My liefste engel
Soos ek belowe het, sal my brief daar vir jou wag met jou aankoms. Ek skryf in my beste Engels, mag alles vir jou verstaanbaar wees.
Die tydjie wat ons mekaar beter kon leer ken, was die wonderlikste tyd van my lewe. Van een ding is ek seker, ek wil by jou wees vir altyd en ek weet jy voel ook so. Jy weet jy was so ’n groot inspirasie vir my uitstalling wat volgende week begin, dit kan net goed gaan.
Dit was bestem dat jy Athene toe moes kom, ons is beslis vir mekaar bedoel. Hoe uitgelate was jy orals waar ek vir jou my geliefkoosde plekke gaan wys het. Onthou jy nog die aand met Zorba se musiek en die pragtige volmaan wat net vir ons daar was!
As ek na jou pragtige foto kyk, sien ek nog hoe jy gelag het toe die ou motorfietsie nie met ons albei die opdraandes op Mykonos wou uit nie! Jy wou by elke klein kerkie langs die pad stilhou en binne gaan kyk. Dit was die opwindendste ontdekkingstog wat ek nog ooit beleef het, ek het myself gate uit geniet saam met jou.
My hartseer was groot met jou vertrek, ek het gewens die tyd kon stilstaan vir ons.
My meisie, niks behalwe ons liefde is belangrik nie. Saam sal ons die verskille in ons taal en kultuur en ook godsdiens oorkom. Vir ons wag daar ’n wonderlike toekoms bymekaar. Daar is niks wat nie deur ware liefde oorkom kan word nie.
Stuur vir my so gou moontlik jou nuwe telefoonnommer, ek kan nie wag om weer jou stem te hoor nie. My liefste, 1960 is ons jaar. Met my besoek oor drie maande gaan ons, met jou ouers se toestemming, dadelik verloof raak. Jy sal ook die mooiste bruid wees wat daar nog ooit was. Ons het so baie om oor te gesels. Die verlange is besig om my te verteer, ek tel al die dae en ure om van jou te hoor, liefste. Een van die dae is ek self daar by jou, ek kan nie wag om jou weer in my arms te neem nie.
Al my liefde
Joune vir altyd en altyd xxxxx
Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.


Kommentaar
Ek is lief vir jou, Lizaan, jy is n engel uit die hemel; jy het my hart gesteel.