My liefste Wyk
Ek het belowe ek sal nie weer kontak maak nie, maar hier sit ek al weer en skryf. Die lente begin woel seker aan die bome aan die Stadhouderskade en met wie anders kan ek vanuit die knersende skadu’s van die Magaliesberge gesels? Jy met ’n glasie jonge jenewer, ’n Heineken hopelik byderhand om die wilde brand af te jaag. Maintenant, je veux vous transformer en une sorte de Méditerranée fini de voir, pour la fin … Ek met my herinneringe aan jou liefde vir my melones y sandías.
Saam, hoop ek, droom ons nog oor ’n somer onder die sambrele van Deauville, ons velle gelouter deur die son en die herinnering aan crié brillammende luxure.
Wat is die nuus wat ek jou kan vertel? Dat die domini canes in die laaste loopgrawe van ons alewige taalstryd hul eie suidelike soort dolheid begin vertoon? Laissez-le passer, cette image et le temps! Die kerk is deur die skoot, sou jy sê.
Ek verlang na sekerheid. Omheen is alles troebel politiek. Kan jy my woorde, liefste, hóór? Verset ís lojaliteit, daarbuite lê die diewerny. Lojaliteit aan wat? sal jy vra, soos jy moet. Aan die Grondwet, dit is al wat oorbly, onbesmet. Liefste Wyk, jou woorde lui skielik weer op, dat ons hoog kon lewe net aan ons bloed getrou. Klein het die wêreld geword sonder jou. Res ipsa loquitur, hoor ek jou antwoord.
In die republiek der lettere is die windjie van verandering steeds te ruike. Klitsgras se winkels sluit die deure een vir een. Digters kry tantièmetjeks in sente en soms rande. Afrikaanses het ’n onblusbare begeerte om oor moord en doodslag te lees, en die tekens daarvan sien jy in koerante én op die rakke van Engelse boekwinkels wat darem nog Afrikaanse boeke verkoop.
Daar is goeie nuus ook, liefste Wyk, lieweling. Volgens ons corps des examinateurs is daar soveel wonderlike boeke wat verskyn dat mens kan jubel daarvan. Goed, die jonge Lewiesa, volgens my ons beste lewende resensent, sy resenseer deesdae ook Engelse boeke. Nee Wyk, niks verraderliks nie. Dalk eerder ’n geval van min in Afrikaans wat haar werklik uitdaag. Laat ek dit verduidelik in taal wat jy sal verstaan: Sy voel dalk alles is suiwer Träslott. Ja, van hout.
Darem gelukkig dat daar nog altesame 56 skrywers is wat in Afrikaans lief is vir ons Land. Francois Bekker, ’n vryskutresensent van Pretoria, deel nie die gevoelens van siniese lesers dat Hierdie land ’n geforseerde projek is nie, en dit voldoen vir hom aan al die vereistes vir lekkerlesery. Glo “onbeskaamd positief”, ’n beskrywing wat jy sekerlik “skaamtelose jingoïsme” sou genoem het.
Dit breek my hart, liefste Wyk, om vir jou te moet sê dat jou ideaal van vrye, ope gesprekvoering daagliks opnuut sneuwel. Om die publiek se reaksie op ’n resensie te lees, is soos om die rekmerke onder die lycrakeurslyf van ons volk se siel te tel.
Jean Oosthuizen, ’n man aan wie se sorg die NG Kerk op hul dag Die Kerkbode toevertrou het, het op LitNet die teoloog Julian Müller se boek Geloofsgesprekke in die Tsitsikamma bespreek. Wat dink jy, Wyk, het volgende gebeur? Nee, jy’s verkeerd. Niemand het die kwellings wat Oosthuizen geopper het, gebruik as snellers vir ’n intellektuele gesprek nie. Almal het die ad hominem-roete gevolg. Slaat plat die man wat durf waag om oor geloof na te dink. Weg met Julian Müller! Verbrysel sy skedel en byt hom aan die hakskeen. Ek hoor jou stem, nogeens: Laissez-le passer, cette image et le temps!
Laat dit verbygaan …
In soete herinnering,
Gifbekkie

