Pat Stamatélos: Die val van die dice
Kwela-boeke (2007)
ISBN: 9780795702570
Slapband, 245 pp
Koop Die val van die dice nou by Kalahari.net!
Hierdie roman is die opvolg van Stamatélos se gewilde Kroes en sit die lewensverhaal van Pattie Peters voort. Met haar debuutroman (en met hierdie een) bied Pat Stamatélos aan ons ‘n kritiese binneblik op die lewe van die Griekse segment van die Suid-Afrikaanse samelewing, soos wat Darryl Accone in sy All under heaven (2004, David Philip) vir ons ‘n perspektief gegee op die lewe van Chinese immigrante in Suid-Afrika.
Die titel van die roman is ontleen aan ‘n reël uit ‘n gedig van Adam Small: “Die Here het gaskommel, en die dice het verkeerd geval vi’ ons, daai’s maar al” (200). Die titel sluit aan by die sentrale gegewe in die roman, naamlik dat die geherklassifiseerde Pattie voortdurend bewus gemaak word van haar verlede, veral omdat haar man so rassisties is.
Op die voorblad is ‘n swart-en-wit foto van ‘n meisie in ‘n trourok wat by die venster uitloer, en dit plaas die leser onmiddellik in die sfeer van die storie: dit handel oor die getroude lewe van Pattie Peters met “die man”, of “die pa van my kinders”, soos sy hom noem.
Enkele dae voor haar huwelik met haar Griekse minnaar Laki Pappasani sterf hy en sy trou dan met sy broer. Sodoende kry hy ‘n werkspermit om na Suid-Afrika te kom en op die spoorweë te kom werk. Die ontmoeting tussen Pattie en Laki se broer word beskryf as “spectacular” en as “stof vir ‘n Hollywood-movie” (34), maar sodra hy sy permit gekry het, bly daar niks van daardie opspraakwekkende ontmoeting oor nie.
Die roman sentreer rondom die probleme in hierdie huwelik, veral wanneer man en vrou uit verskillende kulture kom. Pattie is ‘n Afrikaanssprekende vrou en Pappasani is ‘n Griekse man. Uit die roman lei ons af dat die Griekse mans van kleins af geleer word om opperste chauviniste te wees en hulle vroue reduseer tot slavinne in die huis en die slaapkamer. Die verteller illustreer dit aan die hand van die volgende:
Met ons besoeke aan Griekeland het ek agtergekom wat ‘n Griekse vrou alles moet verduur, en vir hoe lank. En met ‘n glimlag. Dit het ek gesien by sy ma en pa. Sy pa praat met sy ma, maar hy kyk nooit na haar nie, altyd verby haar, of sommer anderpad (236).
‘n Vrou wat in diens staan van haar man (soos die onwelriekende Daffy van Takos), word as die ideaal voorgehou, en wanneer haar man vir ‘n dak oor haar kop sorg en kos koop, moet sy tevrede wees en nie afvallig raak nie. Die kinders word aan streng dissipline onderwerp, wat van generasie tot generasie oorgedra word:
Toe sy pa [Pappasani s’n - MC] uitvind het hy hom geslaan dat hy ‘n week in die bed moes bly. “My father said: ‘I make you, I kill you.’ That is discipline,” sê hy trots (171).
Benewens sy chauvinistiese inslag is Pappasani boonop nog besonder rassisties en is daar by hom ‘n sterk vermoede dat Pattie nie is wie sy voorgee om te wees nie. Uit die rekonstruksie van haar verlede en veral Dadda se vrees dat die polisie hom gaan arresteer oor sy ID-dokument, kom ons agter dat sy en haar susters destyds onder die absurde apartheidswette as Blank herklassifiseer is. Hulle probeer hulle verlede uit te wis deur alle foto’s te verbrand, gestileerde familiefoto’s in die huis op te sit en hulle broer te vermy, want sodoende kan hulle die verlede verswyg:
Nes Kay het ek omtrent al wat familiekiekie is verbrand. Met die trek van ‘n vuurhoutjie my verlede uitgewis. Net so. Mamma was te bruin, die anties was te bruin, my broer is te bruin, my vriende is te bruin. Net my susters lyk wit, hulle kiekies kan ek maar hou. My geheim veilig bewaar vir meer as negentien jaar (223).
Die verlede word verswyg ter wille van selfbehoud. Pattie dra egter ‘n koevert met foto’s van haar kinderjare in haar handsak en wys dit byvoorbeeld aan haar dogter. Soela, die dogter, maak maklik (té maklik) vrede met haar moeder se verlede. Haar man se reaksie is meer gewelddadig en voorspelbaar. Hy tree vriendeliker as gewoonlik op en bring vir haar koffie in die kamer, maar wanneer sy dit wil drink, sien sy dat die koffie gebring is in die getjipte beker van die tuinwerker. Ook saam met dit:
Stukkies van foto’s. Stukkies van mense met gebrande gesigte.
Stukkies van my en Laki, sy arms om my, sy gesig weggebrand … Die foto’s in my handsak, wat maak dit hier? …
Oompie Spykers se gesig is nie gebrand nie, ook nie Kitty of Maggie nie. Dik swart koki maak ‘n sirkel om die oompie se kop, om die anties se kop (238).
Pattie oorweeg deurentyd om van haar man te ontvlug en huur ‘n woonstel met geld wat sy van Kosta gekry het, maar sy kan nooit werklik volkome ontsnap uit die beklemmende huwelik nie. Sy neem byvoorbeeld haar dogter soontoe, maar sy is te vasgevang binne haar gewelddadige huwelik en finansieel te afhanklik van haar man om volkome te kan ontsnap. Die man wat haar aanvanklik van haar voete af kon sjarmeer, het in ‘n monster verander. Die seksuele verkeer in die huwelik word ‘n wrede magspel om haar te verneder en te verkneg. Sy definisie van die liefde is dat mens die persoon wat hy lief het, altyd seermaak (27) en dit verklaar waarskynlik ook hoekom hy op so ‘n brutale wyse seksueel met haar verkeer.
Al uitweg vir haar is om selfmoord te pleeg. Ons word daarop voorberei vroeër in die roman, want ons beleef een van Pattie se selfmoordpogings, wat op die nippertjie nie plaasvind nie. Na die tragiese dood van haar eersgeborene het sy ook probeer selfmoord pleeg (43). Be-teken dit juis vir ons die onontsnapbare dilemma waarin die meeste mishandelde getroude vroue hul bevind? Dat net die dood hulle kan bevry uit hulle gemanipuleerde bestaan? Hoeveel waarheid is daar byvoorbeeld in Irini se stelling: “Patoela, my dear sister … you are a floormat only because you choose to be one” (30)?
‘n Groter uitdaging vir Stamatélos sou wees om haar juis nie dood te maak nie en te probeer om met ‘n ander slot vorendag te kom. Maar nou ja, romans is nie veronderstel om sosiale probleme op te los nie.
Uit die reaksie van karakters soos Lettie en Vlooi op Pattie se ontevredenheid met haar lot, blyk dit dat sosio-ekonomiese faktore vir eersgenoemde twee belangriker is. Dit is opvallend hoe sterk die koppeling van klas en ras nog in hul lewens is. Vergelyk Vlooi se opmerking in dié verband:
Djy bly dan in ‘n white suburb, djou kinners in wit skole. Djy behoort aan die privileged class wat kan kom en gaan soos djy wil. Vote soos djy wil, en pee en shit waar djy wil, én dan kry djy nog djou marriages dues in bed. Wat méér wil djy hê? (152)
En verderaan:
Djy moet net ythou. Djy het ‘n dak oorie kop, kos oppie tafel, die man betaal die electricity, doen sy ding night time (153).
Vlooi as die agtergestelde vrou beny Pattie haar bestaan en haar woorde kom sterk ooreen met dié van Pappasani. Vir haar is die man die voorsiener en broodwinner en die verskaffer van seksuele plesier – wat besonder ironies is as ons die wel en wee van Pattie in ag neem.
Die outeur is heel vernuftig deur die boek af te sluit met ‘n hoofstuk vanuit die perspektief van die dogter Soela. Ek het amper opgewonde geraak toe ek in die eerste sin lees van “Robert, my man” (241). Ek dag toe dat Pattie uit haar man se kloue ontsnap het, maar helaas alweer gaan staan en trou het. Slim truuk om die leser te lok om verder te lees. Dis in hierdie gedeelte wat ons lees van Pattie se dood, van Dadda se dood, hoe die seuns hulle pa verwerp het en dat hy veertien jaar na Pattie se dood met ‘n Griekse vrou getroud is.
Hier en daar het ek probleme met die formulering en die mooiskrywery, met die stereotipering van die karakters-as-tipes, met die stroperige, religieuse Martie (as verteenwoordiger van die ontvlugtende vertroostende godsdiens), met die herhaling van die handelinge; maar in die geheel gesien, is dit ‘n onderhoudende en vermaaklike roman wat beslis in menigte se smaak sal val. Ek wag met opgehoue asem om te sien waaroor Pat Stamatélos volgende gaan skryf. Haar eerste twee romans is goeie voorbeelde van outobiografiese skrywing en noudat Pattie Peters doodgeskryf is, wonder mens watter perspektief sy volgende gaan ondersoek. Haar romans kan met EKM Dido se werk vergelyk kon word, want albei vroue konsentreer sterk op die identiteitsproblematiek van die bruin vrou in Suid-Afrika.

