My reis met boeke

  • 1

Ek is baie lief vir reis. Reise om die wêreld en na soveel eksotiese en historiese plekke – ook na my stamlande – om iets van hul kultuur en dus van my eie agtergrond te verstaan. Ongelukkig is een van die realiteite van die wêreld vandag dat jy baie geld en tyd moet hê om te kan reis. Ek was nou al wel na Engeland, Europa, die Ooskus van Amerika en die Karibiese eilande, maar dis maar net ’n klein gedeelte van die wêreld wat ek wou beleef.

Gelukkig is ek versot op boeke. Vandat my onderwyseres ma my op die ouderdom van drie leer lees het, het ek boeke verslind. Al die Trompie boeke het ek in standerd een (graad drie) klaargelees gehad. In standerd vier (graad ses) het ek boeke soos Gode, Graftes en Geleerdes van C.W. Ceram oor argeologiese opgrawings in Egipte gelees en in grade sewe en agt die Afrikaanse Kinderensiklopedie vanaf Volume een tot tien van hoek tot kant, omdat ek wou weet wat in die wêreld aangaan.

Ek was nooit lief vir papegaai-leer nie en het dus nooit briljante eksamenuitslae gehad nie, maar meer op my uitgebreide algemene kennis staatgemaak om my deur my eksamens, selfs op graadvlak, te kry. Boeke destyds en tot vandag toe is nog steeds die fondament van my lewe en ek moes selfs my eie persoonlike biblioteek onlangs uitbrei met ’n ekstra vertrek om my versameling boeke te kan huisves.

Desiderius Erasmus, die ou Nederlandse filosoof, het al honderde jare gelede gesê dat wanneer hy geld kry, hy heel eerste boeke koop. Indien daar iets oorbly, koop hy kos en klere. Dis so na as dêmmit aan my eie lewensfilosofie. Thomas Macaulay het weer gesê: “Ek is liewer ’n arm man wat in ’n solder met baie boeke woon, as ’n koning wat nie lief is vir lees nie.” Prof. Elize Botha het weer gesê: “Boeke is soos brood en mens moet elke dag ’n bietjie daarvan in jou lyf kry.”

Boeke het ook die vermoë om mens op reis te neem na al die plekke waarheen jy nog altyd wou gaan. Jesse Lee Bennet skryf in sy boek, Books as Guides, die volgende: “Boeke is die kompasse en die teleskope en hoogtemeters en kaarte deur ander kundige mense voorberei om ons te help om die gevaarlike see van die lewe te bevaar.” Soos die ou omie wat deur sy vrou met die tydskrif, Playboy, betrap en uitgevreet is, terug geantwoord het: “Ag, Mammie, dis maar net soos die tydskrif, Weg. Dit wys jou plekke wat jy anders nooit sou gesien het nie!”

Ek het nou onlangs gelees van ’n bekende Engelse skrywer wat sy gewilde avontuurromans telkens in nuwe eksotiese plekke laat afspeel, maar uiteindelik moet erken dat hy nog nooit in sy lewe verder as 50 km. buite Londen was nie. “Hoekom moet ek duur en dalk gevaarlike reise na vreemde plekke onderneem, terwyl al die inligting oor hulle vryelik in die Britse Biblioteek in Londen beskikbaar is? Wys jou net! Al stem ek nie saam met sy gebrek aan reislus nie, het hy dalk tog ’n punt beet.

As jy darem al ’n bietjie gereis het soos ek, is dit dubbel so lekker om ’n spanningsroman of reisverhaal te lees wat afspeel in die stad of land waar jy al was. Die nuutste boek wat ek lees, is ’n speurverhaal wat in Londen afspeel en dis lekker om spesifieke plekke of woonbuurte te herken as daar na hulle verwys word, soos bekende publieke geboue, of selfs ’n Fish en Chips eetplek waar jy ook al tevore gekuier het. Netso het ek onlangs Edward Rutherford se magistrale roman, New York, oor die onstaan en ontwikkeling van daardie stad so geniet, juis omdat ek self op baie plekke in New York was waaroor hy so interessant skryf.

Reise in die verlede is net so interessant. Hoewel daar ongelukkig nog nie werklike tydmasjiene bestaan waarmee jy in die verlede kan gaan kuier nie, het sommige skrywers net die wonderlike vermoë om jou op ’n tydsreis na die verlede te neem waar jy voel of jy werklik self rondloop. A.C. Celliers se Trilogie, Lewensavontuur, oor sy grootword en studentejare in die Boland van ’n eeu gelede; F.A. Venter se reeks oor die Groot Trek: Geknelde Land, Offerland, Gelofteland en Bedoelde Land  en Eilande van Dan Sleigh is maar net ’n paar van die baie boeke wat jou op ’n lewendige terugreis in ons geskiedenis neem.

Ook P.G. Du Plessis se Die Fees van die Ongenooides gee jou ’n besondere blik op die mense wat die bittere jare van die Anglo Boereoorlog moes deurmaak, terwyl Herman Charles Bosman se stories oor die mense van die Groot Marico ’n plesier sonder ophou bly. Max Gallo se roman, Napoleon en Umberto Eco se boeke oor Europeërs in die Middeleeue, maak weer ander lewenswêrelde vir mens oop.

Boeke neem jou, veral deesdae, ook op wonderlike reise deur eksotiese of tradisionele koskulture en smake. Moderne kookboeke lees soms soos goeie reisverhale en die stories wat hulle rondom die verskillende kosse bou is soms lekkerder as die disse self. So het Dine van Zyl in haar Die Groot Boerekos-boek werklik daarin geslaag om iets van ons Afrikaners se Koskultuur te bewaar.

Emilia Le Roux en Francois Smuts se Waar Vye nog Soet is,beskryf nostalgies my verlangse familielid, oom Swepie Le Roux van Doornkraal buite De Rust, se tipiese plaasbestaan en resepte van jare gelede. Bernadette Le Roux en Marianne Palmer se Marmalade en Moerkoffie vertel weer van die lewenswyse en kosresepte van die Palmers op hul plaas Cranemere naby Pearston waar ek ook al ’n draai gemaak het. Ander soos Maritha Van der Vyfer se Somerkos in Provence, neem jou na eksotiese plekke in ander lande en kan jy eintlik hul kosse in jou kop begin proe aan die heerlike beskrywings in hierdie boeke.

Boeke gee jou ook insig in jouself. Bartholin het gesê: “Sonder boeke is God stil.” Jy herken dikwels situasies en probleme in die boeke wat jy lees en die oplossings herlei jy soms onbewus na jouself. Blaise Pacal het eens geskryf: “’n Boek is ’n spieël waarin jy kyk.” Maar het hy toe ook bygevoeg:“As ’n aap egter daarin kyk, moet hy nie verwag ’n engel gaan terugkyk nie.”

Die komediant, Groucho Marx, het eens verklaar: “Outside of a dog, a book is a man’s best friend. Inside of a dog its anyway too dark to read.” En ook gesê: “I find television very educating. Every time somebody turns on the set, I go into the other room to read a book!”

Daarom kan ek ten spyte van gebrek aan voldoende finansies of tyd, onomwonde verklaar: Daar is min plekke in die wêreld vandag of in die verlede waarheen ek nog nie gereis nie. Alhoewel miskien min kere werklik fisies daar, maar tog het my reise met boek my al na oral op ons aardbol en selfs al na die maan en vér die ruimte ingeneem.

Hoe daar dus nog mense op hierdie aarde kan wees wat nie boeke lees nie, gaan my verstand te bowe. Ek is egter gelukkig in die wonderlike wêreld wat boeke vir my help skep het. Hulle het my die geleentheid gegee om dwarsdeur die wêreld te reis!

                  

  • 1

Kommentaar

  • Ek lees nou hierdie stuk van jou en stem so volmondig saam. Om te kan lees en te kan reis is voorwaar baie verrykend ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top