'n Anderwêreldse storie

  • 1

In 'n rooidakhuisie aan die buitewyke van 'n groot rumoerige stad het Kaszap Éva gewoon. Agter vierkantige vensters bokant malse malvas in heuningbruin potte het Éva wydsbeen agter haar harp getreur. “Dis die mense van hierdie stad,” het Éva gesnik en haar kop teen die harp laat rus.

Aanvanklik was Éva bang, en alhoewel sy eensaam in die vreemde stad was, het sy die vreemdelinge se klop aan haar deur ignoreer. Maar, soos dit 'n meisie met 'n goeie opvoeding betaam, het sy tog later die klop begroet en die mense wat in die  vreemde taal praat, ingenooi en tee en Dobostorte aan hulle bedien.

“Jy moet oppas,” het die harp gewaarsku.

“Waarvoor?” het die meisie gevra.

“Vir die mense van hierdie stad,” het die harp gesê. “Hulle praat kwaad. Hulle gedagtes is verdorwe.”

Maar as die deurklokkie lui, het Éva die harp neergesit en die mense van die vreemde stad ingenooi.

Na jare in die vreemde stad het Éva die vreemde taal leer verstaan en sy was geskok.

“Hoekom het jy my nooit gesê nie?” het sy die harp verwyt.

“Maar ek hét,” het die harp verdedig.

Van daardie dag af wou Éva nie meer die mense van die vreemde stad in haar woonstel met die malvas en vars gebak ontvang nie.

Op haar harp het sy gespeel. Musiek van Liszt en Dohnanyi en Magjaarse volkswysies. 

Maar die mense van die stad was uitgeslape. Hulle het deur die oop vierkantige vensters geklim tot binne in Kaszap Éva se rooidakhuisie.

“Wat maak julle hier?” het Éva gehuil.

“Ons soek van jou vars gebak,” het hulle geëis, “en van jou vrolike Magjaarse musiek.”

“Gaan asseblief,” het Kaszap Éva gepleit.

Maar die mense van die vreemde stad het weer en weer gekom.

Op 'n dag was Éva besig om appeljelliekonfyt te maak toe sy haar harp pizzicato-akkoorde hoor sing. Met hande wat drup van die taai sous het sy uit die kombuis gestorm.

“Wat dink jy doen jy?” het Kaszap Éva op die jongman wat agter die harp sit, gegil.

Smalend het hy sy vuil vingernaels oor die snare getrek.

In 'n oomblik van woede het Éva die jongman aan die kraag gegryp, hom by die trap opgesleep en in die solderkamer van haar rooidakhuisie opgesluit. Ná 'n week was daar drie vreemdelinge in die solderkamer toegesluit. Bedags het hulle só aan die deur gehamer dat Éva skaars die musiek van haar harp kon hoor.

“Laat hulle vry,” het die harp gesê.

“Nee! Hulle sal maar net weer en weer kom.”

“Maar hulle is seker  honger,” het die harp gesê.

“Ek kan nie iemand wat met vuil naels op my harp speel, met Dobostorte aan die lewe hou nie.”

Tog het Éva elke oggend 'n bottel appeljelliekonfyt vir die vreemdelinge in die solderkamer geneem. Met verloop van tyd het die houtvloer begin kreun onder die gewig van die dikgevrete vreemdelinge.

“Wat gaan jy doen?” het die harp gevra.

Kaszap Éva het wydsbeen agter haar harp gehuil: “Dis die mense van hierdie stad.”

“Vra die wyse meneer Gyula,” het die harp voorgestel. “Hy sal raad hê met die vreemdelinge.”

“Jy moes jou nooit met hierdie vreemde mense bemoei het nie!” het meneer Gyula geraas. “Hulle praat nie ons taal nie!”  

Éva het haar kop teen haar harp laat sak en bitterlik gehuil.

“En dan voer jy hulle nog met jou soetigheid ook!” Meneer Gyula was kwaad. “Al wat ons nou kan doen, is om hulle te laat sterf.”

“Nee! Nee, meneer Gyula! Dit sal ek tog nooit kan doen nie!”     

“Hulle sal jou van al jou soetigheid beroof, Éva. Jy móét na my luister.”

Nag na nag het die hongeres gesoebat.

“Lê!” het die harp geraas. “Jy moet doen wat meneer Gyula beveel het.”

Vir nagte aaneen moes Éva die gesoebat verduur.

Uiteindelik het dit stil geraak. Sy het meneer Gyula laat kom.

“En nou, meneer Gyula?” het Éva gevra. “Wat doen ons nou?”

“Bring jou harp,” het meneer Gyula gesê, “en kom sit hier neffens my in die tuin.”

Meneer Gyula het 'n diep gat in die tuin gemaak. Die sak met bene wat hy van die solderkamer af gebring het, het hy in die tuin begrawe. Terwyl hy die gat toegooi, moes Kaszap Éva op haar harp speel. Sy moes die musiek speel wat meneer Gyula spesiaal vir die geleentheid gekomponeer het.

En terwyl sy speel, het Éva gesing: “Kyrie eleison; Christe eleison; Kyrie eleison.”

  • 1

Kommentaar

  • Fransi Phillips

    'n Mooi storie.  Geskryf deur Evgeny Artemov, of deur Joanita Erasmus?

    Dis geskryf deur Joanita Erasmus - LitNet

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top