Molshoop transformeer na berg – Ashwin-sage

  • 2

Ashwin vererg hom bloedig en stap van die stel af.  Ek het drie keer terug geblaai en kon nie agterkom waaroor Ashwin so onthuts was nie.  Daar kan net een verklaring wees – dis soos padwoede; frustrasie bou op en uiteindelik is ’n onbeduidende insidentjie die oorsaak van ’n helse uitbarsting.

Ek het eendag by die werk gesien hoe een ou ’n ander een – die een was ’n projekbestuurder en die ander een ’n ingenieur –  met ’n klomp lêers gooi.  Daar het niks (wel, nie veel nie) van gekom nie want albei was wit.  ’n Paar maande later, na ’n hewige bekgeveg, het een vrou ’n ander een – die een was ’n bourekenaar en die ander ’n finansiesklerk –  geklap en daar het ook nie veel van gekom nie want albei was swart. 

In beide gevalle het die een nie veel ooghare vir die ander gehad nie en hierdie uitbarstings was maar die gevolg van jarelange irritasie.  Dis normaal, dis doodnormaal dat sekere mense nie van andere hou nie ongeag ras, kleur, geloof, geslag of oriëntasie. 

Dit is ook doodnormaal dat mense wat wel van mekaar hou ook stry kan kry.  Trouens, daar’s ’n Tswana-spreekwoord wat sê jou vriend is nie ’n vriend in die ware sin van die woord as julle nog nie baklei het nie (nou nie noodwendig fisies nie).  Dit maak sin; waar goeie vriende, soos broers en susters byvoorbeeld, mekaar kan invlieg sal, ten opsigte van vreemdelinge, mens ordentlikheidshalwe terughou.

As Ashwin wit was, of as Naas en Nick swart was, wat sou Ashwin gesê het om sy frustrasie te kenne te gee?  Dalk “julle dink omdat julle pa pastoor is julle kan julle gewig rondgooi” of “julle dink omdat julle ouer is julle weet meer van rugby as ek” of so iets maar apartheid en dus, ras sou nie ter sprake gewees het nie.  Waarnemers sou dit sien as ’n gewone onderonsie.               

Ashwin het egter 'n  rassekleur daaraan gegee met sy verwysing na apartheid en, in ’n besprekingsprogram op RSG die Maandag daarna, het Bettina Wyngaard, Heinrich Wyngaard en ’n ene Boesak dit bekragtig.  “Ons voel ook so,” het die een na die ander op Anita se vraag geantwoord.  Dit is verder bekragtig deur die minister van sport , ander swartes en ander liberales; die minister eis skoon dat Naas en Nick in die pad gesteek moet word.

Die gevolg hiervan is dat geen witte in Suid-Afrika ooit normaal teenoor ‘n swarte (dit sluit in bruin en Asiaat om nou Bettina se definisie te gebruik) sal kan optree nie.  Wittes sal altyd op eiers moet loop, geen grappies, geen poetsbakkery, niks nie en polarisasie sal net meer en meer manifesteer.  Eintlik is dat alreeds so, dit het in ’94 begin en word net erger soos die tyd aangaan. 

Dis nogal jammer.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top