My eerste kamp

  • 1

Het ek nou alles ingepak? Opgewonde het ek weer deur die kamplys gegaan wat ek afgelaai het, opgestel deur ervare kampers. Daarin was van ‘n badprop tot by muskietweerder en al die groot goed soos die tent en gazebo.

Ons het die tent en alle kamptoerusting al so lank gelede gekoop en het uitgesien na ons eerste kamp, maar uiteindelik was dit hier! Ons opgewondenheid kon nie getemper word nie, nie eers deur die weerburo se aanhoudende voorspellings van reënweer wat voorlê nie. Die kar was gepak en ons drie was reg om te kampeer – ek, my man en my seun. Lank het ons hieroor gedroom. Ek het nagelees oor die moets en moenies van kampeerders, met ervare kampeerders gesels en verder my eie inligting bymekaar gemaak.

Ons het die Sondagoggend by Frogs aangekom – dis ‘n plaas wat omskep is in ‘n kampeerterrein – geleë by die mooiste rivier, watervalle en staproetes. Dis egter baie primitief met die ablusieblokke omtrent 500 meter weg. Die storte is oop in die natuur met afskortings. Daar is ook geen selfoonopvangs of krag nie. Dit sou enige een afgeskrik het maar nie die drie dapper kampeerders van Pretoria nie.

Ons was die enigste kampeerders en met oom Roelf wat gereeld kom inloer het, was ons gereed vir drie dae van kamp. Reën wat val, muskiete wat byt of geen krag en opvangs ten spyt, ons was gereed.
Die reën wat om ons geval het terwyl ons kamp opgeslaan het kon nie ons opgewondenheid en blydskap temper nie. Ons het huis opgeslaan en toe het die drie dae van rus in alle erns begin. Die eerste dag en tweede dag was baie reënerig maar my man en seun kon nog visvang en ons het heerlik gaan stap. Ons het ons omgewing behoorlik verken en het ons reënbaadjies naby gehou indien die reën ons sou pla.

Die natuur om ons was egter die hoogtepunt van alles – die verskillende voëls in die dag en die vuurvliegies in die aand wat die lug om ons verlig. Ek het later opgehou tel hoeveel verskillende voëls ek sien en het hard probeer om te onthou wat my pa my alles van die verskillende voëlsoorte geleer het. Die piet-my-vrou het elke dag hard na sy maat gesoek. Daar was klein en groot voëltjies, die een mooier as die ander en die voëlgeluide was ‘n fees. Vroeg tot laat in die aand kon jy die voëlgeluide om jou hoor. Daar was neste in die meeste bome om ons en ek kon sien hoe ‘n klomp baba-voëls deur hulle ma’s gevoer word, terwyl ek ‘n oomblik by die visvangekspedisies gesit het.

Die vuurvliegies weer was iets om te aanskou – klein flitsies lig wat skyn in die donker nag. En dit was donker daar en stil, want ons was alleen – net ons drie – met oom Roelf wat ‘n paar kilometer verder in sy huis gebly het. Maar so het ons elke aand die vuurvliegies dopgehou, geluister na die stilte om ons en met dankbaarheid tyd met mekaar spandeer.

Ongerief was daar. Om in die aand ‘n draai te gaan loop was nie lekker nie, want dis donker. Gelukkig kon ek my man se arm draai om my te vergesel en my beskermer te wees. Die ongerief kon egter nie opweeg teen die voordele nie. Visvang, swem in die skoon helder water van die rivier en ‘n heerlike staproete is alles dinge wat ons gedoen het. Daar was selfs ‘n waterpoel met lopende water wat die effek van ‘n jacuzzi gehad het en ons het ons verbeel ons het ons eie natuurlike jacuzzi gehad. Heerlik!

Om nog verder lekker te rus kon ons boek lees, met mekaar gesels en lekker vleis braai. Ons het ‘n paar bordspeletjies saamgeneem maar skaak in die tent is nie heeltemal uitvoerbaar in die aand nie. Nie met ‘n kamplig wat heeltyd pap word en twee ongeduldige manne nie.

Ek was so geïnspireerd in die natuur dat drie nuwe gedigte uit my hand gevloei het. Ek kon bepeins oor die goeie en slegte dinge in die lewe. Dit was ‘n tyd van verkwikking, van rustig word en van tyd met God en met my gesin spandeer. Ek het net besef hoe pragtig ons Skepping is en hoe pragtig Hy alles gemaak het. Dis eers as jy tot rus kom en so in die Skepping sit sonder enige onderbrekings van selfone, TV en ander dinge dat jy besef wie jy is, wat jy kan bepeins en wat jy uit die lewe wil hê. Dis tyd vir seëninge tel en terugdink oor die seer wat gebeur het.

My man en seun kon lekker visvang alhoewel die enigste visse wat die rivier opgelewer het krappe was. Maar die stilsit saam met mekaar en gesels was lekker. Die baie reën het die damwal opgestoot en ‘n gedeelte van die staproete afgesny, maar die reën was nodig.

Ek het met ‘n krap gedans! Ja jy hoor my reg. Terwyl ons gestap het, het ‘n krappie my gesien en uitdagend sy voorpote gelig en gedans en toe dans ek saam! Dit was iets om te sien.

My seun het kreatief geraak in sy vermoë om homself besig te hou. Behalwe boek lees, visvang en dinge met ons doen, het hy ook ‘n motorkar uit drie boomstompe geprakseer wat kon loop. Dit was uiters amusant en oulik. Ek kon sien hoe my man ook bietjie afskakel en rus en hoe hy die visvang en ander dinge geniet. Weg van alles en tyd met mekaar het hom ook die wêreld se goed gedoen.

Sal ek weer gaan kampeer? Beslis! Dit maak jou hart sag, jou oë en ore oop vir die grootsheid van die Skepping. Dit leer jou om sonder jou selfoon, laptop, TV en ander tegnologie klaar te kom en jy skakel af en geniet die natuur. Verder waardeer jy weer beslis jou bed en al die ander geriewe as jy by die huis is!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top