Moedertaalonderrig is ’n mensereg

  • 1

Die (bruin) gemeenskap in die Katriviervallei buite Fort Beaufort is platgeslaan omdat hul enigste Afrikaanse skool in dié omgewing binnekort moet sluit en hulle by die nuutgeboude Xhosatalige skool ingelyf moet word.

Die skoolhoof van die Primêre Skool Hertzog, mnr Anthony Venter, die personeel, die 120 Afrikaanssprekende leerders en die hoofsaaklik arm gemeenskap sit in sak en as.

Dit is nadat die Oos-Kaapse Onderwysdepartement (OKOD) opdrag gegee het dat skole met minder as 135 leerders met hul naaste groter skool moet saamsmelt.

Foto: Pixabay.com

Indien die inlywing wel gebeur, sal die leerders voortaan in Engels onderrig word.

Dié uitdaging wat veral skole op verafgeleë plattelandse gebiede raak, is nie net tot die Oos-Kaap beperk nie. Dit is ’n landwye vraagstuk wat onmiddellik aandag verg.

Volgens ’n onderwysstudie deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge is meer as 2 388 skole sedert 2000 landwyd gesluit: meer as 590 in die Oos-Kaap, 1 116 in die Vrystaat, 648 in Noordwes, 215 in Mpumalanga, 173 in Limpopo, 111 in die Noord-Kaap en 49 in die Wes-Kaap.

Die Wes-Kaapse regering se planne om nog 28 skole te sluit, kry sterk teenstand vanuit die gemeenskappe wat daardeur geraak word.

Baie van die skole, volgens dié studie, het gesluit as gevolg van toenemende migrasie van plattelandse gebiede na stede en groot dorpe. Die skaarste aan werksgeleenthede op plattelandse gebiede speel ook ’n rol.

Die gebrek aan die nodige hulpbronne by baie voormalige bruin en swart skole speel ook ’n rol. Ouers word dus gedwing om hul kinders ten duurste by voormalige model C-skole in te skryf.

Wat staan gemeenskappe egter nou te doen?

Vir Hertzog word die antwoord gedeeltelik opgesluit in die reaksie van die OKOD se woordvoerder, mnr Loyiso Pulumani, in Die Burger.

“Venter moenie moed verloor nie, want ’n finale besluit is nie geneem nie. As die ouers en die beheerliggaam saamstaan en hul saak sterk genoeg stel, is daar beslis nog hoop.”

Bykomend moet gemeenskappe die politiek vermy en liewer fokus op ’n gemeenskaplike vertrekpunt wat almal regoor etniese, ras- en politieke grense kan saambind.

Die reg op moedertaalonderrig moet die vertrekpunt wees, want Engels is nie net ’n vreemde Germaanse taal vir baie plattelandse leerders nie; armoede is ook ’n uitdaging.

Alles kan mos nie net Engels wees nie, veral gegewe die feit dat slegs 9% van ons bevolking Engels as huistaal beoefen.

Internasionale studies het bewys dat moedertaalonderrig van kardinale belang is in die ontwikkelingsfase van ’n kind. Dit stel die kind in staat om belangrike konsepte in die moedertaal onder die knie te kry.

Volgens navorsing kan ’n kind slegs ’n tweede taal reg aanleer wanneer hy of sy ’n goeie begrip van sy of haar moedertaal het. Vakterminologie in ’n ander taal as die huistaal het slegs ’n klankwaarde en moet eers na die huistaal herlei word om ’n werktuig te word.

Waar moedertaalonderrig te kort skiet, word leerders tot Engelse middelmatigheid verdoem.

Moedertaalonderrig is ’n mensereg en moet, waar moontlik, toegepas word. Indien nie, sal ’n maatskaplike ramp ons voorland wees.

  • 1

Kommentaar

  • Jason, dis mos nou nie 'n probleem nie.  Dit het al in die verlede gebeur, BAIE, en gebeur nog steeds, dat leerdertjies by Afrikaanse skole opdaag en aandring om in Engels onderrig te word; hulle beroep hulle op een of ander bepaling in die Grondwet en dan word dit so gedoen, hulle kry hulle onderrig in Engels.  Dieselfde reg moet mos nou ook geld vir die Afrikaanssprekende kinders wat by 'n anderstalige skool ingelyf gaan word, of hoe?  Die Grondwet geld mos vir almal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top