My geliefde: Tussen Bloemfontein en die Kalahari

  • 0

27 Augustus 1900

Liewe Jan

Toe ek vanoggend by die huis uitstap het ek weer daardie gevoel gekry. Dit kan net  intuïsie wees. Het dit al ooit met jou gebeur dat jy vir ’n oomblik skielik ervaar die seisoen het gedraai? Al is dit nog bitter koud het ek net geweet die lente is hier.

Ek verlang vreeslik na jou vandag. Julle kry seker glad nie tyd vir skryf nie, nè?

Die Kakies was ’n paar dae gelede hier, drie van hulle. Ek het vir die wolwe sop gekook en in die vroeë oggendure het ek hulle een vir een in die droë rivierloop begrawe. Goddank die kinders het dwarsdeur alles wat gebeur het, geslaap.

Daardie krisante het sowaar die ryp oorleef en Wagter slaap deesdae elke oggend ’n bietjie later. Ek mis dit om saam met jou vir sy manewales te lag. Toe daag daar weer vanoggend ’n paar van hulle hier op en skiet hom, reg daar by die voorhek dood.     

Ek hét alles probeer om die plaas te red, maar ons kon vanoggend net die allernodigste gryp om saam te bring. Die res is seker teen dié tyd reeds grond toe gebrand. 

Gister het ek nog gehoop dat jy terug sal wees voordat die duwweltjies weer blom. Nou wonder ek nie meer wanneer jy terugkom nie, maar wáár ons mekaar ooit weer gaan vind en waaroor ons heel eerste sal praat. Ag, dit maak ook nie saak nie, solank jy my net weer in jou arms kan toevou.

As ons vandag iewers langs die pad stop, gaan ek die brief probeer pos.

Dan stuur ek nou vir jou in hierdie koevert al my liefde saam en al neem dit nog ’n jaar voor ek jou weer sien en al lees jy nooit die woorde nie, weet ek intuïtief dat jy op hierdie oomblik, waar jy ook al is, besef dat ons liefde sterker is as enigiets wat ooit met ons kan gebeur. 

Magriet

Ns. As jy weer met die Here praat, vra asseblief vir Hom om vir jou te wys hoe om by die Bloemfonteinse konsentrasiekamp uit te kom.

 

Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top