Sommige dae neem dit moeite om my deurmekaar te maak, maar vir die meeste ander dae, is dit eintlik heel eenvoudig. Die geleentheid wat my so verward soos ’n monnik by ’n vergadering van die Voortrekkerwegsekswerkersvakbond laat, geskied gewoonlik ’n kort tydjie net ná ek na die mense rondom my gekyk of geluister het. Daardie oomblik wat die kognitiewe grysstof hulself van die res van die wêreld onttrek en begin te woel en woeker met die gesigs- en/of gehoorresultate wat so pas by hulle in die dinkruimte geland het ...
Springbok-rugby sit op moed soek se vlakte. Op die draadloos het verspotte rugbykenners vanoggend tougestaan om elk hul insig en wysheid oor die tekort aan, of dan eerder die regverdige kleurverdeling vir speelgeleenthede met die rugby-ondersteuners te deel. Die ontleding wat hierdie kenners van die politieke rugby spel op ons as luisteraars se ore neergevel het, vertel van ’n geskiedenis wat nie werklik bestaan het nie en dat ons landjie uit sy nuut geborenheid slegs 21-jaar oud is!
In al hierdie jare het niemand enige pigment-bedeelde seuns leer rugby speel of tyd geskep om geleenthede vir ontwikkeling te vestig nie. Niemand het nuwe rugbyvelde by arm skole uitgelê en gevestig nie en niemand het kleiner as gewone rugbyballetjies aan klein swart seuntjies in plakkerskampe uitgedeel nie. Dit is eienaardig dat niemand ’n winsgeleentheid, in randwaarde of andersins, behalwe polities, in ’n belegging in sportontwikkeling vir hierdie seuntjies kon raaksien nie.
En daar’s ek weer verward, want weereens voel dit vir my of die genetiese beperktheid van my denkvermoë die oorhand kry en alles deesdae te veel van ’n stomme wetenskap geword het, met bevindinge en aannames wat na gelang van die gehoor aangepas kan word. So ook die spel wat ’n ontspanningsspansport behoort te wees wat die seuns moet geniet, maar eintlik net die manne leer drink.
Doer uit die dae van melkbaard, lang sake-etes en maklike krediet, het ek op ’n afstand die verloop van spelersontwikkeling ter plaatse dopgehou. Ek het gesien hoe ondernemings borgskaptjeks vir skolespanne uitskryf en onderrigleiers bevriend en trakteer word. Ek het gehoor hoe daar openlik verklaar word dat daar geen teenprestasie verwag word nie, maar ek het ook gesien hoe dit tog ’n heerlike verrassing is as die seun van een van die onderneming se aandeelhouers ’n plekkie in die eerstespan kry; as die seun merieteloos na streeksoefengroepe genooi word of tot teenaan en soms binne die deur van insluiting by ’n provinsiale span, sonder ondersteunende prestasie, vorder. En meer eienaardig, het ek hierdie sonde meer by die vaders en hul seuns, as by die dogters gewaar.
Seker nog ’n gevolg van testosteroon-afhanklikheidsversteuring?
Alhoewel geld moeiteloos opwaarts vloei, is dit juis die gebrek aan weerstand teen die sinneloosheid daarvan wat standaarde laat verkrummel en ’n lamgat toelaat om ’n werklik talentvolle speler uit die spel te hou. Foeitog, al hierdie ywer kom einde laaste ook tot niks.
Almal in hierdie ketting van sportontwikkeling is verloorders. Die sport het die geleentheid gehad om talent te ontwikkel, maar die mense het eerder die tyd in beslag geneem om geld te tel; die tjekskrywers se naïewe kinders se onrealistiese drome het nooit waar geword nie en die meeste van die spul loop die res van die lewe tegemoet met, “was amper-daar” as verskoning vir mislukking.
My bedryfsekonomie-onderwyser op hoërskool was vir menige klasmaat ’n komieklike karakter. Die seuns het graag vir Mnr Louw op die kadette-inspeksie se parade strepe getrek en in sy klas geslaap. Vir my was hy ’n gawe oom en behalwe dat hy my in standerd ses ’n paar keer goed pak gegee het en gereeld gestuur het om sy pyp en tabak in sy kantoor te gaan haal, onthou ek die lang vaal man se oplossing vir voortslepende inflasie woordeliks soos wat hy dit in een van die periodes met ons gedeel het ...“neem al die geld in die wêreld, elke gedrukte noot en gooi dit in die vuur. Verbrand al die geld en begin van voor af.”
Ek het nooit werklik die volle omvang van Mnr Louw se wysheid, of moontlike gebrek daaraan, bevraagteken nie, bloot omdat die idee om voor te begin nie in ons mondering bestaan het nie.
Moontlik was Mnr Louw reg en is dit tog ’n oplossing om terug te gaan. Terug te gaan na die gebruik om nie die tjekboeke en onthale en gratis vakansies in kuswoonstelle ensovoort in sport toe te laat nie. Om terug te gaan en die kinders in die parkies te laat bal skop en hardloop en speel, eerder as om hulle voortydig aan spesialis sport afrigting met té slim mense te onderwerp. Om terug te gaan en skole sport sports te maak; daai teruggaan ken nie kleur of ras of ’n bankrekening se status nie.
Ek sien die vingers en ja, my kinders is nie sportsterre nie. En nee, ek wil nie my verspeelde geleenthede in hul tyd herwin nie!
Alhoewel die een meer in sport belang stel as die ander, het beide ons seuns egter die afgodstrein na die sporthemel verpas en is hulle tevrede om te geniet wat hulle doen en te lewe. Want soos ek sonder enige toevalligheid vanoggend in die Handboek raakloop, ook dit, kom tot niks nie.
Sommiges sal kan mompel oor eenogigheid en veralgemening en dat die een persoon se waarheid, net ’n ander se kragtoertjie is.
In die geval van die einste Prediker, bevestig hy egter ’n ewige vermoede en sluit ek met erkenning hierdie skryfstuk graag af met: “Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid.”


Kommentaar
Dis ongelooflik om die praatjies van sportkommentators in SA en die in Australië beide te luister. SA se totale alles is deurdrenk met pateetpolitiek. Nou die aand se netbalvernedering aan die hand van die Australiese meisies maak dit net soveel meer duidelik, SA is verby en gaan nie weer opvang nie.
Met diepe meegevoel
Duitswester
Duitswester, jy stel dit bloot as 'n feit en sê nie hoekom nie.
George
Het jy nog nie agtergekom Duitswester staaf nooit sy stellings nie, verwag dat almal hom as alwys moet aanvaar en wanneer hy hom in 'n hoek bevind, dan verdwyn hy stilletjies druipstert.
Nog iets. Die man bly in Australië, maar kan net nie van sy wortels wegbly nie, al is dit net om almal in Suid-Afrika te kan slegsê wanneer hy die geleentheid het.