Die pes
Albert Camus
Vertaal deur Piet de Jager
ISBN 978-1-86919-452-9
280 bladsye
Protea Boekhuis (2012)
Klik hier om Die Pes van Kalarhari.com te bestel.
Die verskyning van 'n klassieke roman soos Die pes in Afrikaans moet altyd met opwinding begroet word. Dié roman deur Albert Camus, wat in 1947 gepubliseer is, is uit die aard van die saak alreeds vir meer as 60 jaar wyd bespreek en ontleed. Dit is byvoorbeeld al as allegorie gelees vir 'n uitbeelding van diktature, die onderdrukking van magteloses sonder toekoms, en die Nazi-infiltrasie in Frankryk na 1940. Tog het, met die lees daarvan in Afrikaans en vandag se perspektief daarop, die allegoriese en die universaliteit daarvan opnuut getref.
Camus het as Nobelpryswenner (1957), skrywer, eksistensialis en kenner van die absurde in die letterkunde geen verdere bekendstelling nodig nie.
Aangesien my Frans nie bestaan nie, sal ek my nie waag aan 'n beoordeling van die vertáling as sodanig nie. Ander kundige resensente soos Johann Rossouw het dit reeds gedoen.
Die verhaal van Die pes is oënskynlik eenvoudig. Die “doodgewone”, “gemiddelde” stad Oran, aan die Algerynse kus, word deur 'n pes-epidemie getref. Die verhaal begin met 'n dooie rot (12) en eindig met die tekens van herstel wanneer die rotte weer verskyn (241).
Die verteller is een van die hoofkarakters, dr Bernard Rieux (dié feit word eers laat in die roman bekend gemaak). Hy roem hom daarop dat hy 'n redelik objektiewe verslag probeer skryf van die gebeure uit die gesigspunt van ooggetuies en ander karakters se aantekeninge daaroor.
Die stadvaders weier eers om die feit van die epidemie amptelik te erken, maar langsamerhand dwing die verspreiding van die epidemie hulle tot streng maatreëls wat in effek tot die totale isolasie van die stad en sy mense lei. Die telegram is uiteindelik die enigste middel van kommunikasie na buite. Hierdie gevangeskap en skeiding van die buitewêreld en van hul bekendes en geliefdes word een van die belangrikste temas in die roman.
Verskeie karakters se reaksie op die epidemie en afsondering word deur dr Rieux beskryf: sy eie ervaring as mediese dokter; dr Castel, wat 'n serum ontwikkel; Jean Tarrou, wie se aantekeninge oor die ervaring van die epidemie die verteller ook raadpleeg; Cottard, 'n voortvlugtige vir die gereg, wat die pes se koms verwelkom omdat dit sy misdaad enigsins vergete laat; die joernalis Rambert wat ten alle koste wil ontsnap, maar tog later help om die werk teen die pes vol te hou; en Joseph Grand, 'n gewone munisipale amptenaar wat obsessief besig is met 'n manuskrip en ook later sy deel bydra tot die geveg teen die pes. Daar is ook regter Othon en die priester, vader Paneloux, wie se twee preke belangrike vrae oor die verhouding tussen geloof en lyding ontketen.
Die geleidelike verandering wat by hierdie karakters plaasvind soos die tydperk van verwoesting toeneem, vorm 'n belangrike deel van die intrige teen die agtergrond van 'n al hoe hopeloser situasie waarin tot 130 mense per dag sterf. Die besinning oor wat met hulle gebeur, wat hulle waarneem en hoe hierdie soort tragedie en lyding mense en hul begrip van mens-wees beïnvloed, is dan ook deurlopend die gedagtegang waarmee die leser te doen kry.
In hierdie doodgewone, neutrale stad, waar dit selfs “problematies” is om dood te gaan, word Die Pes in 'n sekere sin die hoofkarakter. “Sy” bestaan word eers nie erken nie, want die publiek moet nie op hol gejaag word nie. Die vals indruk van normaliteit word eers volgehou. Wanneer 'n staat van pes egter verklaar word, word die stad gesluit (69) en die realiteit van hul bestaan verander drasties: die “dorsstok” van die pes word die inwoners van die stad se kollektiewe lot (154).
Die pes kry deur die loop van die verhaal ook verskillende betekenisse: dit is eers 'n abstraksie wat nie konkreet begryp kan word nie; dit word vir die dokter 'n nimmereindigende nederlaag; dit dwing tot besinning oor geloof en lyding; dit word die plig van sekere mense wat met statistiek en registers daarteen veg. Die geveg teen die pes word die daaglikse bestaan en roetine van die stad; dit word beeld van die lewe: die daaglikse gesleur van 'n alledaagse bestaan wat net met die dood kan eindig: “[A]l wat ons nog kan doen, is om boek te hou en ons werk goed te doen.” In aansluiting by die absurdheid van hierdie bestaan begin dit telkens weer van voor af (149), is dit 'n eentonige, “eindelose stoomroller” (165) en “onberispelik gedissiplineerd” (165). Die onophoudelike stroom begrafnisse word die enigste verskil tussen mense en honde: “[O]m beheer en kontrole uit te oefen het altyd moontlik gebly.”
Geleidelik besef die verteller dat die stad en sy mense volkome onder die orde van die pes bestaan. Onder hierdie orde is niks verhewe is nie, het alles middelmatig geword, gedagtes monotoon geword, moet met wanhoop vrede gemaak word, het selfs liefde net abstrak geword en van alle betekenis gestroop geraak, word alle waardeoordele afgeskaf, het slegs blinde volharding oorgebly, het die stad een groot wagkamer geword, en is die hede al wat oorgebly het (166-9).
Die teks dra ook baie spesifieke tekens van die uitbeelding van die menslike kondisie as die absurde: die eentonige herhaling van gebeure, 'n onderdanigheid selfs aan die weer (68); Grand se manuskrip wat bestaan uit die herhaling van dieselfde sin oor en oor; beklemtoning van daaglikse roetine as die enigste leefwyse, die enigste sekerheid wat te vinde is in die vervulling van jou dagtaak; die enigste waarheid is in stilte geleë; die bewus wees van die vermorsing van tyd; die pes wat eers kan bestaan wanneer dit amptelik erken is; die gelate wag op die onvermydelike; die mens se verdoemenis tot 'n ewige stryd teen die pes. Die finale oorwinning word nooit behaal nie – dit sal oor en oor gedoen moet word, sê die verteller op bl 280.
Die motiewe van skeiding en liefde loop hand aan hand. Skeiding word direk aangedui as die grootste en diepste lyding wat die mens kan ervaar, 'n skeiding so erg dat die liefde net 'n abstraksie word, die gesigte van geliefdes vervaag; en as die mens sy rug op liefde draai, dié enigste eg Christelike woord, is die mens ook maar net 'n vae idee. So word ook medelye en vrede net abstraksies totdat die groot skeiding, ballingskap en gevangeskap opgelos word. Dít was volgens die verteller die essensie van die woord pes.
Volgens dr Rieux is al wat hy uit die ervaring geleer het, “dat hy die pes leer ken het, daarby vriendskap leer ken het en dit sal onthou, dat hy tederheid leer ken het en dit altyd sal onthou” (264).
En tog is die positiewe (soos hier bo) nie uitgesluit nie. Daar is die begrip dat die mens se hoop tog wel beloon word, dat daar baie meer in die mens is om te bewonder as om te verag, dat “alle mense eintlik beter is as die indruk wat hulle skep wanneer hulle die geleentheid gebied word” (144).
Die verwysing na die gebruik en betekenis van woorde as sodanig was ook vir my opvallend. Met die telegram as enigste kommunikasiemiddel moes die mense “in die hoofletters van 'n telegram van tien woorde na die simbole van hulle jare lange verbintenis soek” (67), en met die herhaling van dieselfde briewe aan hul geliefdes, het die woorde mettertyd alle betekenis verloor: “[D]it het dooie sinne geword …” (68). Hulle het nie weer die woord rotte gebruik nie en die begrip pes word as onomskryfbaar beskou. Langsamerhand word slegs die algemene spreektaal en alledaagse gesegdes gebruik, omdat alles eentonig en doelloos geword het. Begrippe soos liefde en medelye word slegs abstraksies sonder betekenis; gekerm word die natuurlike taal van die mens. Die konvensionele woorde in die koerante van buite die stad wat probeer om die situasie te beskryf, word slegs bewys van die mens se onvermoë om regtig te kan deel in die leed van ander (130).
Dit is veral die verwysings na Joseph Grand se obsessie met sy manuskrip, die aard daarvan en sy soeke na die regte woord wat die onvermoë van taal verder beklemtoon. Sy manuskrip, wanneer die verteller dit uiteindelik onder oë kry, is slegs 'n herhaling van dieselde sin, oor en oor.
In hierdie lyding, ellende, afsondering en daaglikse stryd om te oorlewe is helde maar skaars. Tog is dit die enkelinge wat hardnekkig voortgaan en met “blinde volharding” hul taak voltooi, baklei teen die pes met syfers, vorms, roetine en orde, wat, in die verteller se woorde, die “onbeduidende, glanslose helde” van dié ervaring word. In die moderne samelewing vol berigte en feite van geweld, natuurrampe, pandemies, hongersnood en die verwoesting van die aarde bly daar ook vir die moderne, gewone mens nie veel anders oor as om te hoop en voort te gaan met sy daaglikse taak nie. Die menslike kondisie het sedert die pes en 1947 helaas nie veel verander nie. En woorde word steeds al hoe meer onmagtig om die werklikheid daarvan te beskryf. Die begrip van lyding en geloof is vandag nog net so aktueel en sal so bly solank die mens weerloos is teen die verganklikheid wat sy lot is.
Die pes bevestig ook in Afrikaans sy klassieke status as 'n roman wat vir alle lesers in alle kontekste besinning bring oor die aard van ons menslike bestaan. Met dank aan Piet de Jager.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

