Moddergat se klein Moses

  • 4

Foto: Unsplash.com

Hierdie lieflike, aanhoudende reën laat my dink aan ’n vervloë tyd – toe ek nog jonk was, daar in die sestigerjare van die vorige millennium.

Ek het tuinwerk gehaat. Die sweet wat prikkel as dit langs my nek afloop en my eie liggaamsout wat in my oë brand. Maar Ma het gesê en Pa het ge-amen. Die beddings sal uitgespit word, die grond ordentlik gesif word en daarna met kompos gemeng word. En voor sonsondergang sal alles weer terugesit word in die lang, breë, diep gat. Harde werk vir ’n klein mannetjie. Maar Pa het al weggespring dié oggend en die pad vorentoe is vir my uitgewys. Vir dié soort werk is die naweek al tyd wat Pa het.

Die hele dag deur word alle moontlike excuses opgebruik. Die vreeslike druk op ’n mens se maag wat minstens ’n halfuur se skuiling in die toilet benodig. Die pleidooi om ’n jong lewe met nog ’n glas water te red, wat natuurlik net in die koelte van die kombuis beskikbaar is. Die buitengewone vraag na ’n jongman se dienste op ander plekke vir die geringste klein nuttigheid. Maar van al die gegroet vir ander gesinslede en uitvra oor hulle gesondheid en kwale, het Pa genoeg gehad. Sy harde uitroep laat my verstaan – die tronkstraf sal onmiddellik hervat moet word!

Vroeg die daaropvolgende Maandag begin dit te reën. Vir ’n week lank hou dit nie op nie. Teen Vrydag se kant is alles papsopnat en cabin fever loop hoog. Ons kinders is toegelaat om by die huis te bly, Ma en Pa is werk toe. Die hele dag lê voor en ons is baas van die plaas.

Suster, twee jaar ouer as ek, neem die leisels in haar hand. Ekself mik na dubbelsyfers en ons kleinboet wil graag oorleef om sy vyfde verjaarsdag vroeg volgende jaar te kan geniet. So terloops, om middelkind te wees is nie lekker nie – jy is nie die oudste nie en nog minder die favourite. Daarboonop dra ek ’n bril. Glad nie vandag se fashion-model nie. O nee, hierdie swaar glas headlights het ’n staal raam met oorstukke wat vasknyp en seermaak. Eensaammaker – die bril – en ek al een so vervloek in my standerd een-klas van twee-en-twintig seuns.

Maar terug na dié besondere Vrydag: Nie lank nie en ons word deur Grootsus aangesê om ons swempakke aan te trek – ons gaan in die reën stap. Sy wil, natuurlik, met haar nuwe kozzie vir enigiemand poseer, wel, eintlik vir enige jong man wat mag verbystap. Groot avontuur!

Ons pak die tuinroete aan, effe koud en almal met blou lippe wat so ’n bietjie bewe. Alles loop goed af totdat ons al drie terselfdertyd van die noue sementpaadjie gebruik wil maak. Aan die linkerkant struikel Kleinboet en met hande in die lug val hy in die bedding vas. Die fyngemaakte moeras, wat ek en Pa so noukeurig voorberei het, sluk die jong slagoffer in.

Ek kyk verbaas hoe Kleinboet in die fyn modder wegsak en Grootsus kyk hoe haar boetie stadig dieper in die stroop verdwyn. Snaaks hoe so ’n besondere gebeurtenis jou met bewondering sal laat stil staan. Die lewensgevaar tref ons ouer kinders skielik. Van Kleinboet is daar net ’n ronde, plat haarstuk en twee handjies wat nog uitsteek oor.

Ek spring in en saam met Sus trek ons aan Boeta se hande. Toe begin die paniek ons eers beetpak – die sjokolade-vormpie wil net nie uitkom nie! Dit verg saamtrek en sweet om sy klein liggaam na die kant toe te sleep. ’n Kind se verbeelding is groot en die implikasie van my broer se verdrinking oorheers my gedagtes daai dag. My ma se wraak is hoog op die lys van nagmerriemateriaal vir die toekoms. Maar nou moet ons saamwerk – tjoepstil moet ons almal bly en hoop dat die vrees elkeen se mond sal snoer.

Ek moes dié dag ordentlik verstaan dat modder, soos emaljeverf, sy stempel met geweld op alles vasdruk. Aai! Die arme seuntjie is toe met borsel en seep skoongeskrop. Dae daarna het Boeta gegloei met ’n pienkerige lig – Ma het gekyk, maar niks vermoed nie – dankie tog! En toe eindig ons avontuurtjie, te kort, maar baie opwindend.

Wees gewaarsku, julle wat ouers is – “speel buite!” meng maar sleg met modder!

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Justin vander Linkerhand

    Such are the memorable adventures of our young lives - the more thrilling if we were able to escape parental attention!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top