
Geagte kelners en kelnerinne
Ek weet ek is ’n donnerse oom. Die Louis Vuitton-sakke onder my oge gil dit elke oggend luidkeels vir my wanneer ek my tande borsel.
As ek na ’n restaurant gaan, is dit dus volledig onnodig om my verder daaraan te herinner deur my “oom” te noem.
Ek weet.
Ek het agtergekom ek is ’n oom.
My gekreun as ek by my lae kar in- en uitklim, maak dit duidelik.
Die spasies tussen die foto's van myself, waarvan ek nog nooit gehou het nie – soos Coenie of Lukas gesing het – is eweneens genoeg. In elke foto is die Louis Vuitton meer opvallend en het ek meer “real estate” op my skedel wat nie bedek is nie.
Moet my dus nie “oom” noem nie, behalwe as ons familie is.
Eerder “meneer”.
Om hierdie rede verkies ek swart kelners. Hulle noem my nie “uncle” nie en ook nie vir Vroulief “magogo” nie. Hulle amper onwillekeurige getik met die een hand op die ander arm, as ’n teken van respek aan oues van dae in hulle kultuur, wanneer hulle die rekening bring, is baie meer subtiel.
Noem my “oom” en jou fooitjie word met 25% verminder.
Anton B


Kommentaar
Ag nee, Anton, jy's te swaar op jouself en die kelners. Ons het vanoggend ontbyt geëet by my geliefkoosde Nature's Way naby Nature's Valley. Daar is die gaafste kelners wat mens behoedsaam meneer en mevrou tot hulle agter kom ons is eintlik 'n oom en 'n antie en dan heerlik saamgesels. Wat 'n oplugting na Pretoria waar Afrikaans omtrent 'n rariteit is.
Ek wil vra dat julle my asseblief Oom moet noem. In ons land beteken dit dat ons mekaar aanvaar. Toe daar in die 1990's vir die eerste keer beduidende getalle Bruin voorgraadse studente op ons kampus in Stellenbosch te siene was en ek as rektor anoniem te voet op die Rooiplein of langs Victoriastraat op pad was, het die onkundige "Oom" waarmee ek deur vele van hulle begroet is, vir my gesê dat daardie ouer wit man vir hulle 'n vanselfsprekende deel van Matieland was. En dat hulle hulself as deel van daardie instelling gevoel het. Dit was lekker.
Die realiteit van lewe...
"Wat 'n oplugting na Pretoria waar Afrikaans omtrent 'n rariteit is."
Ag nee, antie Monica, watse "sweeping statement" is dit? Rariteit nogals.
Hans, miskien sal Anton B "ou ballie" meer aanvaarbaar vind?