
Fotobron: Canva
My vrye wil
Watter ontploffing
kon dertien duisend miljoen jaar terug
eindelose sterrestelsels
wêreldwyd versprei?
Waar kon, tussen
ontelbaar ander sterre
in die Melkweg, ons eie son
sy ruitverwysing kry?
Hoe kon 'n kokende klein massa
tot ’n aarde stol
wat 365 maal moet draai
om een keer om dié son te tol?
Uit watter enkelsel
op hierdie grond
het drie duisend agt honderd miljoen jaar terug
die lewe begin vloei?
Hoe kon uit primate ─
aapagtige soogdiere
soos gorillas en sjimpansees ─
wat met storm en roofdier stoei
van sesmiljoen jaar gelede af
voormense én oermense groei?
Hoe het die mens-met-verstand
─ Homo sapiens ─
gereelde katastrofes gemis
wat sewentig persent lewe
op dié tollende bal uitwis?
Terwyl hy die aarde deursnuffel
van hoek tot kant:
wie het vir dié kalant
leer hutte bou en vuur maak
leer praat en skryf
leer ploeg en plant?
Kan ek vrae beantwoord
oor waarheen en waarvandaan?
Is ek bewus genoeg
om selfs die vráé te verstaan?
Waar dertien duisend miljoen jaar
die ruimtetyd
beswaarlik kan begrens,
vorm die laaste dertiendúísend jaar ─
skaars een miljoenste ─
die bewussyn van die mens
Hoe volkome buig
my brein en lot
heelal
voor jóú gebod
Jy vorm my liggaam
om te eet,
om voort te plant,
op aarde rond te loop
Vir die skouspel
van die sterre
en die lewe
beur jy my oop
Één lyf, één blik
één kans gee jy
één keer vir my
om so ’n paar maal
op die aarde
om die son te ry:
om te verskyn,
dan asemrowend
te verdwyn


Kommentaar
Pragtige gedig! Skeppingsverloop keurig samgevat, geluk!
En hoe oorskat ek my self so gereeld - daagliks! - binne, wat jy so welsprekend noem, die "skeppingsverloop". Stel jou opmerking opreg op prys Stephan!
Jy vat my gedagtes oor hierdie onderwerp so mooi vas.
Ek is bly Petro. Saam met jou, worstel baie van ons om iets te probeer snap van die geografiese omvang, en die historiese verloop, van die verstommende wêreld waarin ons ons bevind.
Lekker gelees. En natuurlik goeie sosiale kommentaar uit fragmente.
Elke brokkie sosiale kommentaar ontbloot 'n vars blik - die verskynsel wat Friedrich Nietzsche tipeer as perspektiwisme. Dankie Berdéhan!
Skeppende digwerk wat stukkies inpas om 'n geheel te vorm. Welgedaan Louis!
Bly ek in verwondering staan voor hierdie *'marvelous' (gee vir my 'n Afrikaanse woord wat hierdie *woord so innig kan vervang) skeppings Woord wat deur klank en metafoor 'n hele kosmos om kon dig -- en waarvan die hemelse toejuiging saam met ster en planeet boodskappe stuur in 'n simfonie van Sy lof.
Die hele aarde -- 'n Gedig.
Wonderlike tema Louis.
* prewelendverbasende
Inderdaad! Dis juis omdat elke stukkie – ook elkeen van ons – êrens inpas, dat alles so 'n uitsonderlike geheel vorm: die heelal. Daaroor bly ons Margaret, saam met jou, in verwondering!