My Wildtuinreis

  • 3

‘n Reis is gewoonlik ‘n avontuur, of dit nou na ‘n ou bekende plek is of ‘n nuwe onbekende plek is.  Met elke reis leer ek meer van myself, onthou ek dinge van my kinderdae en beplan ek dinge vir die toekoms.

Daar is gemak in die reis na die bekende. Jy weet waar om te bly, wat om in te pak, wat om te eet en watter plekke, en partykeer mense, jy wanneer moet vermei.

‘n Bekende plek, wat nostalgie en vryheid in oormaat skenk, sal altyd die Krugerwildtuin wees. As daar ‘n geldjie is om te reis, is dit elke keer bo-aan die lys. En elke liewe kompetisie wat enigsins naby die Krugerwildtuin is, word voor ingeskryf. En tog is daar ‘n wye wêreld om na te reis, maar my hart trek met ‘n punt na die bosveld en haar kinders.

Ek het glo al voor my geboorte gereis na die Krugerwildtuin. En my ma vertel graag hoe hulle as 4 kinders in ‘n stasiewa van Punda Maria na Malelane gereis het gedurende skoolvakansies. My ouers het die tradisie voortgesit met ‘n jaarlikse besoek aan die Kruger vir die afgelope 40 jaar. ‘n Reis na die Krugerwildtuin was dus deel van my grootword. See toe in die somervakansie en Wildtuin toe in die wintervakansie. Dit was deel van kindwees – lekker en vol afwagting – soos Brakenjan op TV of daai sjokoladesous wat hard word op roomys. Weke voor die besoek het ek al ‘n lysie opgetrek van als wat moet saamgaan. My Bybel was gewoonlik heel bo aan die lys, met dinge soos ’n flits en tekkies kort daarna. Al die vorige besoeke het ‘n verwagting geskep van avonture wat kan volg, so eintlik enige iets wat in my tassie kon pas, is ingegooi.

Ek ken en geniet die roetes van die Krugerwildtuin, al is dit die noue stof kronkelpaadjies of die lang, oop teerpaaie, want met elke safari-rit is ek op ‘n avontuur. ‘n Mens ken die pad, maar enige iets kan gebeur, en dalk is vandag die dag wat ek daai jagluiperd sien. Met die einde van die rit is ek wel dankbaar dat ek nie daai berugte omgekrapte olifantbul op ‘n draai op daai nou stofpaadjie gekry het nie. Daar is egter geen waarborg dat jy enigiets gaan sien op jou reis na die Krugerwildtuin nie. Die bosveld en haar diere is tog wild. Elke dag is vir hulle ‘n oorlewingsreis. Sonsopkoms en Sonsondergang. Eet of word geëet. Lewe en Dood.

‘n Wildtuintaal word gebruik deur mense wat al gereis het na die Kruger. ‘n Kruger-snobisme van aard. As mense vertel van hulle reis na die Wildtuin, weet jy dat dit sonder enige twyfel na Die Krugerwildtuin verwys. Geen volwaardige Krugerwildtuin-reisiger gaan wonder of die persoon dalk na Pilanesberg of Addo verwys nie. Jy verwys na Kruger-landmerke op sy ken-naam, nie na die naam wat in die mooi gekleurde kaart staan nie. Die gesoute reisigers van Kruger ken selfs die leeutroppe se territoriale gebiede en kan die alfa-luiperdmannetjie van Onder-Sabie maklik op ‘n foto uitken.

Geen reis is voldoende sonder ‘n goedbeplande vooropgestelde spyskaart nie. Kos vir die spyskaart word gewoonlik saamgery of gevlieg. Alhoewel die winkels in die parke meeste proviand aanhou, is die bekostigbaarheid nie na wense nie. Die voorbereiding van ons maaltye word bepaal deur watter tyd van die dag dit geëet gaan word: Voor middagete word enige iets geskottelbraai en na middagete word enige iets gebraai. Proteïne is dus die hoofbestanddeel van enige maaltyd. Braaibroodjies is ‘n moet, maar slaai en groente is bysake, alhoewel moeders maar altyd iets sal voorsit vir kleur op die bord en voedingswaarde vir die kinders. Enige iets wat oorbly is padkos vir die volgende dag. Daaraan knibbel ons as ons oppad is om ontbyt by ‘n piekniek-area te gaan maak. Wees net op die uitkyk vir lastige apies wat onbewaakte kos steel by die piekniek-areas. O, en aangesien ons op die uitkyk is, moet ek seker ook noem dat Mnr Hiëna al telkemale ‘n tjoppie van die braai afgesteel het terwyl niemand wag gehou het nie.

Die beste braaihout is die houtjies wat skelm in die veld opgetel word. Dit word dan vinnig tussen die kinders se voete ingedruk. En telkemale het ‘n spinnekop of twee al sy verskyning gemaak op ‘n been. Tussen die gegil deur word die kar word gestop, die houtjie uitgegooi en ‘n nuwe houtjie gesoek.

Die staaltjies wat ons as gesin deel van al die dinge wat al gebeur het in die Wildtuin kry mettertyd stertjies by. En die klassieke stories word gedeel jaar na jaar. Die keer toe ek vir die eerste keer as 3-jarige kind die letter “R” sê – toevallig toe die Groot Olifant ons kar storm, of die keer toe ons die mooiste luiperd in ‘n boom sien en iemand irriterend op die toeter lê, net om te besef dit is ons kar – die toeter is in die opgewondenheid gedruk. En staaltjies word uitgeruil tussen mede-wildtuinreisigers. Dit is iets wat net outomaties gedeel word. Krugerwildtuin is ‘n kodewoord, spontane gesprekke vloei tussen reisigers. Partykeer wen jou storie, ander tye is ‘n gevoel van ligte groen teenwoordig. Ek vind elke storie ‘n aansporing vir die volgende besoek ... want iemand het al iets soortgelyks ervaar.

Die lekkerste van ‘n reis is dat dit in jou kop gestoor is. Mens kan enige tyd of plek weer op daai reis gaan. Sonder bagasie, sonder uitgawes, op die gemak van die tuinstoel op ‘n herfsmiddag. En partykeer onthou mens elke ding, maar ek vind soos die jare aanstap en my kop voller raak, verdwyn die randjies van die lappieskombers so bietjie. Die kleure en geure verdof, die inhoud word gemeng. Maar tog bly die gevoel - die gevoel van tuiskoms, van hier hoort ek bly sterk en naby.

  • 3

Kommentaar

  • Ek kan nie soos 'n inheemse Afrikaner skryf nie, maar ek kan goeie Afrikaans in ander waardeer. Wat 'n heerlike opstel - 'n eenvoudige dog doeltreffende uiteensetting van die gevoelens wat 'n mens dikwels nie woorde kry om oor Kruger uit te druk nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top