Daar is ’n paar mites waaraan die wat in ontkenning lewe vasklou as regverdiging vir die feit dat hulle gods water oor gods akker laat dawer:
Daar is wigtiger dinge as om oor Afrikaans te bekommer …
Twak. Soos wat byvoorbeeld? Buitendien, dis ’n non-stelling; dit is net so geldig of ongeldig as om te sê daar is wigtiger dinge om jouself oor te bekommer as i) die baba se brandboutjies ii) die reënwoud iii) die pap spaarband iv) aksentlose Engels v) enigiets want al hierdie goed is disjunk. Jy hoef niks in te boet om jou taal te handhaaf nie en, sou jy iets moet inboet, het jy of jou voorouers iewers fout gemaak.
Ek doen my besigheid in Engels maar droom in Afrikaans …
Twak. Mens droom of dink in elk geval nie in ’n taal nie. En as jy jou besigheid in Engels doen gaan jou Afrikaans verswak want jy gaan al hoe meer geneig wees om die Engelse terme in te span.
Jy wys hom jy's beter as hy as jy goed Engels praat …
Twak. Dit is net mooi andersom; jy is net besig om ’n selfopgelegde houthakkerstatus te versterk. Soos ek al voorheen gesê het, in ’n tweetalige gebied is die groep sprekers wat nie tweetalig is nie die dominante groep. Wie sal nou energie spandeer om ’n taal aan te leer wat jy nie nodig het nie?
Solank ons die taal praat sal hy bly lewe …
Twak. Ons praat reeds nie meer die taal nie. Luister maar na ’n inbelprogram soos Werksoek op RSG, of Ruilhoekie of so iets. Voor die voet praat die mense van "boilermaker", "welder", "rigger" ens. Nou die aand op Fiesta, nogal op ’n fees in Namibië, is daar omtrent nie ’n sanger (of kunstenaar soos hulle deesdae genoem word hoekom weet nugter) wat nie praat van "stage", "crowd", ens ens nie. Max, André en Antjie in Ons Mense praat van "abandon" in plaas van versaak en daar was nog ’n hele paar ander Engelse woorde wat ek nie nou onthou nie. Daar is omtrent nie ’n gas op die radio wat nie een of ander tyd sê "ek weet nou nie wat die Afrikaans hiervoor is nie maar …"
Jan Rap

