Titel: Suiderkruis
Skrywer: Morné Malan
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624046868
Publikasiedatum: Oktober 2008
Aantal bladsye: 224
Klik op die omslagfoto en koop Suiderkruis nou by Kalahari.net!
Sowat tien jaar gelede het Morné Malan die toneelstuk Sonder vlerke tydens ? ATKV-toneelskryfkursus onder leiding van Deon Opperman geskryf. Dit is by die KKNK en in Grahamstad opgevoer met Hannes Muller, Susan Danford, Annelise Bosch en Malan self (in die rol van die jong seun Hennie). Op NB-uitgewers se webtuiste skryf Malan egter dat hy gevoel het "die storie was nog nie heeltemal klaar nie" en dat hy die teks om hierdie rede moes herskryf en verwerk. Die resultaat is die roman Suiderkruis, wat einde 2007 as die wenner in die debuutafdeling van Insig se Groot Romanwedstryd aangewys is.
Suiderkruis vertel die hartseer verhaal van Magriet wat haar twee seuns, Hennie en Dawid, in Johannesburg gaan soek nadat die Australiese Southern Cross-windpomp op die werf van hul Vrystaatse familieplaas op ? dag "[k]op verloor". Mettertyd word dit duidelik dat Magriet tot op hierdie motoriese moment elf jaar lank (nie nege soos wat die flapteks aandui nie) alleen met die "tjierie-tjieeeeeeeeee" van dié windpomp moes saamleef omdat haar man, Paulus, in een of ander onheilspellende ongeluk omgekom het en haar seuns haar kort hierna verlaat het. Sy begin die verlede stelselmatig oopkrap, "[m]ikstok vooruit", asof sy, soos die waterwiggelaar vroeër tydens die droë jare voor die koms van die windpomp, op soek is na ? wateraar. Dawid en Hennie, vind sy uit, woon saam met Dawid se verloofde, Lydia, in ? klein woonstel in die besige Johannesburg, waar die verkeersknope en gejaagde lewe in sterk kontras staan met die plaaslewe op Stilkuil. Wanneer Magriet ongenooid by hul woonstel opdaag, "ontmoet platteland en stad, verlede en hede, onvergenoegdheid en die diepsluimerende oorspronge daarvan", soos wat die agterblad sê.
Malan vleg in 44 kort hoofstukke verskillende verhaallyne en stemme deurmekaar en skep sodoende ? gekompliseerde teks waarin die spanning rondom Magriet se aankoms in die stad deurgaans opbou en behoue bly. Hy gebruik terugflitse om die spannende herontmoeting uit te stel en terselfdertyd die nodige agtergrondinligting te verskaf wat die breuk tussen ma en seuns verduidelik. Die vertelperspektief word afgewissel en die gedagtegang van elk van die vier karakters word telkens in die derde persoon blootgelê. Bykans die helfte van die hoofstukke is egter aan Magriet se vertellinge oor Stilkuil se Oubaas en haar verhouding met Paulus gewy, terwyl slegs drie hoofstukke aan Hennie afgestaan word.
Wanneer Hennie aan die woord kom, is dit meestal die gebrabbel, "allerhande nonsens-rympies", soos Dawid dit stel, wat hy as vyfjarige uiter omdat hy nou, as sestienjarige, nie praat nie en by ? "stomskool" skoolgaan. Hierdie dialoog sluit aan by sy fassinasie met voëls en sy kennelike gehegtheid aan die "donnerse voëlkou" wat die humeurige Dawid teen die mure uitdryf, maar dit oortuig nie heeltemal as die woorde van ? vyfjarige nie:
Twieter twieeeet twwiieeeet, ja, twieeeet, rrrrrrraait, sjjjjjjt, kyk nou eers biekie, [...] sien jy, net so, ogies toe!, toe, eers ogies toe, nou klappie vlerke, klappppppie vlerke, klappie vlerke, klap hulle, klap hulle, klap hulle klapklapklapklap [...] vliegie vlaggie vloggie vliegie vlaggie vlieeeeeeg sommer hoog hier bo-oor alles.
Dawid, wat in sy dertigs is en klaarblyklik in die stad aangepas het, gebruik woorde soos "getjol", "poeza", "kiéf", "têppit" en "naff". As kind let hy egter op die "[f]litsblink" parte van die Suiderkruis en die "knoetsstamme en huiltakke" van die wilgerbome. Ek vind sy taalgebruik as volwassene onwaarskynlik en die uitbeelding van die verandering wat daar sedert sy jare op die plaas plaasgevind het, ietwat geforseerd.
Daar is moeilik onderskeid te tref tussen die woordkeuses van Magriet en Lydia. Lydia deel egter nie in die plaasgeskiedenis nie en verstaan dus nie die spanninge tussen ma en seuns nie; die inlas van hoofstukke waarin sy aan die woord kom, verbreek die oorkoepelende frasering van die verhaal.
Dit gebeur soms dat dieselfde gebeure uit verskillende oogpunte weergegee word en dat dieselfde gesprekke dan woordeliks herhaal word. Tesame met die terugflitse stel hierdie herhalings die spannende herontmoeting telkens uit. Dít, en die uitgesponne beskrywings van gebeure met betwyfelbare relevansie, is by tye langdradig en selfs irriterend.
Malan gebruik dikwels clichés of ongeslaagde beelde: so vou Magriet byvoorbeeld "die stilte soos ? tjalie om haar skouers" en "hang [die oomblik] breekbaar, fyn, soos geblaasde glas ..." wanneer Lydia op die vlieënde Hennie afkom. Magriet se hart "bokspring" by geleentheid en wanneer Lydia aan Dawid dink, "krimp" haar hart. Hennie se oë word as "pierings" beskryf, terwyl Lafras van die koöperasie "kraalogies" het. Ook is die karakterisering nie altyd heeltemal geslaagd wanneer Malan dieselfde trekke op verskillende karakters beskryf nie: as dit nie Lydia is wat met ? "skewe smile" mompel nie, is dit die plaaswerker Thamelo wat "half skewerig" glimlag of Dawid wat "half skewebek" praat.
Die gebruik van kort sinne en stopwoorde soos "half" bemoeilik die lees. Op bladsy 56 loer Dawid byvoorbeeld "so half onderlangs" na Hennie, wie se oë "half op skrefies" is en voel hy "[s]o half ? leegte". Dawid skrik hom ook "half befok" en Lydia is by geleentheid "half verslae". Die karakters doen te veel dinge half.
Ook jaag hulle asems en stotter en staar hulle te veel wanneer daar ? ongemaklike situasie opduik en lees die teks dan baie soos ? toneelstuk. Die ontmoeting tussen Lydia en Magriet lees byvoorbeeld soos volg:
Die vrou kyk vlugtig verby haar die woonstel in. En dan weer terug na haar. Sy staar ? oomblik. Wat wil sy hê? Dan verskuif die vrou haar gewig effens na die ander voet. "Môre," groet die vrou. "Jammer om te pla." Beleefd. Maar effens uitasem. Haastig. "Is Hendrik ... Hennie dalk hier?"
Daardie stem! Dit kan tog nie ... kan dit ... dis ...
Die vrou knik. "Dis reg," sê sy. "Magriet Wessels. Ek is Hennie en ... en Dawid se ma."
Die oordadige gebruik van ellipse is by tye funksioneel, maar dikwels hoogs frustrerend. Van Lydia word gesê "sy ... sy ... sy ... sy's móég" daarvoor om ingesleep te word by Dawid en Hennie se probleme; en so raak die leser ook moeg daarvoor om sulke broksinne te moet lees.
Tog slaag Malan daarin om die leser in te trek by die lewens van die versukkelde Magriet, die rebelse Dawid, stomme Hennie en versigtige Lydia en is dit amper asof ? mens deurgaans die getjierie-tjieeeeeeeeee van die windpomp, die "ewige gebleddie-tjank van die wiel" waaroor Dawid kla en wat Hennie nie kan weerstaan nie, kan hoor. Mens maak dus maar soos Hennie jou "ogies toe ogies toe ogies toe" en lees deur die klein irritasietjies tot by ? slot waarin die verhaal mooi tot ? eenheid saamgebind word en waarin die Suiderkruis weer sentraal staan. Ook laat hierdie slot die leser vergenoegd: daar is immers by Dawid "iets, diep in sy binneste ... 'n toring wat verrys - die Suiderkruis. Sterk. Núút."
Hoewel daar nie vreeslik vernuwend met die plaasgegewe omgegaan word nie, is Suiderkruis ? aanwins vir die Afrikaanse plaasroman-genre. Soos wat Malan self op NB-uitgewers se webtuiste in verband met die roman erken: "Hy's nie sonder sy foute nie, maar perfek maak nie noodwendig mooi nie."

