Die opskrif het ek bedink om Cecil John Rhodes en sy geesgenote in herinnering te roep – aangesien hulle nou in die nuus is.
Rapport het homself Sondag in die skande gesteek met 'n reuse opskrif op die voorblad: “Eskom dril vir ramp.” Dit neem die leser 'n rukkie om te besef dat die “dril” niks obskuur is nie maar net Eskom se oefening om seker te maak dat hulle selfs 'n groot kragfiasko so goed as moontlik sal kan beheer. “Eskom oefen vir ramp” sou die onduidelikheid opgeklaar het.
Het al gekla (seker by meer as een geleentheid) en selfs hulp by SêNetters gesoek omdat daar nie 'n lekker uitdrukking vir die anglisistiese “tong in die kies” is nie. En toe verskaf my voorbrein skielik die antwoord: skalks. Volgens die woordeboek kan dit 'n byvoeglike naamwoord of 'n bywoord wees. “Grappig; ondeund; vrolik tergerig: Sy kyk my skalks aan. 'n Nooi met skalkse oë. Skalksheid.
Is daar nog sulke probleme wat ons dalk met 'n gesamentlike poging kan oplos?


Kommentaar
Nog baie, jy moet hulle net uitwys dan dink ons almal saam daaraan. En soos jy nou aangetoon het, dis nie dat nuwe uitdrukkings vir die Engelses gesoek word nie, dis net 'n kwessie van die Afrikaanse bestaandes opdiep.
Beste George B,
Idiomatiese uitdrukkings vanuit Engels is nou maar Afrikaans se voorland, want die twee tale fungeer langs mekaar in Suid-Afrika.
Ek dink "tong in die kies" is alreeds ingeburger, soos bv "dis op die punt van my tong". Lg is ook anglisisties, so ook het 'n skoen 'n tong. Niemand praat van 'n skoenleertjie nie.
Die naaste wat Afrikaans aan "tongue in one's cheek" kom, is met die woord "spottend", maar die twee is nie heeltemal sinoniem nie. "Tong in die kies" is ironies, terwyl spot meestal sarkasties is.
"Skalks" het meer die betekenis van ondeund, grappig, soos jy tereg opgemerk het.
Groete,
Angus
Hallo
Ek sou graag wou weet wat die oorsprong van "tong in die kies" is.