My Kersete

  • 1

Ons (ek en my vriend) is genooi na 'n plasie tussen groen heuwels en dennebome buite Port Elizabeth, 'n groot ou huis wat glo deur die Britte gebruik is tydens die oorloë. Ek weet nie presies watter oorloë nie, maar die plek het dik mure, soos 'n fort, en reuse vertrekke, met 'n lang toegeboude stoep. Gasheer huur die plek van die plaas se eienaar, wat 'n entjie verder aan in 'n moderne huis woon. As dit nie te warm is nie sal ons op die stoep eet, is ons vertel.

Daar sal veertien mense wees en twee babadogtertjies. Ek en my vriend is die enigste twee Afrikaanssprekendes, behalwe vir die gasvrou, my suster, maar al baie jare in ’n Engelse huwelik. Die gasheer praat darem ook goed Afrikaans. Hy is van Italiaanse afkoms, glo gebore kort na die skip hier anker gegooi het. Dus gaan ons Italiaans eet, 'n viergang maaltyd, ons begin met anti-pasta. Ek weet glad nie wat anti-pasta is nie. Dalk amper dieselfde ding as 'n anti-kommunis, soos Yvonne Malan? Ek wonder en is nuuskierig om dit te sien.

Die ete is toe in die sitkamer, hulle het van die goed weggeskuif en die tafels, met wit doeke oor, in 'n lang ry skuins oor die vloer gerangskik. Verskillende soorte stoele, hulle het klaarblyklik nie veertien eettafelstoele nie. Sommiges is sommer gewone kombuisstoele. Die tafels is netjies gedek met alles wat nodig is, ingesluit bottels wyn en sjampanje, sulke fyn repies gekleurde goed oor die wit doeke gestrooi, en klein silwer sterretjies. Die "fyn repies goed" lyk soos iets wat mens oor 'n kersboom sal gooi. Drie waaiers hou ons koel, wat vir my nogal 'n probleem veroorsaak het, want daardie versiersels waai in my kos in. Maar in die hitte kan mens nie anders nie, waaiers moet jy hê.

Die anti-pasta kom en ek is 'n bietjie teleurgesteld. Dit is dan net koue vleis! Salami en nog 'n ander soort. Met baie olywe in glasbakkies en ovaal borde met tamatieskyfies. Op elke tamatieskyf is 'n skyfie kaas en bo-op is 'n basilieblaar. Daar was ook 'n rissieslaai, verskillende kleure sag gaargemaakte soetrissies met 'n soeterige sous (Of was laasgenoemde met 'n ander dis? Kan nie onthou nie). Ek eet lekker van alles, die aanvanklike ontnugtering oor die anti-pasta vergete. Ek is erg oor olywe en gou sak die bakkies in my omgewing. Totdat ek later 'n paar slukkies soet sjampanje gedrink het en weer 'n olyf in my mond steek. Toe proe die ding skielik suur, my mond trek skoon in! My vriend eet darem ook, hy sit reg oorkant my, maar ek kan sien sy belangstelling lê veral in die bottels wyn. Gou sak al die bottels naby hom tot 'n gevaarlike vlak. Hy het iewers vandaan 'n reuse-glas gaan haal. Dit lyk soos 'n wynglas, maar dit is wragtag groot, dit vat maklik 'n derde bottel wyn, dan is dit nog nie eers heeltemal vol nie!

Links van my sit 'n ou tannie, die ouma van 'n gesin en ek bedien haar so goed moontlik terwyl my kake aanhou kou. Regs van my, by die tafel se kop sit die gasvrou, wat saam met haar man langs haar periodiek opspring om kos aan te dra. Die gasvrou se twee seuns en hul vrouens, met die babas, sit rustig aan die ander punt van die tafels. Links van die ouma sit haar seun of skoonseun, ek is nie seker nie, ook al 'n bejaarde man met 'n wit kop. Hy praat die meeste en hou daarvan om Afrikaans direk in Engels te vertaal, soos "double walk hailgun" vir dubbelloop-haelgeweer. Eenkeer vra hy: "How do you say: 'Make love not war' in Afrikaans?" Toe niemand antwoord nie, gee hy self die oplossing: "Steek, maar nie met 'n mes nie."

Volgende aan die beurt is pasta. Regte, heerlik geurryke lasagne, seker die smaaklikste wat ek nog geëet het. Die gasheer weet beslis hoe om hierdie gereg te maak! Dit kom in sulke hol bakkies, amper soos 'n groot nageregbakkie. Ek eet 'n tweede porsie. My vriend eet syne darem ook, maar ek sien hy is al goed getrek. Ons bottels wyn is amper leeg. Op 'n tafeltjie skuins agter hom in die hoek staan nog 'n paar bottels, maar hy kan dit natuurlik nie sien nie. Die onbekende vrou langs hom gaan haal vir hom 'n vol bottel aan die verste punt van die tafels. Hy het haar seker gevra. Sy gewoonte is, wanneer hy lekker gesels en veral as hy al effens onder die invloed is, om aan die gespreksgenoot te vat: so aan 'n arm of skouer. Sy hou seker daarvan, díe dat sy vir hom die bottel gaan haal.

Die derde dis is weer koue vleis. Snye skaapboud, bees en ek dink die derde moet vark wees, geoordeel aan die ligte kleur. Op hierdie stadium proe ek nie meer so goed nie, ek stop net in. Want die waarheid is dít: as my vriend 'n drankprobleem het, het ek beslis 'n eetprobleem en ooreet ek my gereeld. Ons eet die vleis met ment-jellie en appelsous. En verskeie slaaie: koes-koes, blaarslaai met verskillende soorte blare en die joos weet wat nog. My vriend eet nou nie eintlik meer nie, hy wieg op sy stoel en dit lyk of sy kop wil vorentoe afsak. Na 'n tweede porsie vleis en slaaie besef ek ons sal moet gaan. My vriend gaan sommer hier aan tafel uitpass as ons nie nou padgee nie. Ek sê vir die gasheer ons sal nou maar moet ry en hy antwoord, terwyl hy na my vriend kyk: "Ek kan sien hoekom". Toe my vriend hoor ons gaan nou ry, gryp hy die bottel en maak sy groot glas vol, sluk dit af soos 'n dors man in die woestyn koue water vinnig afsluk.

Ek staan op en maak verskoning, groet sommer so met 'n armswaai almal wat daar sit. Die grapjas steek sy hand na my uit en ek neem dit. "Frontspeed," sê hy. Dit neem 'n oomblik of twee voor ek verstaan hy bedoel "voorspoed". Ek lag maar net en ons stap uit, my vriend effens onseker op sy voete. Die gasvrou vergesel ons tot by die motor. Sy beloof om ons more van die nagereg te bring.

Varkspek.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top