Moedersdag
Op hierdie dun en windverslete moedersdag
vat ek jou vir ’n regte cappuccino
met baie room
en gee vir jou badolie
teen die brandseer koue –
jy’s nie pepiekel teen dié lewe nie
nee jou vel is te dun
Ek onthou in graad een
het ek vir jou
’n bossie sydissels gepluk
jy’t gesê dis die mooiste ruiker
die pers onkruidblomme in ’n vaas gesit
en moedersdag
se opslaggeluk geskilder
Om dan weer te kniel
by die altaarblomme van my verlede
jou te sien kniel by die antrasietstoof
van my jeug, vlamme in die reënboogglas
en nog ’n kaart te maak:
die blom in my Bybel met Dicifix te verseël
want tyd vervaag soos ’n wasige blom
Ek dink jy verstaan
ek’t nie ’n kind nie
ook die duiwe wat soos ontbytnonne
opgetof sit op die dak
ek’t nie ’n kind nie
ek dink jy verstaan
soos die kiewiet se windeier in die gras
Ek dink jy verstaan
soos die kiewiet se windeier in die gras
![]() |



