Moord op Stellenbosch. Karin Brynard onder die soeklig

  • 0

’n Onderhoud met Karin Brynard oor haar jongste spanningsroman, Onse Vaders (2012)

Onse Vaders (2012) laat mens nie nét jou vingernaels van spanning afkou nie. Dit is ook ’n roman wat, soos Karin Brynard se eerste roman, Plaasmoord (2009), kommentaar lewer op ’n verskeidenheid samelewingsprobleme. Kerneels Breytenbach beskou dit in ’n LitNet Akademies-resensie as ’n sosiaal-betrokke roman. Ek vind dit veelseggend dat Karin juis Stellenbosch as ruimte gekies het vir die bloedige moord op die karakter van die rykmansvrou Elmana du Toit – en hierdie ruimte deurlopend kontrasteer met Johannesburg en Soweto, waar ’n parallelle misdaad plaasvind. My vrae is dus hoofsaaklik gefokus op die ruimte wat sy kies om die gebeure in te laat afspeel.

Uiterlik word Stellenbosch in hierdie roman as ’n Bolandse dorp van gewels, geld en wyn beskryf. Onder die oppervlak is dit ’n ruimte waar rassisme en vooroordele heers en moord en bedrog plaasvind. Waarom het jy Stellenbosch as ruimte vir die moord op Elmana du Toit gekies?

Ek wou kyk of ek letterlik kon “huis toe’ kom met my Beeslaar-stories. Ek woon al die afgelope 19 jaar hier en het in hierdie tyd besef dat Stellenbosch vir baie mense meer ’n idilliese idee as ’n dorp is. Dis die fraai prentjie van die ou Kaapse kultuur, die kuns en argitektuur, die laaste pilaar van die Afrikaanse taal se behoud en invloed, die herinnering aan ’n verromantiseerde geskiedenis. Maar in werklikheid is die dorp anders.

Toe ek begin skryf het, het ek het my onmiddellik vasgeloop in die opskuddende moord op die jong student hier in 2005. Ek het besef daar’s geen manier waarop jy selfs sewe jaar later nié daarna kan verwys nie. Die saak maak nou nog opslae. Ek kon dit eenvoudig nie ignoreer nie – veral nie as ek karakters in die plaaslike polisie wou skep nie.

En dan is daar die sosiale samestelling van die dorp, wat hom brandmerk as die “laaste” vasskopplek van die “Afrikaner”. Of liewer, die ordentlike gesig van wit Afrikaanssprekendes, die filosowe en kritiese denkers en kunstenaars wat op byna ouwêreldse manier – ver weg van die storm en drang van die kultuurbotsings en -fusies van die noorde – ’n vergane dinastie gedenk.

Onder die fraai ou Kaaps-Hollandse gewels, agter die hoë tralieheinings van die skatryk Afrikaner-elite, is die gemeenskap nog baie wit en Afrikaans. Het elke bevolkingsgroep tot groot mate nog ’n aparte woonbuurt, is die goeie skole oorwegend wit en Afrikaans. Dis amper asof die lewe op Stellenbosch tot groot mate afgesny is van die harde realiteite van die res van die land.

En hiermee probeer ek nie die dorp veroordeel nie. Ook nie sy meer gegoede inwoners kritiseer of uitwys as vaandeldraers van apartheid nie – en die armes as die heiliges nie. Dit is bloot hoe die dorp hom met eerste oogopslag voordoen.

Nog ’n ding wat my geprikkel het: die sogenaamde Kaapse liberalisme. In my jare as politieke verslaggewer vir Gautengse koerante het ek dikwels gehoor van die “Kaapse liberalisme”. Maar toe ek hier aanland, het ek ontdek dat dieselfde oordele en vooroordele maar hier geld as in Gauteng. Miskien was dit hier vir my selfs nóg enger: wit mense se verdraagsaamheid was tot ’n groot mate beperk tot hulle bruin landsgenote. Hulle bruin bure wat tegelyk woedend oor die vernedering van apartheid was én bevrees vir die toekoms onder ’n swart meerderheid.

Soos menige ander misdaadskrywer wou ek met Onse Vaders onder meer ondersoek instel na die hoë voorkoms van misdaad in ons Suid-Afrikaanse samelewing. En die vraag stel waarom dit met soveel sinnelose geweld gepaard gaan.

Ek wou kyk of dit vir my sin sou maak om parallelle te trek tussen die psigiese gesondheid van die gemiddelde gesin en die breër gemeenskap. En ek wou by uitstek kyk of die Afrikaners – met ons bevoorregting van dekades, ons “kultuur en waardes”, rede het om te dink dat ons beter is.

Daarom het ek die prentjie van ’n ryk, wit gesin in die idilliese Stellenbosch gekies.

Elmana du Toit is ’n rykmansvrou wat aktief in die gemeenskap betrokke is. Tog is sy agter die skerms ’n tik-verslaafde. Stellenbosch word as ’n soort kunsmatige “Disneyland” uitgebeeld, teenoor die ruwe aarde van die Kalahari waar Beeslaar tuis voel. Wat is die rol van skyn in die roman?

Dis die lugborrel wat ons vir onsself geskep het. Die ding waarna Thabo Mbeki destyds verwys het toe hy gepraat het van die twee Suid-Afrika’s wat daar in hierdie land is. Die meer gegoede mense trek laer in ommuurde buurte, waar hulle veilig voel teen die onheil van buite. Die idille van ’n veilige, gekoesterde bestaan binne ’n omgewing van reuse sosiale verandering verg baie energie om in stand te hou. Ons raak verslaaf aan hierdie idee en hierdie hunkering om alles wat “lelik” en reëel is, buite te hou – ook ons eie geskiedenis. Ons gebruik alle middele tot ons beskikking om onsself te troos en te sus – eweneens van ons eie donker kante (ons vrywillige meedoen aan apartheid) en die realiteit “daar buite”. Geld, godsdiens, kultuur. Alles word in die stryd gewerp.

Hoe meer ’n mens delf na begrypbare verklarings vir die hoë vlakke van geweld wat met misdaad gepaard gaan, hoe meer ontwyk ’n enkelvoudige antwoord jou. Baie wit mense hunker terug na die “ou dae”. Wat bedoel hulle daarmee? Terug na apartheid? Ek glo nie so nie.

Ek dink ons almal hunker na ’n era van die rustige idille. En ek glo dat dit ’n idille is wat ons geneig is om op die verlede te projekteer. Want ons as gemeenskap is “in sonde ontvang en gebore” te midde van grootskeepse wreedheid van een bevolkingsgroep teenoor die res. Ek glo dat ons almal letsels dra uit daardie verlede – wat dit moeilik maak om hierdie “oorgangstydperk” in die politiek met wysheid en genade te hanteer.

Deur die uitsprake van die karakters in die roman, veral van kaptein Quebeka, wat saam met Beeslaar aan die ondersoek op die moord werk, maar ook van die koerantredakteur en eiendomsagent op die dorp, sou mens kon sê lewer jy indirek kommentaar op die gemeenskap van Stellenbosch. Wat is die invloed, indien enige, van die dorp op jou skryfwerk, aangesien jy self hier woon?

Stellenbosch bly vir my meer ’n idee as ’n werklikheid. Dis die idee van Afrikaner-kultuur en sy (mooi) geskiedenis, van kuns en die akademie en die ou adel van die wynlande, die geboorteplek van tradisionele instansies se breinkrag (destyds die “kleuterskool” van die Broederbond, ens). Dis ’n plek waarheen hedendaagse Afrikaners graag vlug – mentaal sowel as fisiek. Die assosiasie met die universiteit is tegelykertyd rugby (Doc Craven) en Degenaar (wysbegeerte) en Van Zyl Slabbert (ordentlike gesig van apartheid-era-Afrikaner).

Maar ons vergeet dis ook waar Verwoerd vorm gekry het, waar die slaweklok nog in die middel van die dorp staan, waar die tragiese geskiedenis van die grond van ons land begin het. Dis ’n geskiedenis wat verby “Die Slag van Andringastraat” terugstrek na die eerste vry slawe wat grondbesitters geword het in die Jonkershoekvallei.

As persoon het ek nooit deel van Stellenbosch se gemeenskap geword nie – ek het nie kinders hier op skool gehad of ooit deel van ’n kerkgemeenskap of ’n werkomgewing geword nie. Dus is dit vir my maklik om met “vreemdeling-oë” na die dorp te kyk.

En dit maak dit natuurlik ’n baie interessante agtergrond juis vir ’n moord.

Hoe wou jy in die roman ryk verveelde vroue uitbeeld? En hoekom?

Vir my is daar eintlik nie ’n ding soos ’n “ryk, verveelde vrou” nie. Want elkeen van ons word gevorm deur ons biologiese herkoms, ons opvoeders en ons omstandighede. Mense is interessante wesens – of hulle nou ryk of arm is. Besig of verveeld. En ons worstel almal met dieselfde gevoelens – van behoort en aanvaarding. Van liefde ontvang en gee, vrese of wrokke koester, vergelding afdwing, jaloesie beheer ...

Jou blik op Stellenbosch in die roman sou as negatief beskou kon word. ’n Plek met ’n woedende wind, ’n dorp met verdelings, waar die gemeenskap gesegregeer is: “wittes in die hoofdorp ... agter slot en grendel. Die bruines op hul plek, onder die gangsters. En die swartetjies. Dié sit agter die ystergordyn” (208). Wou jy kommentaar lewer op die werklike Stellenbosch soos jy dit sélf ervaar?

Die wind is nuttig om ’n buitestander se vervreemding te illustreer. In Plaasmoord was dit die Kalahari-hitte. Wat die segregasie betref: ja, vanweë die geskiedenis voor en tydens apartheid is die bevolkingsamestelling in baie Bolandse dorpe anders as in die res van die land. Swart trekarbeiders na die Wes-Kaap is nog altyd “ontmoedig” en bruin mense het ’n werkreserveringvoordeel gehad. Dit maak die politiek in hierdie deel van die land anders. Vir my is dit interessant hoe die Boere graag deesdae die bruin mense aan hulle kant wil hê, hulle wil intrek deur die taal en kultuur – sodat die “swart oormag” buite gehou kan word.

Maar dis juis hierin dat daar wonderlike uitdagingsmoontlikhede lê: Afrikaanssprekendes wat ’n energieke poging aanwend om die “nuwe inkommers” uit die Oos-Kaap geliefd en welkom te laat voel. Dit is vir my een manier waarop Afrikaans as taal “gered” kan word.

Kolonel Quebeka is byvoorbeeld geskoei op ’n jong Xhosa-vrou wat as broodbediener in ’n winkel hier gewerk het. Sy is in die Oos-Kaap gebore, maar haar ouers het na Wellington verhuis en sy het in ’n Afrikaanse skool beland – en praat vlot Afrikaans, in sy standaardweergawe sowel as Kaaps!

Eiendomsontwikkeling op Stellenbosch speel ’n belangrike rol in jou roman. Die moord op Elmana du Toit is moontlik ’n kwessie van eiendomswoede – die gevolg van die omstrede ontwikkeling “Jonkersvalley”. Ook word daar telkemale verwys na die gierigheid van blankes oor eiendom. Hoekom het jy grondsake in die Boland as tema gekies?

Grond en wie dit besit bly vir my ’n sentrale onderwerp in ons land – en ek glo dit sal polities die grootste uitdaging vir ons bly.

In die Wes-Kaap is daar die bykomende kwessie dat die natuurskoon so klein en kosbaar is. Die stuwing vir ontwikkeling en uitbreiding en geldmaak is nie ’n verskynsel wat ons in Gauteng alleen sien nie. Maar hier in die Wes-Kaap is dit dalk soveel meer intens, omdat daar so baie is wat verlore kan gaan. Buiten die fynbos en renosterveld, wat reeds vir 94% voor wingerde en ander landbou-aktiwiteit moes swig, is daar ook die kultuurerfenis wat verlore kan gaan.

Vandag is baie van die kampvegters vir die behoud van historiese geboue dieselfde Afrikaners wat in die jare sestig en sewentig so maklik en so uitgebreid te kere gegaan het – en soveel van die karakter van ons klein dorpies in die Wes-Kaap en die Karoo vernietig het.

Wat was die funksie om die geografiese ruimte van Stellenbosch met Soweto, Johannesburg, parallel af te wissel?

Ek wou bloot maar sê dat misdaad en geweld nie beperk is tot die armlastiges nie. Dat die dikwels hoog geprese Calvinistiese werksetiek en moraliteit van wit mense ook maar flenterdun kan wees.

Misdaad is in die roman ’n barometer van samelewingsprobleme. Die gemeenskap van Stellenbosch word as een groot verbrokkelde gesin uitgebeeld. Wat het die hooftema van die roman – die sondes van vaders – hiermee te doen?

Ek was geïnteresseerd in die feit dat ons sosiale geskiedenis in hierdie land – vir wit en swart – hoofsaaklik patriargaal van aard was. Maar na die demokratisering van 1994 het baie van die ou strukture in duie gestort. In tradisionele gemeenskappe het daar, tydens die massale verstedeliking wat plaasgevind het, ook ’n wegbeweeg van patriargale stamstelsels gebeur. In die wit/Afrikaner-gemeenskap was die kerk, die onderwys en die Broederbond altyd die “vaders” van die volk. Hierdie “pilare” het na 1994 skielik verdwyn. Ek wou kyk wat in die plek daarvan tot stand gekom het.

Een van die dinge wat my in my navorsing opgeval het, is die afwesigheid van die fisiese vaderfiguur in die meerderheid Suid-Afrikaanse huisgesinne. En die uitwerking daarvan op die geestesgesondheid van die kinders uit daardie huise. In die sielkunde vervul ’n vader ’n baie spesifieke rol in die gesin: hy is die beskermer en voorsiener, hy gee die leiding en vestig die morele lewensbeskouing van die kinders in sy sorg.
As hy fisies nie meer daar is nie, wat gebeur dan? Hoe leer jong seuns om mans te word sonder die aanwesigheid van ’n man as rolmodel? Hoe leer hulle vroue hanteer of respekteer? Hoe leer hulle wat manlikheid beteken? Hoe verkry hulle dapperheid om die groot uitdagings van die lewe te kan aanvat en trotseer?

Laastens kan ’n mens seker ook vra wie dan die huidige rolmodelle is. Madiba was die laaste “vader” vir die volk. Is daar ander wat sy skoene sal kan volstaan?

Watter funksie het die karakter Maaike se Nederlandse afkoms?

Ek wou ’n karakter skep wat as buitestander kon kommentaar lewer op ons gemeenskap. Ek is getroud met ’n Nederlander en ken baie Nederlandse expats en is telkens verras oor die manier waarop hulle vanuit hul Nederlandse, liberale agtergrond na die huidige Suid-Afrikaanse kwessies kyk.

Is dit belangrik om op die plek waaroor jy skryf, te woon?

Nee, wat. Dis dikwels veilig om dit te doen, want jy ken die plek beter en sal minder geneig wees om foute te maak. Maar my volgende boek vat ek weer terug Kalahari toe.

Vir jou roman het jy baie navorsing gedoen. In jou bedankingsbrief aan die einde van die roman skryf jy dat jy snags saam met Tracker in Soweto “intiem kennis gemaak het met voertuigmisdaad”. Is dit belangrik om fisies teenwoordig te wees op die plekke waaroor jy skryf? Watter fisiese ervarings het jy vir die doeleindes van hierdie roman meegemaak?

Dit hang seker af van die soort verhaal wat jy skryf. Maar dit verleen geloofwaardigheid aan ’n misdaadverhaal. Hoe nader aan die werklikheid dit is, hoe groter is die gril in die ril wat die leser beleef.

Ek het vir die doeleindes van Onse Vaders verskeie sangomas besoek – in Soweto sowel as hier in die Kaap. My Kaapse sangoma was baie interessant – in die opsig dat sy wit is. Sy het haar opleiding in die Swazi-tradisie gehad en het my die volle ervaring van ’n besoek en ’n gesprek met die voorvadergeeste laat beleef. Dit het ook my respek vir die praktyk versterk.

Die manne van Tracker in Johannesburg was baie entoesiastiese vertellers en ek kon die volle omvang van hulle werk beleef – van die “vervelige” nagte waar daar niks gebeur nie tot by die gevalle waar hulle werklik ’n kaper vastrek.

As joernalis wat dikwels “’n dag in die lewe van ...”-stories gedoen het, het ek besluit dat dit vir my noodsaaklik sou wees om ’n dag in hierdie ouens se lewens mee te maak as ek regtig geloofwaardigheid aan die karakters en gebeure wou verleen.

Sien jy jouself as ’n sosiaal-betrokke skrywer?

Sjoe, dis moeilik. Ek wil in die eerste plek misdaad en spanning skryf. Maar ek vermoed my verlede as politieke joernalis gaan my nie toelaat om nie ook na sosiale kwessies te kyk nie. Ek doen dit ook in my volgende boek.

Wat is die invloed van jou agtergrond as joernalis op jou skryfwerk?

Te veel, dink ek. Ek is oor ’n tydperk van 30 jaar plus ingeprent dat ek by die feite moet hou as ek ’n storie skryf. Nou moet ek duimsuig om ’n storie te skryf. Ek voel egter veiliger in feite – en soms het ek die geneigdheid om meer navorsing te doen as wat streng gesproke nodig is. Dit word dan ’n moeilike blok aan die been, want ek moet ontsettend baie wegsny om die storie onder al die feite uit te haal, asem te gee en die hoofelement van die boek te maak.

Wat is die moontlikhede en positiewe uitdagings van die genre van die spanningsroman?

Jô, daar is eenvoudig geen einde aan die moontlikhede nie. Spanningsboeke strek ver en wyd in die aanpak daarvan. Van die gewone gesellige soort Engelse Agatha Christies tot die zippie en bevonkte Lauren Beukes se wetenskapfiksie-spanning. Dis wat dit so ’n opwindende genre maak.

Wat is die beperkinge van die genre?

Ek weet nie – dalk die feit dat soveel mense dit, in terme van styl en resep, in netjiese bokse probeer sit. Die skuldige moet altyd uitgewys word en aan die pen ry. Gelukkig is daar baie spanningskrywers wat hulle nie aan die konvensies steur nie. En hulle mag maar.

Wat is jou raad aan aspirantskrywers wat graag in die genre van die spanningsroman wil skryf?

Lees soveel moontlik. En ’n reël wat jy nie mag verbreek nie: jy mag nooit vervelig wees nie.

Bestel Karin Brynard se Onse Vaders (2012) hier.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top