Mooi Berta

  • 2

Foto: Canva.com

Mooi Berta

Baie jare gelede, toe die samelewing nog behoudend was, soos verkramptheid eufemisties genoem was, het Mooi Berta opgesmuk en opgewek vir die eerste klas van haar eerste jaar op universiteit opgedaag. Haar rok was hemelsblou en haar skoeisel ook. Wat die oë egter laat rek het, was die ooglede se blousel wat met ’n swaar hand aangesit is. Die verrassende effek van al die blou was egter die treffendheid waarmee dit die viooltjieblou oë gekomplementeer het. Die effek was gedramatiseer deur lang swart vals wimpers en ’n bloedrooi mond. Die ingetekende moesie op haar bolip was effektief en mooi teen die agtergrond van die perskegloed van haar skone vel.

Die ander eerstejaars waarby sy aangesluit het, was ’n kategoriseerbare mengsel. Daar was een kliek en ’n klomp individue.

Die kliek het om die formidabele persoonlikheid van Ina gesentreer. Die ongegrimeerde, ernstige prokureursdogter. Haar pa was ’n behoudende kêrel op ’n nabygeleë groterige dorp. Haar kliek was saamgestel uit ’n viertal meisies en al vyf van hulle het aan dieselfde hoërskool gematrikuleer. Nodeloos om te sê, Mooi Berta se verskyning het ’n opskudding in die kleine onder hulle veroorsaak.

Die mansstudente, wat saam rondgestaan en geginnegaap het, het haar onderlangs en effe terughoudend bestudeer.

Mooi Berta het die situasie goed opgesom. Die mans het haar uit die staanspoor uit verveel. Te skroomvallig, het sy gedink. Maar haar vroulike intuïsie het haar gewaarsku teen die kliek. Nie dat sy veel intuïsie nodig gehad het nie. Die kyke en saggiespraat van Ina en Kie was darem baie opsigtelik teen haar gemik! Sy het haar handsak, van blou kunsleer, op die muurtjie agter haar neergesit en omgedraai en haar slanke arms oor haar welbedeelde borste gekruis. Die opgewektheid van vroeër het in veglustigheid verander.

Ondanks die lae punt wat sy aan die mansstudente toegeken het, het sy haar dit tog laat welgeval toe ’n paar nader staan om kennis te maak. Hulle groet-kwinkslae was veral maar flou gewees:

“Haai, hallo! Hou van die grimering,” het die eerste een gesê, ’n rankerige kêrel met ’n goedversorgde haredos.

Hy is gevolg deur nog drie ander wat moed bymekaargeskraap het nadat nommer een die ys gebreek het. Dit was sommer ’n gekorswel toe sy omring deur die vier manne daar rug teen die muur gestaan het. Hulle het niks agtergekom nie, maar haar aandag was baie tersluiks by die kliek skuins oorkant haar. Die leidster van die kliek het elke keer wanneer hulle oë ontmoet het haar arms voor haar gekruis en weggekyk. Sy’t haar verbeel een van die muise saam met haar het ’n keer die woord “flerrie” gebruik.

Tyd vir openlike vyandigheid was daar nie. Die eerste lesing sou terstond begin. Die mans en die ander vroue het in ’n trop by die lesinglokaal se ingang ingebondel. Mooi Berta het gevolg. Terwyl sy strak voor haar uit gekyk het, het sy ook die lesinglokaal binnegestap. Die studente het die lokaal halfvol gemaak. Soos kerkgangers van die ou skool het die meerderheid meegeding om die agterste sitplekke, waar jy tradisioneel teen die aandag van die prediker of onderwyser beskut was.

Mooi Berta het nie sulke vrese gekoester nie. Sy’t onverwyld by die eerste ry stoele ingeskuif en in die middel gaan sit. Op haar hakke het die kliek gevolg en netjies by die ry agter haar ingeskuif en reg agter haar gaan sit.

Aanvanklik was dit ’n gefluister en ’n gegiggel, wat Mooi Berta moes verduur.

Die aankoms van die rooigesig professor, met sy bos grys hare, het die gekonkel nie gestop nie. Die professor was nie gewoond aan ’n steurende eerste eerstejaarsklas nie. Die bloedjies het immers op daardie tydstip van hul akademiese loopbane uit ’n gereglementeerde omgewing gekom en dit het hulle gewoonlik ’n semester of twee geneem om te besef dat formele daaglikse huiswerk en leerdwang nie deel van ’n universiteitskurrikulum was nie.  Hy’t daarom gesteurd opgekyk toe Ina, na ’n onderlinge beraadslaging, vooroor geleun en ’n nota aan die meisie met die blou rok reg voor haar oorhandig het.

Met een oog op die professor het Mooi Berta die nota geneem en dit eers onder die tafel gehou tot die professor weer aan die gang gekom het. Toe het sy die nota oopgevou en gelees: Hallo, het jy baie kêrels?

Die nota was geskryf in ’n gelykmatige handskrif, sonder dromerige krulle, of ’n temperamentele afruk van lyne: Die handskrif van ’n verbeeldinglose, intens onderdrukte siel – Ina. Sy, sonder grimering, met rondepuntskoene, romp goed halfpad onder die knie, en geen wegsny van die bloese onder die hals nie.

 

Natuurlik het Mooi Berta se lees van die nota tot verhoogde onrus onder die kliek gelei. Maar hulle het Mooi Berta se kennis van die adolessent en haar vroulike lis onderskat.

Die professor het ’n stapel presensielyste en inligtingstukke begin uitdeel en sy het net gewag totdat hy by die agterste ry was. Toe het sy die nota teen haar vol rooigeverfde lippe gedruk en seker gemaak dat die afdruk op die wit papier helder was. Vervolgens het sy onderaan geskryf: Nee, ek verkies vrouegeselskap. Die briefie het sy in twee gevou, omgedraai en dit met ’n oogknip aan Ina terugbesorg.

Vir ’n minuut of twee was dit stil agter haar. Die geredigeerde nota het van hand verwissel. Daar was ’n gehyg en die yl klankies van ingehoue lagbuie en uitroepies.

“Nou, dis al vir die dag,” het die professor – terug agter die podium – gesê.

Mooi Berta het rustig bly sit en in haar handsak gevroetel. Nie so onder die kliek nie!

Hulle het raserig opgestaan.

“Hoekom raak jy so aan my?” het die klieklid naaste aan die uitgang by die ry stoele geïrriteerd geneul toe die vlugtende vier agter haar teen haar aandu. So is hulle al giggelend en stampend en stotend by die lesinglokaal uit.

Mooi Berta, haar ou stralende self, was laaste om die lesinglokaal te verlaat – net voor die professor, wat eers sy tas moes pak. By die deur het sy haar lang wimpers vir hom gefladder en mooi geglimlag en sy ou hart bly gemaak.

Dit was die laaste lesing voor etenstyd. Studente en dosente het hulle uit die voete gemaak na die kampusrestourant en koshuis-eetsale toe. Haar skoenhakke het hol weerklink op die linoleum-teëls. By die hoofgebou het sy uitgestap.

Dit was ’n dag waarna sy uitgesien het, maar dit was nie ’n aangename ervaring nie. Haar oë het effens begin brand. By die bushalte het sy haar eenkant van die ander studente gehou wat daar staan en wag het. In die bus het sy deur die venster gestaar na die verbyvlietende stadstonele. Sy was meteens onseker van haarself, veral oor die ontvangs wat sy te wagte kon wees wanneer sy in weer in die kafee arriveer.

In die sentrale deel van die stad het sy afgeklim en afgemete van straathoek tot straathoek gestap. Die Waldorfkafee was haar bestemming.

“Pappa!” het sy geroep toe sy die skemerige binneste van die kafee binnestap.

Die kafee het ’n restourant-afdeling gehad, maar ook wegneemetes en kruideniersware verkoop. Die twee verkoopsdames agter die glas toonbank met aartappelskyfies, wors, pap, en so meer het vraend na haar gekyk.

“Is Pappa hier, Engela?” het sy aan die een gevra.

“Meneer sit daar binne,” het Engela geantwoord.

In die deur van die restourant het sy gestop en na die bonkige figuur by een van die tafels in die hoek, langs die groot muur-tot-dak-glasvenster gekyk. Sy’t meteens selfbewus en onseker gevoel. Toe het sy diep asemgehaal en na hom toe gestap. Skuins agter hom het sy gestop, haar hand op sy een skouer gesit en hom vlugtig op die slaap gesoen. Daarna het sy oorkant hom gaan sit.

Hy was besig om die koerant te lees. Vir ’n oomblik het hy nie opgekyk nie. Uiteindelik het hy die koerant met ’n sug neergesit en haar ondersoekend bekyk. Sy oë was donkerbruin en skerp. Die gesig reeds tekenend van ’n sestigjarige, met diep kepe in die wange.

“Kyk na jou …” het hy byna ingedagte gesê, amper asof hy met iemand anders gesels het. “Jy’s ’n mooi spektakel!”

“Pappa …” het sy begin en haar oë het weer gebrand.

“’n Spektakel …” het hy fluisterend herhaal.

“Mamma sou daarvan gehou het, nè, Pappa?”

“Ek weet sy sou van so ’n gedoente gehou het,” het hy meteens met bitterheid in sy stem gesê, terwyl hy deur die venster die verte in gestaar het. En toe weer: “Ja, waar sy nou ook al te vinde is, sy sou van jou so gehou het …”

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top