Môre se brief
Gee my pen en papier
want môre wil ek vir haar
? hartverklarende brief stuur
Alles in my kop is deurmekaar
want ek’s nie ’n briewe-mens nie
Ek weet nie wat jy van my etiket
gaan dink nie
Ek weet nie wat jy van my handskrif of woordeskat gaan dink nie
maar vir eers gee ek nie om nie
Want ek wil ’n brief skryf aan
die toekomstige nooi van my
want ek hou baie van haar, okay
Die woorde bloei op my hartpapier
hartjies en soentjies en gediggies is wat ek stuur
As ek ’n fout maak krap ek dit uit
Ek hoop nie hierdie brief is ’n fout nie
Wat sal jy van my dink, wat sal jy van my dink?
Ek weet al nou al ek gaan in my skoen wil krimp
Bekommernis lek aan my soos my oorgretige brak
en ek hoop nie jy gooi hierdie brief weg nie
Want trane sal ek nie kan veg nie
Ek’s nou klaar geskryf aan môre se brief
my hart is neergepen en na jou roep ek
luidkeels sonder stem
Ek hoop jy hou ook van my
want ek hou baie van jou, okay
Ek vou die brief
elke vou is ’n vou van my menswees
my smag na joune wees
In ’n koevert sit ek die brief
Wat toe gebeur weet ons almal is vir die beste
ek draai sonder aarsel om
en gooi die brief in die drom
Want tussen jou en jou geloof
sal hierdie liefde nooit blom
Nou sit ek eensaam hier
voor my kaggelvuur
met my hart in die drom
wat ek nooit aan jou gaan stuur
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


