My geliefde: Winterkoue

  • 0

Liefste Louis

Wanneer sal die lewe weer na normaal terugkeer? Nog meer, wanneer sal jy weer by my wees?

Die winter is in sy volle gang. Dis grys en koud. Die reën se trane loop teen die venster af … maar net ’n weerspieëling van my trane. Ja, in my hart is dit winter sonder jou.

Die winter het alles vaal en dood gelaat. Is dit omdat my binneste ook so voel dat ek dit so ervaar? Dit is so eensaam en koud. Leweloos. Dis die regte woord om alles om my te beskryf. Dis hoe ek die lewe ervaar sonder jou. Kom terug, my lief!

Ek verlang na jou. Hoe lank kan ’n mens verlange hanteer? Ek wag vir die nuus dat alles verby sal wees. Dat jy op pad is na my. Dis waarvoor ek leef van dag tot dag. Waarom moet bomme en geweld ons kort huwelikslewe so wreed uitmekaar skeur? Dis die herinnering aan ons passievolle liefde wat my deurdra. Om weer in jou arms te wees … om een met jou te wees. Hoe kan twee helftes funksioneer sonder mekaar? Ons is dan een.

O my lief, die wete dat jy moontlik in gevaar verkeer, wil my hart uit my liggaam ruk. Hoe sal ek ooit weet wat die omstandighede is waarin jy verkeer. Veilig. Ek wil weet dat jy veilig is. Kom na my. Kom wees veilig by my. Laat jou hoof op my bors rus tot die slaap jou stil bekruip. Warm in my arms en veilig. Ja, dis hier waar jy veilig sal wees, ek weet. Dis wanneer my siel sal rus.

Ek het vandag vir Pieta te perd na dokter gestuur. Dis tyd dat hy weer hier ’n draai moet maak. Ek glo ons swangerskap vorder goed. Dis net die griep wat pla. Kan jy glo dat net na ’n paar weke ons klein wonderwerkie die lig sal sien. Ek weet sommer dit sal ’n seuntjie wees. Een wat soos sy pappa sal lyk. Raafswart hare soos die nag en helder blou oë soos ’n somersdag. Die wete dat ’n deel van jou onder my hart groei gee my krag om elke dag deur te sien. Dis ’n anker in hierdie tyd wat so leeg is sonder jou.

Kom terug, my lief, ek het jou so nodig in hierdie tyd. Hoor my roep in die fluistering van die wind. Hoor my gebed: “O God, bring hom terug!”

Liefde vir ewig
Jou Monja

Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top