
Grafiese ontwerp: Die Baxter
Die teaterproduksie van Moffie, die verwerking van die gelyknamige boek deur André Carl van der Merwe, is tans by die Baxter-teater op die planke.
In die produksie word die storie van Nicholas vertel, ’n jong Suid-Afrikaanse man in die jare van konskripsie tydens die grensoorlog. Nicholas is jonk, sukkel met sy identiteit as ’n gay man en probeer ’n ruimte binne die weermag vind waar hy aanvaarding kan vind.
David Viviers vertolk die rol van Nicholas en uit die staanspoor vang hy die gehoor vas met sy woorde en bewegings op die verhoog. Die verhoogruimte word net met die tradisionele weermagsakke uitgerus en die strak ruimte beklemtoon die eensaamheid van die jong soldaat.
Verskeie kwessies word in hierdie produksie ondersoek, soos die verhoudings tussen pa’s en seuns, gay-identiteit, selfmoord en mishandeling. Dit is ’n gestroopte vertelling van die gesukkel van die jong man wat “sensitief” is, wat moet veg om oorlewing in die harde wêreld van die weermag, waar woorde soos moffie gebruik word as dreigement, sowel as belediging.
Daar word gekyk na die Afrikanerfamilie en die teenstelling met Engelse families – elk met hul eie probleme binne die gesin. Die spanning tussen Afrikaans en Engels kom deurentyd na vore wanneer Nicholas in die weermag is; die Engelse soldate word verneder en uitgesonder. Die kyker is deurgaans bewus van die woorde wat gebruik word om haat en verdeeldheid te smee, deur die gebruik van moffie en rooinekke en ander soortgelyke terme.
Viviers hanteer die vertelling op briljante wyse. Hy is deurgaans alleen op die verhoog, maar gee gestalte aan die ander figure deur sy woorde. Dit gee uiting aan die eensaamheid van gay mans in die weermag: Hulle herken die ander gay mans wat om hulle is, maar daar mag geen verwoording daarvan wees nie, uit vrees vir die nagevolge. Tog vind die jong mans berusting in mekaar in die onuitgespreekte erkenning dat hulle veilig by mekaar is.
Daar kom etlike oomblikke voor waar daar gewys word hoe die mees kwesbare dinge in die omgewing nie kan oorleef nie – ’n springbok word geskiet en haar baba word uit haar gehaal, maar kan nie oorleef nie; ’n onskuldige vrou word deur soldate geskiet. Na die vertelling van hierdie en ander voorvalle, som die verteller dit als in een reël op: “Nothing gentle can survive here.” Uiteindelik sien die gehoor hoe die jong soldate verskeie paaie volg in die soeke na oorlewing, en hoe sommiges gebreek word.
Die produksie is ’n bekwame aanpassing van die boek, wat die belangrike oomblikke vasvang om die gehoor vir net oor die 80 minute te boei. Viviers is uitstekend en skep die ruimte van onthou, hartseer en die besef van ’n stilte wat so baie dinge in die verlede verswyg het.
Moffie word in Engels opgevoer en is tot 27 September 2025 by die Baxter te sien.
Moffie
Met: David Viviers
Deur: Vir die verhoog aangepas deur Philip Rademeyer. Gebaseer op die boek deur André Carl van der Merwe
Regie: Greg Karvellas
Ontwerp: Niall Griffin
Klankontwerp: Charl-Johan Lingenfelder
85 minute
Ouderdomsbeperking: PG16
Baxter Flipside, Kaapstad
2 September 2025 – 27 September 2025
Kaartjies R150–R240 deur Webtickets

