Musiekvideo's – the good, the bad, the ugly ...

  • 0

Tel ek toe mos nou die dag goedige stry op met ’n jare lange vriend oor die beste musiekvideo wat nog ooit gemaak is. Veel meer as ’n halwe bottel  Jameson lank stry ons in my voorkamer, later skoon sonder ’n ou ysie om dinge af te koel.

Peter Gabriel se “Slegdehammer”, sê hy.

Beastie Boys se “Sabotage”, kap ek terug.

Wat van Beck se “Loser”?

Nee, ek dink Foo Fighers se “Learn to Fly” skop sy gat!

Nodeloos om te sê, die argument het geen wenner opgelewer nie. Op die keper beskou het albei met eer uit die stryd getree, bereid om ’n goeie voorstel van die opponent gelyk te gee, maar vinnig om te counter met ’n ander opsie.

Die volgende dag skuins voor sonop bel hy om te vra of hy gou sy huissleutels kan kom haal, want sy vrou het gesê dis óf die sleutels óf die Formule 1-hotel. Sy sluit nie weer halfeen die oggend die voordeur oop vir iemand wat Michael Jackson se “Thriller” uit volle bors sing nie.

Ja, musiekvideo's ... dit speel ’n onskatbare rol in die plesier wat ons uit musiek put. Maar hoe het als begin?

Voordat The Buggles se weergawe van “Video Killed the Radio Star” op 1 Augustus 1981 as die heel eerste musiekvideo op die nuwe MTV-kanaal uitgesaai is, was musiek en gepaardgaande beelde basies kort rolprente van kunstenaars, regstreekse opnames op ’n verhoog of in ’n ateljee. ’n Omslagtige, duur affêre.

Met MTV se koms is die manier waarop populêre musiek vir luisteraars se sintuie verpak en aangebied word, basies op sy kop gekeer. Feitlik oornag was daar tegnologie beskikbaar wat dit makliker en goedkoper gemaak het vir mense om musiek op video vas te lê en te redigeer.

Dis hier waar die fokus begin verskuif het van die regstreekse opname van ’n kunstenaar na ’n opname met ’n storielyn, een wat die liriek vertolk of die storie in beelde vertel. Hier het die video waarin die kunstenaar glad nie saam met die musiek gesien word nie, vir die eerste keer sy verskyning gemaak. Bruce Springsteen se “Atlantic City” en David Bowie en Queen se “Under Pressure” in die vroeë 1980's is klassieke voorbeelde.

Omstreeks dié tyd het platemaatskappye besef video's bereik ’n wyer gehoor deur meer as een sintuig te teiken.

Toe John Landis in 1983 as regisseur van Michael Jackson se “Thriller” ’n skrikwekkende $500 000 op produksiekoste blaas, het almal gedink dis uitspattig en verregaande. Maar afgesien van die feit dat die video bykans 14 minute lank was, het dit tot reuse-sukses vir baie gelei. Nie alleen het dit die weg gebaan vir Afro-Amerikaanse kunstenaars om lugtyd op MTV te kry nie, dit het almal buite die rock-genre (in daardie stadium MTV se uitsluitlike teikenmark) ’n voet in die deur gegee.

Die musiekkanaal VH1 is in 1985 as alternatief vir MTV se groeiende jonger mark geloods, en in dieselfde jaar is rekenaar-animasie die eerste keer in ’n video gebruik met Dire Straits se “Money for Nothing”. Skaars ’n jaar later het “Sledgehammer” van Peter Gabriel nege MTV-toekennings vir beste video ontvang.

In 1988 het hip-hop-video sy debuut op MTV gemaak, net na dié musiekkanaal in Europa geloods is, gevolg deur MTV Asië in 1991.

Hierna het musiekvideo's ’n nuwe wending geneem met die toetrede van regisseurs soos Spike Jonze, Michel Gondry en Mark Romanek, wat – met die hulp van stewige begrotings – kunstenaars se deuntjies in ’n storie omskep het, ’n kortfilm, as't ware. Romanek s’n vir Michael en Janet Jackson se “Scream” (1995) het ’n asembenewende $7 miljoen gekos, tot vandag toe die duurste musiekvideo ooit. Sy video vir Madonna se “Bedtime Story” (ook 1995) het iemand $5 miljoen uit die sak gejaag.

Met die koms van die digitale era het die beheer wat die groot media-kokkedore oor musiekvideo's gehad het, egter ’n snotklap gekry. Ewe skielik kon elke Jan Kletsrym en sy maat nou self video's maak en vir almal wys ... teen minimale of geen koste nie. YouTube het in 2005 sy kleim afgesteek. En dan is daar natuurlik Soundcloud, MySpace en Facebook. Deesdae is daar honderde platforms waar kunstenaars met ’n tune, ’n konsep, ’n slimfoon en ’n tuisrekenaar hul video's wêreldwyd kan instuur.

Die goep OK Go se video “Here it goes Again” (2006) is eers op YouTube bekend gestel en het massiewe aanlyn-aanhang gekry voor dit die hoofstroom bereik het.

YouTube se trefkrag kan nie in twyfel getrek word nie. Justin Bieber se “Baby” is in 2010 opgelaai en is tot op hede 797 501 981 keer op die kanaal gesien. “Bad Romance” van Lady Gaga is reeds 494 589 340 afgelaai; die Koreaanse popster het YouTube-kykers gaande met sy “Gangnam Style” (674 545 428 aflaaie)’ en Suid-Afrika se grootste musiek-uitvoerproduk, Die Antwoord, staan op 18 548 241 met hul video “I fink you freeky”.

Die grootste gros van die video’s op YouTube word met fris begrotings vervaardig. Tog bied dit ook ’n platform vir opkomende videograwe wat met beperkte fondse en basiese toerusting dieselfde geleentheid het as die bulle met die vet beursies.

Plaaslik is Buckfever Underground se animasievideo “Die ou man en die ou vrou” ’n sprekende voorbeeld van hoe treffend ’n liedjie vertolk kan word sonder dat dit jou ’n fortuin hoef te kos:

Nog ’n goeie voorbeeld is Paul Riekert (Battery 9) se hoogs onderskatte syprojek, Die Menere, wat onlangs met ’n video vir die nuwe snit “Laaste braai op Rooijakkalsdraai” vorendag gekom het:

Gaan soek ook gerus op YouTube na die musiekvideo’s van Bittervrug (vernaam “Ek hoor my voete op die teer” en “Net toe ek jou vashou”).

Sonder video’s sou die musiekbedryf – letterlik en figuurlik – veel armer gewees het en was ons as kykers nie naastenby so ryklik geseën nie.

Nou moet ’n mens dit nog net in sommige kunstenaars – veral plaaslik – se klapperdoppe kry dat jy nie ’n bekakkingswekkende deuntjie met ’n video kan red nie.

Top 10 beste video’s:*

Pearl Jam – Jeremy
Nine Inch Nails – Closer
Foo Fighter – Learn to Fly
A-ha – Take on me
Peter Gabriel – Sledgehammer
Michael Jackson – Thriller
The Beastie Boys – Sabotage
Jamiroquai – Virtual Reality
Outkast – Hey ya
PJ Harvey – Down by the water

Top 10 goorste video’s:*

Wham – Wake me up before you go-go
Journey – Separate ways
Survivor – Eye of the tiger
Rebecca Black – Friday
U2 – Numb
Lady Gaga – Judas
Nickelback – Rockstar
Kings of Leon – Radio active
Christina Aguilera – Not myself tonight
David Hasselhoff – Hooked on a feeling

* Nie in volgorde nie. Top10’s saamgestel uit soortgelyke lyste deur Rolling Stone, NME en Billboard.

Inligting vir die rubriek is gedeeltelik saamgestel uit artikels in www.nypress.com, www.history.com, www.myspace.com en www.wikipedia.org

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top