My lewensreis begin op 1 April 1948 om 12 uur middag in Belfast, Suid Afrika

  • 0

En voordat julle dink dis ’n grap moet ek julle ernstig vermaan: dis geen grap nie!

Van die reis vooraf weet ek niks. My ma het wel vertel dat ons op die 31ste Maart met my pa se Ford op die grondpad gejaag het (teen 30 myl per uur?) sodat ek tog net voor 12 uur middernag uitgeskud kon word. Ook kasterolie is probeer. Maar tevergeefs. Onbewus hiervan het ek rustig die lig gesien om 12 uur in die middel van die dag op die 1ste April en twee jaar en nege maande my lewe as oudste geniet. Totdat my suster haar opwagting gemaak het. Nou moes ek alles met haar deel.

My suster is op Penge, ʼn ou myndorpie in die laeveld gebore. Om die kollig weer op my te plaas het ek op Penge breinvliesontsteking opgedoen en byna gesterwe, was dit nie vir ’n sekere Dr Basson nie. Hy was gelukkig vertroud met die nuutste behandeling (in 1951!) van hierdie dodelike siekte en het my Streptomycin toegedien. Jare daarna het my suster ’n gesprek tussen my ma en ’n vriendin afgeluister en gehoor dat ek hoog waardeer word omdat ek die dood vrygespring het. My suster voel nou nog oorbodig.

My pa, as skrynwerker, het nie lank op Penge-myn gewerk nie en ons het na Stephano Park, Vanderbijlpark verhuis. ’n Heerlike kinderparadys. Baaaie kinders plus niggies en nefies om mee te speel. Ongehinderd op fietse rondgery, geswem en kattekwaad aangevang. Ek natuurlik nie so ongehinderd nie, my pa was maar kwaai en loshandig.

Op vyf is ek skool toe. Die naaste skooltjie is Nanaschol-skool genoem. Wat ’n vuurdoop vir ’n vyfjarige: leer skryf en reken met behulp van ’n lei, griffie en lappie. Leer wals vir die skoolkonsert. Ontdek hoe stout seuntjies kan wees. Juffrou loop al om die kring kindertjies om te ruik watter kindjie het nie die kleinhuisie betyds gehaal nie.

In 1955 verhuis ons na Pretoria. My pa was nou moeg vir hande-arbeid en sluit by die Spoorweë aan as tekenaar. Behaal sy matriek en boudiploma binne vier jaar deur middel van buitemuurse studie. Ma bly tuis en verveel haar byna dood. Sy is as tikster opgelei maar mag nie buitenshuis gaan werk nie. Sal nou maar nie verklik wie haar belet het nie.

Sus gaan ook nou skool toe. Nou is dit my taak om om te sien na die skreeubalie. Meermale gebeur dit dat ek verskoning by die juffrou/meneer moet maak WANT MY SUSSIE SKREE ALWEER. Dan staan sy daar waar almal haar en haar kleintongetjie kan sien.

Aan die einde van 1960 verhuis ons na Bloemfontein. My pa is nou bou-inspekteur in die staatsdiens en word nou verplaas om ondervinding op te doen. So gebeur dit dat ons die daaropvolgende jaar (1961) in Kimberley gaan woon en aan die einde van 1962 terug verhuis na Pretoria.

Platgeslaan deur die verhuisings en skoolwisselings en sonder selfvertroue moet ek nou ’n skool soos Hoërskool Wonderboom aandurf. Byna beswyk van skaamte, hormone en dergelike dinge. Kry nie ʼn kêrel nie, my pa is te kwaai. Ook maar goed anders het ek nie geleentheid gekry om universiteit toe te gaan nie.

1966 sien my as studentverpleegstertjie met BA Verpleegkunde in ʼn lang wit gestyfde gewaad met sykouse en bruin oprygskoene, kappie op die kop. Beangs en bevrees. Was en skrop van die oggend tot die aand: jouself, siek mense, bedpanne, et al. Werk dag en nag. Mense gaan dood, gee geboorte, ly aan ongeneeslike siektes, kry operasies, infeksies, ens, ens. Staan vroeg op gaan laat slaap, werk naweke en universiteitsvakansies in die hospitaal. Vier jaar hiervan en nog twee jaar vir ekstra kwalifikasie as vroedvrou en psigiatriese verpleegkundige. Eindelik gekwalifiseerd!

Maar die lewe gaan aan.

Kry ʼn man (19 jaar ouer as ek) en ʼn stiefseun van 14 jaar. Ons besluit om te gaan boer naby Swartruggens. Plaas is onbruik sedert 1949. Huis vervalle. Twee babas en nege jaar later (1980) woon ons weer in Pretoria (vir agt maande) en met die instap in Nelspruit (2 weke later) word my derde baba gebore.

My stiefseun gaan weermag en universiteit toe, trou voordat hy sy kursus voltooi en het 2 kinders. Na sy omswerwinge kom hy ook in Nelspruit aan toe ons daar woon, werk daarna in Kaapstad en verhuis na Potchefstroom in 1986. Hy skei en trou weer en kry nog twee kinders. Ek was dus al ouma vanaf ek 30 jaar oud is!

Vanaf 1972 tot 1982 het ek ʼn kursus dmv afstandsonderrig by Unisa voltooi in verpleegonderrig en gemeenskapsgesondheid. So, na ons verblyf van 4 jaar in Nelspruit word my man verplaas na Potchefstroom (1984) waar ek verpleegonderrig gee tot 1992.

My man is 62 en ek 44 jaar oud met 3 kinders toe hy na ʼn hartstilstand (1992) met gevolglike breinskade, dementia opdoen. Ek werk ook later by die PU vir CHO en kry die geleentheid om Japan toe te gaan. Gedurende die jare daarna word die kinders groot en ons verhuis terug na Pretoria in 2000.

Ek woon en werk 7 jaar in Pretoria en omstreke (verhuis 5 keer!) en my man het al hoe meer sorg nodig. My oudste dogter trou in 2003 en in 2004 word ons eerste kleinseun gebore. In 2005 is my vader oorlede en ek versorg my moeder en my man voltyds.

In 2007 bied my dogter ons ʼn huis aan in Oudtshoorn en ek en my man verhuis daarheen. My man is nou erg dement en ek is alleen vir sy versorging verantwoordelik.

ʼn Tweede kleinseun maak sy verskyning in 2007.

My seun trou en ʼn derde kleinseun word gebore in 2008.

My man sterf op 27 September 2009.

In Desember 2009 ontmoet ek my huidige man, ʼn Nederlander.

My moeder sterf in 2011 en ʼn vierde kleinseun word gebore.

My jongste dogter trou in 2012.

Alles is stil en rustig op die vooraand van my verjaarsdag.

Sela.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top