"My kruis" deur Susan Stoltz

  • 0

My kruis

Soos ’n melaatse van toenmaal word ek aangegluur
Want ek lief en ek min en ek leef verby grens
Wat maak jou baas en my klaas, ons is algar net mens
Hoeveel geslagte nog gaan hierdie fel fobie duur?
Jou haatspraak die vlymskerpste lem ooit gemes
Menige kopskoot die gevolg van jou wrewelwet
Geen prys te hoog om my daarteen te verset
Word jou dors na oordeel en minag nimmer geles?
Geen plek in jou klipgooikerk vir ’n demoniese gespuis
God word my misgun want jou vuurtong kleim alleenreg
Woedende wysvingers wat dui ’n vlammehel is my weg
Gewond, gekwes, geyk en gebreek dra ek aan my kruis
Verban en verstoot deur naaste, deur vlees en deur bloed
Padda dra manel; verbete sal ek voorts vreesloos veg
Die bitter pil van verwerp uitbraak, die smaak supersleg
Ewig, met trots; ek is wat ek is, tot by die doodsgroet

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top