My monoloog

  • 2

Foto: Canva.com

My monoloog      
Hemelbabas

Jou vingerafdruk – pynlik perfek
geprent en geëts
in my hoopvolle hart

Jou hand – vyf vingers vol
gestrek en gevou
om my angstige hart

Jou voet – die sagte spoor
voetpad getrap
in my nou verflenterde hart.

Jou hart – al die kamers daarvan
nou boepensvol
polsend met ewige asem.

Jou menswees bondel op ’n wasige foto
basuin blatant my brandende begeerte:
Hoe sou jy? Waar sou jy? Wat sou jy?

En ek ly, en ly en bly
ly

Here, die vrae versmoor my,
skop nes in my nou verskrompelde hart.

Ek krimp en kreun
keer op keer die konstante klag –
waarheen waarom waarheen daarmee?

Bedaar hart, stil storm!
Jou vingerafdruk’s nou in Abba se hand

Al lê jou lewenslyn vaag op my palm
al was dit kortstondig
en
o
so
min
was dit genoeg om vir ewig
méns binne my te wees.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top