Ek sien in en hoor oor die media dat twee Afrikanermans ’n jong Moslem vermoor het. ’n Laakbare daad, veral oor dit voortspruit uit ’n nietigheid soos ’n stryery oor ’n baard. Wat ’n waansinnigheid; die vermoorde se gesin en familie se verlies is onbeskryflik groot en die Afrikanermans se gesinne en familie se lewens gaan ook ingrypend verander en dit nie ten goede nie.
Wat eienaardig is omtrent die insident is dat die nasionaliteit van die oortreders genoem word. Is dit reg volgens die aanvaarde norme in die NSA? Ek twyfel, maar daar is een goeie ding omtrent hierdie soort van beriggewing: Ons weet nou alle misdaad waar nasionaliteit NIE genoem word nie, NIE deur Afrikanermans gepleeg was nie soos plaasmoorde, huisbraak, korrupsie, klipgooiery, die soort van ding.
Nog iets wat my opgeval het is dat KykNet uitgebreid oor die moord op die Moslemjeugdige verslag gedoen het, volledig met insetsels oor die familie en vriende met protesplakkate. Net daarna, in een asem, sonder insetsels, is verslag gedoen oor ’n dame wat deur 3 mans aangeval en met messe doodgesteek is en ’n bejaarde egpaar wat deur 5 mans aangeval en vermoor is. Moorde op blankes is nou so algemeen dat dit byna geen nuuswaarde meer het nie.
Een ding kan die Afrikaners by die Moslemgemeenskap leer: Moord op jou eie mense kan nie geduld word nie. Dink jy, vir een oomblik, gegee die optrede van die Moslemgemeenskap ten opsigte van hierdie insident, dat hulle moorde op hulle mense so gelate sal aanvaar soos ons ten opsigte van die, teen die tyd, 2 000 moorde op ons mense? Hoe kan predikante en pastore Sondag na Sondag preek sonder om uit te vaar teen die skreiende skande van moord op ons mense. Is dit nie ’n ongeregtigheid nie?
Jan Rap

