Musiek vir die sintuie

  • 0

Musiek het nie meer ’n eksklusiewe, tasbare tuiste nie. Dis nie meer nét in musiekwinkels beskikbaar nie. Dit leef deesdae in ’n virtuele wêreld sonder grense. Daar is nie meer reëls en voorskrifte oor waar en hoe musiek geskep moet word, wie dit gaan versprei en hoe jy dit in die hande kan kry nie. As jy digitaal ingeskakel is, kan jy dit maak en kan jy dit vind. As jy nie is nie, gaan jy waarskynlik uitmis op die jongste tunes (of digitaal-aangepaste weergawes van die ou classics).

Ek het geen probleem hiermee nie.

Die grootste gros musiekliefhebbers luister deesdae na hul gunstelinge wat iewers in leggers op ’n tabletrekenaar of ’n digitale speler so groot soos (maar dunner as) ’n vuurhoutjiedosie gestoor kan word. Duisend deuntjies in die palm van jou hand, het een of ander ou genaamd Jobs mos op ’n keer hieroor gesê.

Met dit in gedagte deel ek ’n situasie wat nou die dag oor my pad gekom het.

Koop Bandwagonesque se Teenage Fanclub by Kalahari.com.

Op ’n stukkie papier wat ek vind in die broeksak van jeans bestem vir die wasmasjien staan die woorde "Bandwagonesque (Teenage Fanclub)" bo-aan geskryf. Die velletjie, duidelik geskeur uit ’n Croxley Shorthand notebook (Feint Without Red Centre Lines, A5 – 144 pages), bevat ook ander aantekeninge – ’n lys om die waarheid te sê – wat met die eerste oogopslag met ’n blou Bic-balpuntpen geskryf is.

Daar staan onder meer: "Across the Borderline (Willie Nelson)/Harvest (Neil Young)/Doolittle (Pixies)/Steve McQueen (Prefab Sprout)/Cosmo's Factory (Creedence Clearwater Revival)/Rumours (Fleetwood Mac)/Tomorrow the Green Grass (Jayhawks)/Changes (David Bowie)/Nighthawks at the Diner (Tom Waits)/Hanky Panky (The The)/Murder Ballads (Nick Cave)/Animals (Pink Floyd)/Crooked Rain, Crooked Rain (Pavement)/New York (Lou Reed) ...” Omtrent so 25, 30 name word gelys ... dit kan meer wees, ek het meer geskat as getel. Maar dis beslis my handskrif. En elkeen van dié wat neergeskryf is, kan op ’n rak in die sitkamer gevind word, waar ek my CD's en langspeelplate uitstal.

Nou hoekom, op daardie bestemde Sondagoggend wanneer ek, volgens gebruik, wasgoed was, het ek die enkele velletjie papier in die gatsak van jeans gevind? ’n Geskrif wat – no doubt – onderweg was na ’n gewisse waterdood in die vlekvrye ingewande van ’n Indesit front loader  uit die vroeë 1990's? Hoekom het ek spesifiek gaan grawe in die gatsak van ’n vuil Levi, as ek nooit van tevore klere wat gewas moet word, vir iets van waarde deursoek het nie?

Die antwoord, besef ek eers ’n week of so later, is omdat ek iewers in my onderbewussyn ’n reminder moes gestel het die aand toe ek handeviervoet voor my musiekversameling gehurk was, notaboek en pen in die hand, besig met ’n bestekopname van dit wat ’n tasbare invloed op my lewe gehad het (en steeds het).

Tasbare? Dis ’n lame-ass beskrywing. Kom ek probeer weer ...

Ek moes gedink het aan musiek wat my laat onthou, musiek wat my herinner aan. Musiek wat my met die terloopse hoorslag eensklaps neem na ’n spesiale oomblik of ’n spesifieke iemand wat andersins tot solitary confinement in my geheuebank verdoem sou gewees het. Maar bowenal, glo ek, het die lys nie net oor die musiek self gegaan nie, maar oor die prosés van luister. Hoe dit gebeur. Die ritueel, as dit moet. Musiek, het ek waarskynlik daai aand besef, is meer as bloot hoor of sien. Musiek besit die beherende aandeel in die maatskappy wat die vyf sintuie van die mens bestuur.

Vir jare, dekades eintlik, versamel ek hierdie musiek. Op langspeelplate, op CD's, op waarskynlik hoogs onwettige roofkopieë van CD's wat ek nie andersins in ’n winkel kon kry nie weens die feit dat die verkoopspersoon by meer as een geleentheid ’n wasige uitdrukking in die oë gekry het in reaksie op vrae soos: "Het julle The Curtain Hits the Cast van Low?"; "Ek is op soek na ’n CD van Death Cab for Cutie – wat het julle beskikbaar?"; of "Ek het geen musiek van Ween in julle rakke gevind nie en ek wil graag Chocolate & Cheese op CD aanskaf, kan jy help?"

Nes ek hou van die crackle-’n-pop wat ’n langspeelplaat onder die naald van ’n draaitafel maak, hou ek van die ritueel om ’n nuwe CD uit sy plastiekjas te wikkel, die omslagboeke met notas en lirieke te ruik, te bestudeer, en om uiteindelik die skyf in die speler te laai, kinderlik opgewonde om daai eerste note te hoor.

Ja, digitaal is vinnig, skoon, het geen beperkings op wat beskikbaar is nie, en bowenal is dit onsigbaar, so groot soos die device waarop dit gespeel word. Maar ek kyk na daai papierlysie van my, een wat ek waarskynlik in ’n effens aangeklamde oomblik van heimwee neergepen het, en ek dink aan die spesifieke, werklike oomblikke toe ek die CD of plaat gekoop of gekry het; ek onthou die mense wat dit al hanteer het, die partytjies waarop dit gespeel is, die vreugdes en hartseer waarvoor dit ’n klankbaan was, die kere wat dit oopgemaak en skoongemaak en  uitgeleen en teruggesit is in sy semi- alfabetiese plek van my tasbare versameling.

Ek hoor, sien, voel, proe en raak aan dié musiek. En ek het geen probleem hiermee nie.


Klik hier en kyk Teenage Fanclub – The concept live at BBC op YouTube.

Terug Bandwagonesque was die Glasgow-viertal Teenage Fanclub se derde album. Dis in November 1991 op die Creation Records-etiket uitgereik en het vir groot opskudding gesorg toe dit – totaal teen die verwagting in – deur die invloedryke Amerikaanse Spin Magazine as daardie jaar se album van die jaar aangewys is, bo ’n kandidaat soos Nevermind van Nirvana. Die groep het derhalwe sy grootste sukses in Amerika met die album behaal.

Oor Bandwagonesque skryf PASTE Magazine in daardie jaar: “The pop landscape is littered with folks who wish they could deliver just one or two tracks as good as the dozen found on Bandwagonesque.”

Spin se resensie het die volgende te sê gehad: “Bandwagonesque is the sort of album that makes you wish you owned a convertible. An utterly unimpeachable work of genius.”

EW.com se resensent het die album as volg opgesom: “If they have discos in heaven, then Bandwagonesque is the first disc on God's playlist.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top