Musiek op die platteland

  • 0

Soos my gewoonte is, begin my inkopies met ’n lekker ontbyt. Dit kry ek in ’n klein Ierse restaurantjie met so ’n tipiese plattelandse atmosfeer. Die eienares is erg oulik om als te kroon.

Elk geval, van daar af winkel toe loop die paadjie by ’n musiekwinkel verby. Nou die winkel is iets wat seker nie op baie plekke meer bestaan nie. Die eienaar is so reg uit my era. Een van die laaste getroue oud-hippies. Ek gaan staan altyd so ’n bietjie voor sy winkel om te luister na watookal hy speel, die meeste van my musiek is so gekoop, hy speel iets goed en dan koop ek dit. Die winkeltjie is nie juis groter as ’n dubbel-karaats nie, maar dis propvol musiek, selfs ’n groot versameling regte vinielplate. Die ou het nog steeds daardie rustige lewensuitkyk en manier van praat van ’n opregte hippie. Die musiek wat hy vanoggend gespeel het is deur ’n groep met die naam "First Aid Kit" van alle name.

Dit is so baie anders as die hedendaagse musiek wat altyd so hard as moontlik gespeel word en eerder klankbesoedeling is as musiek. Ek het sowaar beter geluide uit hondsdol ape hoor kom as dit wat deesdae deur musikale Yeti’s uitgewurg word.

Ek noem toe vir hom dat ek nog nooit van hulle gehoor het nie en sy antwoord is maar net "Yea man, there’s lots of good stuff out there."

Ai, as daar tog net ’n ou uit my era ’n klerewinkel in die dorpie wil oopmaak.

Maar wat het ek geleer? Seker maar dat mens moet soek vir iets goeds. In die soeke leer mens ook wat is snert en vermy dit. By sekere plekke gaan ek nie in nie en sekere boeke lees ek nie. Net so lees ek sekere LitNetters se briewe ook nie.

Ek groet.

Duitswester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top