
Foto: Canva
My saak
ek maak
’n saak
vir rondlê
niksdoen
naak
private warm rots
in ’n getypoel
wat glinster
met ekstase
ek maak
’n saak
om saam
die seebodem
te gaan ontdek
en dan weer
haar lyfie
saam met die son beskou
droog bak
au naturel
ek maak
’n saak
vir ’n bodemlose
koue bottel Viognier
en fyn glase
tzatziki dolmades
biltong
skerp knipmes
ek maak
’n saak
vir ’n vroeë
aand vuurtjie
ek en sy
onsigbaar vry
in ’n kolk
oranje duine
ek maak
’n saak
vir ’n vintage
oopkap-Landy
staar na die vroeë sterre
vanaf my skoot
kaal sandvoete hang
by die venster uit
al om die leë
warm kuspad
tussen berg en see
al dan nie
’n classic Vespa, rooi
sal ook doen
sommer net
vir die thrill
ek maak
’n saak
vir ’n riet-
buitestort
knap vir twee
ons soutlywe
te verfris
natuurlik elegant
nat naak spontaan
gekleef in haar sari
en dan nou laastens
maak ek
’n saak
dat daardie dag
vashaak
soos ’n plaat

