My bure se boom

  • 4

My bure het ’n boom -  ’n onkruid-boom wat naby  die muur tussen ons staan.  Die ding saai sy saadjies en die vuilgoed het wild en wakker oral in my tuin bly opkom. Dit het nie gehelp dat ek seisoen na seisoen die kleintjies bly uitpluk nie.  Die saad het vinniger versprei as wat ek kon bybly.  Die boom moes afgekap word!  Gelukkig het die nuwe intrekkers ’n maand of twee terug, ook geweet dat dit onkruid is en die boom is uit! Geen nuwe gemors van daardie-kant af nie!

As ons vandag praat van dinge wat ons omkrap, kan ons ’n duisend onderwerpe op die tafel neerlê. Elkeen van ons sien iets in ons samelewing wat ons ’n krieweling gee, ons hare laat rys, ons are laat opswel en ons bloeddruk laat styg! Ons gryp mekaar aan in onderonsies en die een weet beter as die ander, want so is dit mos dat die eie ek, beter weet as jy. Maak nie saak wie ek, of wie jy is nie ... die ou wie ‘ek’ is ... hy weet beter.

Jy wat dan beter weet ... “Soek die boom!”

Soek die boom. Die wortel.  Soek die oorsprong van al hierdie goed wat jy sien, hoor en voel. Dit wat jou omkrap het ’n basis, ’n begin en ’n oorsprong. Dit help nie ons werk sonder hoop nie.  Om die kleintjies te probeer oortuig dat hulle nie hoop op bestaan het nie, help niks.  Hulle sien die grootsheid van hul afstam steeds voort-bestaan en voortbring meer wat presies net soos hulle self is. Hulle glo hulle is reg en het reg op bestaan en om die waarheid te sê, probeer hulle jou vertel dat jy ook soos hulle moet wees. Dan weer op jou beurt, doen jy dieselfde.

Elkeen van ons sien dinge wat ‘sleg’ is en meeste van daardie dinge lewe in mense en kom deur hulle voort. Laat ons nie die mense om ons uitroei nie, maar die boom van kwaad. Kom ons beskadig nie die tuin nie, maar roei die onkruid uit.

Ek glo nie ons hoef boeke te skryf oor al die verskillende vuilgoed-bome nie. Hulle groei hul takke en wortels so tussen ons deur. Mense sien dit in my en ek sien dit in hulle – ons val mekaar aan ...  en so bly dit net aangaan.  Ons bly teen mekaar veg in ’n onoorwonne stryd en mors ons eintlik maar net ons eie tyd.

Die onkruid is tans so vervuil op hierdie aarde en dit lyk my nie of ons voor kom in die skoonmaakproses nie. Verseker is daar baie teen my te sê en dalk sal ek, as ek soek, iets vind om tot elke ander ou terug te sê ... maar iewers moet dit stop.

Ek vra ... kan die boom gesoek word, gevind word, bestraf word en wortel en tak uitgeroei word ... of is dit iets wat ons maar moet aanvaar deel van ons omstandighede gaan wees tot in ewigheid? Is daar hoop op eenheid, op harmonie ... op iets soos ‘liefde’, want selfs liefde het een woord geword met ’n duisend lettergrepe waarin mense mekaar slegsê.

As die boom uitgeroei is, dan help dit mens pluk sy kleintjies uit, want wat dan uit is, is uit. Dan kan met die nuwe reëns, woestyngebied waterryke heerlikheid word. ’n Loflied tot God.

Maar hoe?

En as ek vra hoe, dan wonder ek of ons die geloof tot so iets kan uithaal en dan noodwendig weer het die Here aan die blindes gesê ... “Laat dit vir julle wees volgens julle geloof” (Mat 9)

Dit was nie in my mag om die boom by my bure uit te pluk nie, maar ek kon daaroor bid en die saak was met die nuwe intrekkers uitsorteer. Die ‘taak’ was vir my oënskynlik te groot en onmoontlik, tog was dit ’n taak wat een mens in staat was om te doen.  Ek moes doen wat ek kon doen. Ek het gebid. Die buurman het nie eens geweet wat hy vir my doen nie, tog het hy vir my meer gedoen as om bloot my frustrasie met die onkruid te stop. Hy het my die beeld gegee wat ek vandag met julle kan deel en my groot vraag is ...

Is daar hoop?

Berdine

  • 4

Kommentaar

  • Daar is sekerlik altyd hoop Berdine - dis so waar wat jy sê hier, want ek is eintlik nog nooit teleurgestel as ek wat ookal lastig is en soos kanker aan mens se siel vreet, dit voor God se voete neersit met 'n eerlike versoek van "U ken my, ek kom as geen verrassing vir U nie, maar ek weet nie hoe, waar, wanneer of wie my kan help nie - maar HELP my asseblief" en voila die hulp kom en die hoe, waar of wanneer is uitgesorteer, en die meestal onbenulligheid uit die weg geruim.

  • Ek het jou brief gelees en dit kon netsowel ek gewees het. Ek weet hoe jy voel, was daar het die merke en hempie, met erge ondervinding gekoop. My ervaring deesdae is, hoe meer jy op die Hemelse Vader vertrou, hoe meer word jy deur Sy opponent aangeval en versoek. Ek het nie die vermoë om die bose te oorwin nie, en roep voordurend hulp in en vra vir insig, kennis en aanwysing. Die ander groot sondaar is twyfel en onsekerheid. Kommer loop hand aan hand. As jy jou aan die voete van ons Hemelse Vader  werp, en op Hom vertrou en hoop, is dit 'n goeie begin. Dit is ongelukkig nie maanskyn en rose daarna nie. Dit verg harde werk. Die vra vir gebed. Dit vra volharding. Jy word aangeval deur ongelowiges en twyfelaars. Ek is bevry. Ek bekommer my nie oor goed wat ek niks aan kan doen nie. Ek het iewers gelees, bekommenis oor more bederf die pret van vandag. Ek sê nie om argeloos en "don't care"-houding in te neem nie, maar hoop en vertroue bring innerlike kalmte en liefde. Mens wat ten volle vertrou leef nie in vrees nie. Sterkte. Ek hoop jy vind die vreugde van volkome lewe. 

  • Natuurlik is daar hoop,

    onthou dat G_d twee bome in die paradys gehad het. Jou keuse. Onthou ook dat die Messias gewaarsku het dat die onkruid tussen die graan groei, Mattheus 13;25, daar rond. Weer jou keuse.

    Die onkruid is oral rondom jou, herken hulle en slaan jou deur in hul gesigte toe, hulle sal bly tot die oes aanbreek en dan verbrand word.

    As jy werklik diep wil delf, oorweeg dan dat die woord van G_d in die bybel is, maar die hele bybel is nie die woord nie, daar ook is onkruid in. soos deur die self-aangestelde" verteenwoordigers' van G_D daar geplaas. Weer jou keuse. Lees en toets en verwerp of behou. Jou keuse wie jy glo.

     

    Duitswester

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top