My sienings as Afrikaner

  • 4

Dagsê Jan Rap

Jy dink nie dis straks bietjie voorbarig om namens my te besluit hoekom ek optree en dink soos ek doen nie en dan sommer van Damaskus-oomblikke te praat nie? Jy is geregtig op jou eie opinie maar beslis nie geregtig om jou eie feite oor my beweegredes te konstrueer nie.

Volgens jou is ’n definisie van ’n Afrikaner onnodig omdat enige persoon wat na homself as ’n Afrikaner verwys, ’n Afrikaner is. Dit klink na ’n rein en nobel voorstel totdat jy jou volgende sin begin met “Hy sal dan logieserwys doen wat Afrikaners doen ...”. Op daardie oomblik begin jy met jou definisie van die Afrikaner – een wat logieserwys alles doen wat jy doen.

Die indruk wat ek kry is dat jy eintlik maar ’n rassekonnotasie aan die woord Afrikaner wil heg en meen dat die rasverdelings van die verlede voortgesit moet word. Doen jy nie maar lustig mee aan die ANC se rasbenepenheid met jou aandrang dat wit, bruin en swart Afrikaanssprekende as drie duidelik verskillende groepe gesien moet word nie? Soos ek gesê het soek ek na ’n soepel naam vir die Afrikaanse taalgemeenskap. Afrikaanse of Afrikaanssprekende is vir my lomp name en val die woord Afrikaner lekker op die tong. Ek besef dat dit dalk ’n idealistiese benadering is. Mense soos jy beskou die naam as die eksklusiewe eiendom van die blankes wat weer die effek het dat dat nie-blankes nie aan die idee wil byt nie. Deur egter voort te gaan om ons obsessie van die verlede oor ras voort te sit, sterk ons eenvoudig die ANC in hulle diepgewortelde rasbeheptheid en verskaf geil teelaarde vir die huidige beleid van regstellende aksie.

My gevoel van vryheid na 1994 het te make met my belewenis as individu. Ek noem slegs vyf voorbeelde. Eerstens, ek reis graag en ons Afrika-reis van 2010 byvoorbeeld, sou gewoon onmoontlik gewees het voor 1994. Daar is natuurlik nog vele ander bestemmings soos Skandinawië wat ek skielik na 1994 ongehinderd kon besoek. Tweedens, kan ek nou lees en doen wat ek wil. In die sewentigerjare het ek en my vrou as pas gegradueerdes in die geheim André P. Brink se Kennis van die Aand gelees. Soos misdadigers moes ons die boek smokkel van plek tot plek omdat “iemand” namens my besluit het ek nie die boek mag lees nie – 1994 het my vrygemaak hiervan. Derdens, gedurende die tagtigerjare het ek ’n bestuurspos by ’n industriële groep beklee. In daardie tyd was ek voorsitter van die Rapportryers in die dorp en wou ek die plaaslike verteenwoordiger van die Wêreld Raad van Kerke uitnooi om ons te kom toespreek. My sekretaresse het die uitnodiging getik en in die proses ’n paar mislukte probeerslae in die snippermandjie gegooi. Ek is een middag deur die veiligheidspersoneel voorgekeer en ondervra oor my bande met die WRK – niemand gaan nou meer deur my snippermandjie nie! Vierdens voel ek skaam as ek lees hoe die vryhede van mede-Afrikaners soos Max du Preez en André Brink aangetas is. In die laaste plek is ek baie lief vir sport en het ons internasionale deelname aan sport sedert 1994 vir my wonderlike vryheid gebring.

Natuurlik is die nuwe Suid-Afrika vol probleme en is die onbekwaamheid en vergrype van die ANC afgryslik maar daar is werklik baie om voor dankbaar te wees. Soos ek al vantevore vir jou gesê het, sien ons dieselfde situasie bloot uit twee perspektiewe – vir jou is die Suid-Afrikaanse glas halfleeg terwyl dit vir my halfvol is.

Groetnis
Thomas

  • 4

Kommentaar

  • Thys Human (PTA)

    Hou moed, Thomas. Ek gaan jou antwoord, maar ek hou nog bietjie naweek - selfs ek doen dit soms!

  • Thys Human (PTA)

    Thomas, jy het nogal mooi woorde gebruik en 'n hele paar mooi dinge kwytgeraak oor wie of wat 'n Afrikaner is in antwoord op Jan Rap se stuk. Ek moet jou egter aanvat oor 'n ding of twee, drie, maar ek doen dit maar versigtig want ek sien jy het minstens die kwessie bietjie deurdink - nie sommer net emosioneel gereageer soos sommiges nie.

     
    My probleem is juis met een of twee ernstige "denkfoute".  Jy kapittel Jan Rap oor wat jy sien as 'n rasse-konnotasie wat HY aan die begrip Afrikaner heg en dan sê jy dat jy soek na 'n "soepel naam" vir die Afrikaanse taalgemeenskap en dan besluit JY dat die begrip Afrikaner jou pas en dan is dit sommer so.
     
    DIT is mos voorbarig, Thomas, maar ook ernstig foutief. Want die begrip Afrikaner het baie lankal 'n sterk "volks"-element in hom. Seker nog voor die Eerste Afrikaanse Taalbeweging in die Kaap. Daar is oorgenoeg bronne (veral Giliomee) om te kan bevestig dat die Afrikanervolk 'n identifiseerbare entiteit was reeds kort na die Tweede Vryheidsoorlog.  En dit het reeds voor '48 nog sterker beslag gekry - veral met die herdenking van die Ossewatrek in '38.Dit het ook eenvoudig so ontwikkel dat slegs wittes Afrikaners kon wees (en wou wees). Die begrip omvat nie 'n taalgemeenskap nie en dis ook nie nodig nie want daar is talle voorbeelde waar 'n gemeenskaplike taal nie noodwendig 'n gemeenskaplike volk (of groep) definieer nie - met Oostenryk en Duitsland dalk die beste voorbeeld. (Nota: daar was 'n tyd toe sommiges gedink het Afrikaner beteken "suiwer" wit, maar daar is lankal erken dat daar in die vroeë jare van die Kaapse nedersetting bloedvermenging was - maar daar word ook erken dat dit kort na 1700 reeds sterk afwysende houdings begin kry het.)
     
    Soos jy het ek ook verskeie dinge in die dae van die ou NP-regering as uiters negatief ervaar - soos sensuur, soos wette oor Sabbatsontheiliging, soos bekrompe "klein apartheid", ja selfs soos "teistering" deur die spoke - net al met my was dit onder die bewind van PW Botha en sy sekurokrate wat my telefoon- en ander gesprekke en ontmoetings gemonitor het net omdat ek openlik gekant was teen sy nuwe bedeling - die ding wat uiteindelik regstreeks gelei het tot jou "individuele bevryding" in 1994.
     
    Dit is dan ook hieruit duidelik dat jou politieke oriëntasie toe al radikaal verskil het van myne (en dalk ook van die van Jan Rap). Want ek het presies die teenoorgestelde in 94 ervaar: Vir my was dit duidelik die begin van die einde van die Afrikanervolk se seggenskap oor homself, van swart meerdersheidsonderdrukking, van agteruitgang en verval. Ek het dit in die openbaar voorspel, Thomas. Soos jy weet was ek reg!
     
    Ek vind bitter min in hierdie Nuwe SA om voor dankbaar te wees. Die Suid-Afrikaanse glas is nie halfleeg of halfvol nie - hy het reeds aan skerwe gespat en die mengelmoesdrankie sypel weg in die sand van korrupsie, politieke en ekonomiese onderdrukking (ook vir ander groepe soos die Kaapses), verval en toenemende ellende.
     
    Dan soek ek na wegkomkans van al die dinge, na ontvlugting. As ek net 'n paar jaar jonger was, het ek soos baie familie en vriende heel padgegee na 'n ander land.  Maar nou probeer ek en 'n klompie mede-Afrikaners (sommige van hulle sukkel om my as een te erken oor my godsdiensidees, maar hulle begin leer) om nuwe idees, nuwe modelle. nuwe oplossings te soek sodat ons as Afrikaners, as 'n volk, dieselfde regte van die grootste mate van beheer oor onsself kan geniet as wat die Skotte en die Kataloniërs soek, as wat die pasvrygeworde volkere van die Balkanstate en so baie ander reeds geniet.
     
    Of ons daarin gaan slaag is 'n ander storie.
     
    Jy sal dus maar 'n ander term vir jou taalgemeenskap moet kry - wat van daai "Kaaps". Dit is mos juis daar  wat daar ook onder eertydse Afrikaners glo so 'n sterk "gemeenskaplikheid" woed dat ondertrouery al weer  aan die toeneem is. Dit gaan natuurlik 'n yslike kloof tussen Afrikaners en die nuwe groepering plaas - veral in die Kaap. Maar miskien is dit goed so. Ons probeer al te lank om mense in die Afrikanerkamp te betrek wat nie daar wil - en kan wees nie. Dalk het die tyd aangebreek dat ons weë behoorlik skei.
     
     Sterkte!
  • Thys

    Soos ek gesê het, is die Afrikaner maar ’n sikspens in hierdie land. As jou oplossing dan nou is om ’n tiekie daarvan uit te definieer is dit seker jou goeie reg – ek verskil wesentlik daarvan en glo dat die oorlewing van ons taal langs die weg van ’n inklusiewe definisie lê. Ek het die stelling gemaak dat my voorstel, om die woord Afrikaner te gebruik as kollektiewe naam vir die Afrikaanse gemeenskap, heel moontlik idealisties is. As die Afrikaner dan ’n aparte volk is, soos jy beweer, dan is dit miskien belangrik dat ons presies weet wie en wat die Afrikaner is – miskien is die definisie sodanig dat ekself nie daarmee kan identifiseer nie. Slegs deur daaroor te debatteer gaan ons iewers kom.  

    Groetnis 

    Thomas

  • Beste Thomas

    Om die saak te debatteer gaan net ’n steriele oefening wees. Daar is vele uitgangspunte wat en wie Afrikaner is, welke uitgangspunte met mekaar onversoenbaar is.

    Die realiteit is die Afrikaner-samelewing. In hierdie samelewing, net soos met enige ander volk, kry ’n mens verskeidenheid. Onder hulle kry jy diegene (puriste) wat ander se identiteit gedurig bevraagteken en, wat wil voorskryf dat almal in ’n eentonige eendersheid moet voorkom. ’n Tipiese voorbeeld is die Nazi-siening in die 1930's tot 1940's oor wat en wie "Arian" ras was, met die daaropvolgende reinigingsproses (genocide) van almal wat hulle as "on-mens" verklaar het.

    Die gemiddelde Afrikaner steur hom glad nie aan wie en wat Afrikaner is nie, want hy weet sodanige begrip is in elk geval verdelend, ’n luuksheid wat ’n piepklein volkie min kan bekostig. Daar is ander meer intense "issues" wat hom in die gesig staar, nl. oorlewing en veiligheid.

    Of jy in ’n politieke bestel vir die Afrikaner in glo al dan nie; of jy inklusief of eksklusief glo wat Afrikanerskap behels al dan nie, is nie ter sake rakende jou persoonlike Afrikanerskap nie. Jy bly ’n Afrikaner. Iemand het onlangs hier geskryf dat Koos Kombuis van sy Afrikanerskap afstand gedoen het. 

    Hy kan wel so sê, maar Afrikanerskap kan hy nieteenstaande summier afskud nie. Hy sal altyd as Afrikaner deur ander aangesien word. Dit bly in jou wese.

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top