is dit die woestyn in my
wat na sy groen verlede verlang
om soos ek
met klein happies tyd
tot niks te verkwyn
waar afstande in stof verdof
wyl klank in ’n stiltekolk sink
horisonne nader krimp
en gister onder vandag se sand verdwyn
soos ’n pleister
oor baie jare se pyn
nee ... nie ek nie
want nog nooit was niks so mooi
as die oorvloed daarvan in my woestyn



Kommentaar
Pragtige stuk. Genot in oorgawe.
Lekker vers van jou.
Dankie Barend.
Die heel beste, met oorgawe! Dankie!