig net wil ontspan.

Ek het grootgeword toe arm nog arm was; nie hulpbehoewend nie, maar elke pennie en sent moes hul lê ken om lekker te kon lê. Dit was ‘n wonderlike leerskool waarvan ek die kennis my lewe deur kon toepas. Ek gee nie om om arm te wees nie. Ek slaap snags, ken die kortpaaie en ompaaie en leef ‘n rustige, holistiese lewe. Die geld in my beursie is min, maar nog beter, is daar geen plastiek namaaksel van geld in nie.

Noem my maar arm, maar noem my ook ryk.

Suikerbrood en suurvye

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top