Mooiloop | LitNet-skrywersdorp: Vallei van verlange

  • 0

Die meeste daarvan onthou jy soos gister. Maar wat as dit nie meer so is nie? Chris Barnard het die spoor teruggevat na die lekkerste plekke van sy kleintyd.

Het dit hoegenaamd iets met die plek te make of dalk eerder met die verbyheid van alles? Op soek na die gekoesterde landskappe van ’n jeug loop jy jou sonder ophou vas teen die verlies. Alles is nog daar en niks daarvan het oorgebly nie.

Tyd steel die hart uit alle dinge uit.

Dis dieselfde werf. Dis dieselfde opstal. Dis dieselfde kamervenster. Maar dit waarna jy kom soek het, is skrynend afwesig. Dis ná 50 jaar nog dieselfde watervoor, maar nie meer dieselfde water nie.

My vallei van verlange lê oos van Schoemanskloof waar die berge effens oopmaak óm die samevloei van twee riviere, met die Uitkykberge suid en die rante en los klipkoppe noord van die kronkelende Krokodil.

Dis die tuin van goed en kwaad. En die land van melk en heuning.

My vroegste herinnering het jare later van tyd tot tyd kom plek soek in stories wat ek geskryf het. Want stories het ’n manier om te teer op belangrike oomblikke in jou lewe.

En daardie oomblik moes uitsonderlik gewees het, anders het ek dit nie so knaend onthou nie.

Die dag begin breek agter ’n donker bos papajabome.

Dis ’n bloedrooi dagbreek, en voor die huiwerige gloed sien ek, so roerloos soos ’n skildery, die swart stamme en blare en vrugte van ’n vreemde en geheimsinnige landskap.

En vir die heel eerste keer in my lewe weet ek die wêreld ís mooi. Ek sou daardie wêreld die res van my lewe onvermoeid verken en onwillekeurig, bietjie vir bietjie, daarvan afskeid neem.

My kleintyd lê verdeel tussen vier plase. Mataffin, waar ek gebore is, en waar ek daardie oggend op die bed moes staan om by die venster te kan uitkyk; Boschjeskop, wat ek later sou onthou as my jaar in die hemel; Elco, waarvan ek niks meer kan onthou nie; en Boschrand.

Al vier plase lê in dieselfde distrik en onder dieselfde sterre, soos die kraai vlieg 10 kilometer uitmekaar.

Op Boschjeskop was dit altyd somer. Ek het saam met Pa sy wilde hings gery, ek voor tussen sy knieë, en my verbeel ons vlieg, ons raak net hier en daar grond, ons is op pad na die wolke toe, na die reënboog toe wat elke middag oor die misbanke in die vleie hang.

Ek het saam met Ma in die klowe gaan klim en tongeloffies geëet en pempempies gepluk en in die wendam geswem en op die sanderige agterwerf ders tussen die hoë bloekoms vir die hoenders kos gestrooi. Daar was skulpies in die mieliegruis en ons het op hande en knieë skulpies opgetel en ons verbeel ons is by die see, want ons kon hoor, as die wind deur die bloekoms waai, hoe die branders om ons ruis.

Op die oog af sou jy dit dalk nie sien nie, maar in sy hart was Pa ’n rustelose siel. Altyd op soek na iets anders: groter grond om te boer, nuwe uitdagings, meer verantwoordelikhede.

Boschjeskop was vir hom te klein. Vandat ek kan onthou, was hy besig om ruigtes te ontbos, vleie droog te lê, kanale uit te meet, damme te skrop, boorde aan te plant. Selfs buite die seisoen het hy na ryp lemoene geruik. Die lewe was vir hom elke jaar opnuut net ’n enkele seisoen lank.

Ma het met haar een voet in Afrikaans grootgeword en die ander voet in Engels. Haar pa was ’n Blundell wat nie Afrikaans kon verstaan nie, maar hy kon viool speel en op ’n paraffienkissie klopdans en Shakespeare opsê. Haar ma was ’n Van der Merwe wat nie Engels kon praat nie, maar sy kon boer.

Gelukkig het hulle mekaar goed genoeg verstaan en aangevul om ses kinders te kon grootmaak.

Op elke familiefoto staan Pa asof hy op die punt is om weg te stap; Ma staan onseker en glimlag; Sampie staan met ’n kat of ’n hond of ’n konyn of ’n hoender onder die arm; en ek staar in die Brownie se lens in asof ek dink daar gaan regtig ’n voëltjie uitvlieg.

Sulke dinge word nie maklik deur ’n kamera vasgevang nie, maar van die vier op die foto was Ma die een wat altyd gehunker het – die een dag ver vooruit, hemel toe, die volgende dag terug na ’n geïdealiseerde verlede.

Die ontsnaproete uit die hede uit was altyd deur teksverse en herinneringe en storieboeke.

“Oh, if only I could write!” was dikwels haar versugting. “I would have written my own beautiful version of How Green was my Valley.”

Soms, in ’n onbewaakte oomblik, sou sy byvoeg: “I have often tried, but time and again it gets spoilt on the way out.” Die een seun op die foto wat so hoopvol na die kameralens staar, sou dit later in sy lewe self tot vervelens toe ervaar.

Nie een van die plase waarop ek grootgeword het, het aan ons behoort nie. Pa moes altyd vir iemand anders boer. As jy nie op ’n lappie grond wil sukkel nie en jy glo nie aan skuld maak nie, is dit jou voorland. Maar hy was tevrede. Hy kon ander mense se geld gebruik om berge te versit.

Met kanale en viadukte en drukpype het hy op die 14 plase om Boschrand wat hy moes bestuur lemoenboorde laat blom waar daar voorheen geen water was nie.

Ek het Ma verstaan en Pa bewonder, en sonder om te weet my in twee wêrelde geanker. Die vlugtigheid van woorde en die vrugbaarheid van grond.

Nelspruit was ons naaste dorp – destyds nog ’n rustige gehuggie langs die Oosterspoor met ’n polisiepos, ’n paar winkels, lanings flambojante en huise met wye gaasstoepe, weggesteek agter soet frangipani’s, bougainvilleas en palmbome wat in die bedompige hitte staan en broei.

Almal in die dorp het mekaar op die voorname geken en Saterdagmiddae gimkana gery of op die dorpsbane tennis gespeel en skemeraand op koel stoepe C to C gerook, na Mantovani geluister en sundowners gedrink.

Ek en Sampie het Saterdae verpes, want dit was inkopiedag en ons moes altyd saam. Daar was heelwat familie in die distrik wat dieselfde gedoen het. Dan was dit ’n gekuier in die Koffiehuis en sweterige ou tantes met stywe bollas en moesies en lewervlekke wat innig en omslagtig wou soengroet.

Ons huis was teen die hang van die bosryke rand wat aan die plaas sy naam besorg het, en van ons voorstoep af kon jy saans die dorp se ligte sien flikker en ver treine hoor fluit. Maar dit was ’n ander planeet. Ons werf was die enigste werklikheid – vrugtevlermuise in die swaar mangobome, die geur van ryp lemoene, die gekabbel van die watervoor, klokkende paddas in die rietbos en die gezir van torre en melerige nagmotte teen die gaas.

Somernagte kon jy maar gaan kyk, veral oor naweke: êrens in die donker bokant die klipplate sou jy ’n lantern tussen die bome sien dobber. Gaan soek jy Sondag sal jy die plek kry waar hulle gegrawe het – die fortuinsoekers van die Laeveld, ewig aan die dwaal agter die legende van Paul Kruger se verlore miljoene aan.

Die storie was maar altyd dieselfde: ’n halfuur te perd van Nelspruit se Fig Tree-hotel af, reguit noord, tussen die wurgvye en maroelas en stamvrugte en kiaatbome, skuins in onder ’n groot rots. Elke jaar ’n nuwe gerug, elke keer ’n ander kaart, altyd weer Boschrand – en die droom van ’n kielhouer wat in flou lanternlig skielik metaal tref.

Sondagmôre was ’n vars hoop grond en ’n leë brandewynbottel al wat oorgebly het van die vorige nag se helder en hardnekkige visioene.

Daar was sewe woonhuise en ’n groot kampong op Boschrand. En in die tydgees van destyds was die kampong vir ons verbode.

’n Stuk of honderd grasdakhutte met mure van lat en klei, elkeen met sy eie kookskerm en beesveltrom en opwengrammofoon vol musiek wat ek eers jare later sou herken as Soweto en Sophiatown se polsende ritmes.

Ek en Sampie het snags uit die huis weggeloop en op die verste rand van die flikkerende kookvure sit en luister na daardie vreemde uitbundigheid en gewens ons kon deel word daarvan. Sampie was ’n gebore danser.

Hy het as peuter al sy luiers tot op sy enkels gedans sonder enige teken van musiek. En Saterdagnagte het ons in die stofpad langs die kampong riele getrap op maat van Kippie Moeketsi en Jonas Gwangwa, en nie gewonder hoekom ons dit doen nie. Ons was al twee waarskynlik deur die maan gepla en glad nie daaroor besorg nie.

Op pad terug was die sewe huise teen die rand reeds donker, met net hier en daar ’n buitelig wat brand – en somermotte wat om ’n kaal gloeilampie by die voordeur sirkel die enigste beduidenis van ’n dans.

Tussen die sewe huise was daar van klein tot groot ’n stuk of 15 kinders, met die meisies ongelukkig in die minderheid – maar hulle was dapper genoeg om saam met ons perd te ry en in die kuile te swem en kennetjie en krieket en sokker te speel.

Dis in die vyebos langs dieselfde stukkie pad waar ek op die rype ouderdom van agt soetkoekies uit my ma se spens by Lena Nel geruil het vir ’n soen.

Dis op dieselfde pad waar ek die heel eerste keer Henna se hand vasgehou en ewige trou gesweer het – skaars 20 treë van die plek waar ek en Peet Prinsloo mekaar een aand ’n paar maande later pimpel en pers gefoeter het oor wie soggens en smiddae op die skoolbus langs Ina Steenkamp mag sit.

Ina het nooit weer naby een van ons gesit nie.

Ek het jare ná matriek nog dikwels op Boschrand gaan kuier, maar daar was elke keer minder van die ou bekendes oor. Die Schoemans en Nels en Steenkamps en Prinsloos was nie meer daar nie. Pa en Ma ook nie.

Ma is dankbaar weg na haar ewige groen vallei toe en Pa het sy laaste akkertjie gespit. Maar die veld het nog na heuning geruik en die koraalbome het nog elke winter net so rooi geblom, die bruidsbosse net so wit, die kiate nog net so geel.

Op die hoogste klipkop, een somermiddag, in die yl koelte van ’n botterklapper, kon ek afkyk op die sewe huise van destyds. En alles was ineens maklik om te verstaan.

Ons wóú die rante en klowe van my kleintyd in die bewende somerhitte klim omdat die lewe was wat dit was – ’n wonderlike tydverdryf.

Ons wóú deur die digte kreupelhout kruip en met rieme in klipskeure afsak en hamerkopneste verken, want daar was ’n huis om na toe terug te gaan.

Ons kon verlief raak en seerkry en drome droom en uitbundig wees omdat ons geweet het Ma gaan skemeraand op die agterstoep sit en groente skil en Pa sal moeg en tevrede op die werfkweek ’n deuntjie lê en fluit.

Daar was niks op aarde om voor bang te wees nie.

Dertig jaar later het ek weer dieselfde veelbewoë stukkie stofpad gestap. Weer laat in die nag. Want in die helder daglig was dit nie moontlik om my te verbeel ek is weer 16 en alles is nog presies dieselfde nie. In die donker kon ek nie sien al die werwe het verander en daar het vreemdelinge ingetrek wat ’n mens agterdogtig staan en agternakyk nie.

In die donker kon ek nie sien die kampong en die perdestalle en die lemoenboorde teen die hang is al jare gelede deur kruiptrekkers platgestoot nie. Daar was nog kiewiete wat voor my opfladder en koggelend in die donker wegraak.

Ek kon nog stamvrugte ruik.

Die klipkoppie met die grysappelbos waar ek en Stienie Schoeman Oliver Twist gelees het, was nog daar. Net Stienie nie meer nie. Sy het een somermiddag sonder om iemand te waarsku ons mooi vallei vir die hemel verruil.

Ek het by antie Souf se huis verby gestap en presies onthou hoe ruik haar sideboard – na blouseep en tabak en ou boeke wat baie gelees is.

Verby oom Jacob wat Woensdagaande by die biduur so aandoenlik met die Here kon gesels oor die ontydigheid van die droogte.

En af met die pad, af na die werf toe met die kabbelende watervoor, af na die huis toe waar die verbyheid van alles vir my wag, na die venster toe met die opskuifraam waar ek vir die heel eerste keer iets van verlies begin verstaan het.

Foto's: Gerhard Uys

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top