Mond uitspoel vanuit Korea

  • 0

Die tyd vlieg. Of die mens se siel altyd in staat is om by te bly, wonder ek soms. Myne is dalk nog in die Vrystaat. Of op 'n stadige skip hierheen. Byt vas, ek is amper daar!

Korea se somerblik en herinneringe aan verlede jaar se humiditeit, weeklange reënbuie en muskiete krap aan my agterkop. Dis maar 'n nat besigheid die kant. Tog opwindend. Groen, groener en groenste. En dis amper perske-tyd. Blatjangmaaktyd. Koreaanse verenigde vrugtevlieë verlustig julself!

Die jaar is anders. Goed anders. En sleg anders. 'n Tweede jaar van Engels leer vir klein verveelde mensies wat buite wil speel.

Oor my werk wil ek niks sê nie. Behalwe dat werk werk is.

Dis gevaarlik om werk en lewe te verwar. Ek lewe. En dan werk ek ook. In daai volgorde.
Ek herinner myself gereeld hieraan. Ek probeer.

Ek verlang na my taal. Meer as enigiets anders. Taal en karakter is eenmaal onlosmaaklik aan mekaar geweef, nie? Ek voel apaties en hard. My mond is droog. 'n Spens sonder 'n venster.

Soms vang ek myself uit. Ek dink in Engels. Ek haat dit. En praat hard met myself daarna.

Ek bak mooi broodjies met 'n emosionele woordeskat wat gou sy plafon bereik. Ek vertaal grappe tot elke greintjie humor deur 'n bek vol tande val. En maak verskonings dat dit net nie dieselfde is nie. Dit is net nie dieselfde nie. Ek praat en bedoel niks. Bolle rol. Dis 'n blerrie gevrekte spul eintlik. Sonder hare en senings. Geen opregte harde g's en f'e nie.

Te ordentlik. Te sag. 

My hele wese smag na lang gesels op 'n stoep. 'n Stoep! Met 'n hartsvriend. Daarmee saam 'n bier wat soos bier proe en 'n sigaret wat soos 'n sigaret proe. En 'n uitsig van 'n klein stukkie tamboekiegras.

Ek mis regte mense. My mense. Eerliker, harder mense. Die wat weet die lewe is ernstig genoeg. Wat nie vol stront is nie. Nie giggel nie. En nie preek nie.

Is daar werklik 'n verskil tussen alleenwees en eensaamwees? Ek hoop so. Dalk skuil eensaamheid maar altyd agter alleenwees. Op sy merke.

Maar alleenwees leer waardering. Waardering vir die vanselfsprekendes tuis.

Taal. Mense. Wees. Lag uit die maag.

Luke Gertenbach (Groenapie)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top