Molopo

  • 0

Sy sit onder 'n matloppieboom en staar na die lae swarthaak- en sekelbosruigtes voor haar. Van duisende koringkrieke wat in hulle takkies rondklim en skril en eentonig skree, bewe die bossies. Sy skud haar hare ongeduldig agteroor. Dawid kom nie, hy bel nie, skryf nie. Dit is 'n voldonge feit wat sy moet aanvaar.

Sy was so verskriklik lief vir hom. Sy het nie gedink daar kon ooit iets tussen hulle verkeerd gaan nie. Toe gebeur dit. Hy wil in die Soedan gaan praktiseer, daar waar sy ouers sendelinge is, daar waar ‘n nimmereindigende stryd tussen Christen- en Islamgelowe woed.

“Die sendelinge het my nodig, Sandra. Hulle het met groot moeite geld bymekaargemaak om my te laat leer.”

“Ek gaan nie saam met jou Soedan toe nie.”  Verbete.

“Sandra, ons trou Desember. Jy kan nie agterbly nie.”

Sy is dodelik ernstig. “Dawid, my ma het al haar belangstellings prysgegee om met my pa in die Molopo te gaan woon. Sy was skreiend ongelukkig daar. Oor die ongediertes, die slange, die eensaamheid. Nou, na al die jare, my pa verlaat. Nee Dawid. Ek gaan nie die geskiedenis herhaal nie. Ek gaan nie in die bosse woon nie.”

“Ek gaan nie bosse toe nie, my lief, ek gaan in ‘n hospitaal werk.”

“Dis ver, dis Afrika.”

Geredekawel sonder ophou, al kwater. Na die eindeksamens stomend van woede uitmekaar; die huwelik gekanselleer. Hy na die Soedan.

Sy terug na haar pa in die Molopo. Sy kry hom in ‘n toestand, “Ek kan nie sonder julle ma nie,” weeklaag hy.

“Ma moes Pa lankal gelos het.”

Geskok: “Gee jy nie om nie, Sandra?”

“Nee, want jý wou nie hoor nie, Pa. Jy was doof vir haar begeertes.” Bitsig – sy stik in haar eie verdriet.

Dis sweetwarm onder die laken toe sy die volgende oggend daar in die Molopo  wakkerword. Die lugreëlaar beur teen die hitte, maar steeds kleef haar hemp aan haar lyf.

“Pa kon lankal hier opgepak en iewers anders gaan boer het,” verwyt sy hom.

“Dis my erfgrond, Sandra. Beesboerdery is al wat ek ken. Ek het van kleinsaf bygestaan as die beeste gemerk en onthoring word. Kleintyd toe ek nog polisieman wou word sodat ek, soos hulle in daardie tyd gemaak het, op ‘n kameel se rug te ry. Kleintyd toe ek by die vendusiekrale histeries van angs was dat die tampans my gaan opvreet.”

Hy het daar in die woestynklimaat grootgeword, ouer geword. Dit ook beleef toe elektriese bore vir die eerste keer deur die diep ondergrondse klipbanke kerf om strome lewegewende water oop te breek.

“Ek kan mos nie hier weggaan nie, Sandra-kind.”

Sy verstaan, maar sy weet ook hoeveel haar ma moes prysgee; hoe eensaam sy hier was. Sy wat Sandra is, sou haar lewe beter beplan. Tot sy toe juis gaan lief word vir die een man wat Soedan toe wil gaan.

 “As jy vir haar regtig lief was, sou jy lankal op ‘n ander plek gaan boer het,” hou sy vol.  

Hy kyk haar seergemaak aan. “Sandra? Het jy dan nou hard geword, my kind?”

“Pa, kyk hoe sit ek en jy nou hier, tussen die haak-en-steek en sekelbosse, alleen, en lelik van verdriet. Wie moet ons bedank? Net onsself."

“Ek ken geen ander boerdery nie,”

“Dan is dit tyd vir leer, Pa.”

Hy sit sy grond in die mark en bel sy vrou, Susan, maar sy sê sy sal nie terugkom voor die grond nie finaal verkoop is nie, want verniet gaan sy nie terugkom nie. Sandra bly voorlopig by haar pa. Eintlik omdat sy bly kleef aan die hoop dat Dawid haar hier in die Molopogebied sal kom soek. Waar anders?

Sy besef al meer hoe diep verbonde sy sélf ook aan hierdie bar sandwêreld is. Dis ondenkbaar hoe haar pa moet voel, maar hy kry sy Susan terug. Vir haar, Sandra, is daar niks. Sy sal uit haar verdriet klim, maar die spore daarvan, weet sy, sal soos ‘n nuwe geen diep in haar samestelling bly nawerk.

Die laaste nag in die Molopo, kyk sy na ‘n wit maan agter die kameeldoringbome. Die tokkelende gedreun van die kragpomp gaan skielik af en dis eensklaps grafstil. Sy gee haar oor aan die onafwendbare, maar sy is tot brekens toe hartseer. ‘n Droë kameeldoring strek krom vingers teen die naghemel uit asof in ‘n laaste bewende smeekgebed saam met haar.

Die volgende môre, toe die son tussen lang skaduwees deur, blinkwit aan die sandriwwe raps, is hulle al ver op pad. Toe hulle teen die Setlagolielaagte afsak, is daar meteens ‘n see water voor hulle. Dit het hoër teen die rivier op gestortreën en die water het hier in die kom opgedam. Voertuie het van die vorige aand af al aan albei kante opgedam. Die mense het vuurtjies gepak en gesellig peuselgoed uitgeruil. Nou het die water al baie gesak. Groepies mense, kroeserig van honger en min slaap, staan en kyk hoe ‘n waaghals inloop om die diepte te toets. Een na die ander groot voertuig waag dit stadig deur. ‘n Bekende waai in die verbygaan, kom dan weer terug. “Oom, daar was ‘n man wat na julle verneem het. Ek dink hy het teruggery want ek het vir hom gesê julle trek is gister al verby. So ‘n rooikop jongman in ‘n geel kewertjie.”

Haar hart gee ‘n ruk. Sy wil lag van futiele hoop en huil van teleurstelling. “Paaa!”

“Wat is dit tog, my kind? Wat is dit met jou, Sandra?”

Sy antwoord nie. Sy kyk teen die oggendson in. ‘n Ou geel Volksie is van die ander kant af die water in. Daar is drama want die klein karretjie begin wegspoel. Daar is mans wat in die water spring en met hande en lywe keer en vashou, en iemand wat ‘n tou ingooi. Toe die motortjie uiteindelik, glyend, snorkend en bemodderd teen die duskantse skuinste uitbeur, kan Sandra die rooikopman agter die stuur beter sien. Sy staan sprakeloos met trane wat oor haar wange rol.

Dawid spring uit en kry haar in sy arms beet. “Ek het so gesoek, ek het nie jou Molopo-adres nie, en toe ek dit uiteindelik kry, fluit die foon van onbewoon.”

“Dawid! Die bome het saam met my gebid, en hier is jy nou!”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top