My geliefde: My enigste G

  • 0

My enigste G

Hoe oneindig mis ek nie die lyne van jou profiel nie. Ek onthou nog die eerste dag toe ek jou ontmoet het: 3 November, en jou sterk stem het na my aangewaai gekom vanuit die gang, en ek onthou die heelal het in sy as gaan staan.

Ons oë het mekaar onmiddellik gevind en jou blou oë het ’n ongelooflike weerloosheid uitgestraal en met my hele hart het ek het so gewens ek kon my hand uitsteek en oor jou wang vee.

Vir my was jy die mees volmaakte mens wat ek tot nog toe ontmoet het en ek het eensklaps “heel” gevoel, so asof jy my hart, siel en liggaam kom beset het, en vir die kere wat ons paaie geskei het vir ’n dag of wat, het ek eensaam, leeg en verlore gevoel.

Vir die eerste maal in my lewe het ek hierdie begeerte in my gehad om net “een” met iemand te raak, en saans as ek my oë toegemaak het, kon ek jou asem op my vel voel en ek het met ’n vrede in my gemoed en ’n stil glimlag die sekere wete in my gehad dat jy net so bewus was van die magiese aantrekkingkrag tussen ons.

Hoe ongelooflik lekker om so oor iemand te voel, het ek gedink, maar helaas, dit was ’n oorbodige liefde wat nooit vervul sou kon word nie. Jy wat nog gestoei het met ’n verraad en verwerping teen jou van jare gelede wat jou jou hart laat sluit het, en al was die passie en begeerte wat ons in mekaar aangewakker het, hoe sterk, sou jy nooit bereid wees om ’n kans op my te vat nie.

Nou is dit so seer hier in my binneste en ek bid om hierdie liefde in my doodgesmoor te kry, maar niks. Ek sien jou gesig oral in die skares, ek hoor jou stem in my ore, ek soek jou en ek soek jou. Wag en wag vir die foon om te lui, net sodat ek jou kan hoor sê: “Ek verlang na jou, waar is jy?”

Dit gebeur nie …

Een duisend twee honderd sewe en veertig dae al loop ek met hierdie hoop, wanhoop, verlange, gemis, leegheid in my, en as jou blou oë voor my inspring, is die onthou en die seer net nog meer. Hoe graag sou ek nie die een wou wees wat jou tweede kans op liefde en geluk kon wees nie, die een wees wat jou weer ’n rede gee om te lag nie.

Dalk vandag vergeet ek ... maar ek wens so dit kon anders wees.

L

Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top